Briewe uit die binneland – ’n Boom is ’n saad wat vasgebyt het
Liewe Genoot
Ek is ’n bewonderaar van bome. Wat hulle uitasem, asem ek in. Die verhaal van suurstof en koolsuurgas. Of is daar meer?
Ek wonder of die skriba van die Ou Testament die implikasies besef het toe hy lank terug geskryf het dat die mens aangestel is om te heers oor die aarde, die plante, die diere en die see, en ook oor alles wat daarbo is. Sou dit wees omdat die mens kan dink?
Die Franse filosoof René Descartes het immers gesê: “I think, therefor I am.” Dit sou dan ook impliseer dat ons as beskermhere en -vroue vir al hierdie skeppinge en skepsels moet optree. Ook vir bome wie se kommunikasiestelsels so anders werk as ons s’n. Boonop proklameer hierdie majestueuse boomwesens ook nie hulle eiewaarde in woorde of in klanke nie en word daarom deur die mens uit wanbegrip as stom ervaar.
Maar ek het respek vir hierdie reuse wat soveel generasies van hul menseheersers meegemaak het. En hoeveel weet hulle nie oor ons nie? Daar is ontdek dat bome oor ’n fisieke intelligensie beskik; dat hulle ’n ingewikkelde netwerk van kommunikasie met mekaar onder ons voete bewerkstellig waarvan die mens salig onbewus is. Bome is boonop vriendelik met mekaar.
Ene Peter Wohlleben verduidelik in sy boek “The hidden life of trees” die sosiale netwerk van die boomryk toon ooreenstemmings met dié van menslike families. Hy baseer sy bevindings op wetenskaplike baanbrekerswerk en verduidelik dat boom-ouers veral noue kontak met hul kinders het, hulle ondersteun en met hulle kommunikeer terwyl hulle groei. Genoot, gun my dat ek vandag aan bome as vroulik dink.
Bome gee om vir mekaar. ’n Stomp wat al eeue tevore afgekap is, word via Moeder Aarde met suikers en ander voedingstowwe gevoer om haar aan die lewe te hou. Maar slegs enkele boomstompe word op hierdie manier gevoed en navorsers vermoed dat hierdie uitverkore stompe die ouers is van die bome in woude waar die verskynsel aangetref word.
’n Geliefde oudonderwyser van my, Meneer Fanie, met wie ek onlangs na baie jare weer kontak gemaak het, vertel my van ’n preek wat ’n vriend van hom met hom gedeel het. Daarin verweef hy sy verhaal oor bome met die Engelse idioom “to take a stand”. Dit gaan daaroor dat vele sade uit ’n volwasse boom voortspruit, maar bitter weinig van hierdie sade word later bome. Die meeste sade word weggewaai, opgevreet, verdor of eenvoudig weggespoel. Die saadjie wat oorleef, word “a tree that took a stand”. Indien jy as behorende tot die Homo sapiens-spesie “groot” geword het, dus, verby 60 jaar, is jý “a seed that took a stand”. Ons as die ouer geslag is heel moontlik uitgekies vir ’n bepaalde rede – en dit is nie om bloot te staan en wag dat die tyd verbygaan nie. Eerder dalk om koelte en skaduwee te gee en kennis aan ons jong lote deur te gee. . . As hulle net wil luister!
En nou dink ek daaraan: Ek is bevoorreg om in die skaduwee te sit van bome wat ek in my leeftyd geplant het. En ek is dankbaar daarvoor. Ek gaan hulle beslis nie oorleef nie, maar ander ná my gaan ook in hul koelte kan sit.
Genoot, ek is seker jy het al op pad Kaap toe deur Namakwaland gery en iewers ’n kokerboom gesien staan – soms godverlate alleen op die oop vlakte sonder enige ander boom in sig, wat nog te sê van ’n suster-kokerboom.
Enersyds wil my hart breek om haar so alleen te sien. Kan sy nog praat en hoor, of het sy doofstom geword van die alleenheid? Andersyds wil ek glo dat sy daar in die wydsheid heers as ’n juweel in die kroon van die skepping. Ek wil glo sy ken haar waarde.
– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie