Briewe uit die binneland – My voete loop Kaap toe maar my hart lê in Nam
Liewe Genoot
Ek en Manlief vat verlede week die pad Kaap toe ter wille van die Argus-fietstoer – Manlief – en twee podiumproduksies – die uwe – in die Boland. Stap gou bietjie saam.
Vir my gees is dit orgasmies om Tafelberg uit die deinserigheid te sien opdoem as ons die Kaap van Malmesbury se kant af benader. Dit maak oerdinge in my wakker.
Soos om my te wil voorstel hoe my Nederlandse voorvader moes gevoel het toe hy met sy seilskip in 1694 die berg aanskou het vanuit die branders suidwes van die vasteland – op pad na sy nuwe tuiste. Dié van die Kaap. En ek wonder hoe die hawe tóé gelyk het, en of die Kaap toe nog bebos en begras was. . . En of my oer-pappa die aand nádat hy geland het en veilig in sy kooi (in ’n tent of in die Kasteel) gelê het, teruggedink het aan Amsterdam. Soos wat ek as boorling van die Weskaap gedink het 45 jaar gelede toe ek op ’n winderige Sondagmiddag in Windhoek aangekom het om Suidwes my nuwe tuiste te maak.
En ek dink aan Totius se woorde: “Die Engelsman het sy Home, die Duitser sy Heimat, die Fransman la Patrie”, (klanke wat onuitspreeklike siels-emosies wek).
“En die Afrikaner? Hy trek. Is dit nie met sy voete nie, dan met sy gedagtes. Maar hy trék.”
Ek erken in myself die hunkering na heuwels wat wink, ’n paradys van bossies en grasveld, en daarbo die sterrehemel. . . na dit wat ek nog nie gesien het nie. En ek besef dat God ontsettend goed vir my is. Dat ek gesond is om steeds hierdie onrus te ervaar?
In die Kaap aangekom, pak ons af by ons kinders in Mowbray, slaap ’n nag oor in Stellenbosch by Hermi, my susterskind en haar man, Jacques. Mymerend om die braaivleisvuur vra ek vir Jacques of hy hou van sing, want hy het hierdie pragtige diep baritonstem.
Hermi giggel effens agter haar hand, en toe vertel Jacques die storie: Op skool moes hulle op ’n stadium oudisies doen vir die skoolkonsert. Hy, saam met ’n klompie ander skoolmaats maak toe nie die uitdunne nie, maar op ’n stadium het die konsert-onnie besef daar kort tog nóg ’n karakter. Dié van ’n haan wat kraai. En toe kraai Jacques die beste van almal, en hy kry die rol! Maar hulle het net sy stem gesoek. Nie sy lyf op die verhoog nie, en gelukkig hoef hy nie soos ’n hoenderhaan opgedollie te word nie; al wat hy moes doen, is om veilig agter die klavier weg te kruip en op die gegewe moment uit volle bors te kraai.
Genoot, dit is eintlik waarby ek vandag wou uitkom. Die ding dat elke mens sy nis het. Dit wat hy of sy kan doen. Jacques het sy merk gemaak. Nie op die verhoog nie, maar in die korporatiewe wêreld en hy sorg goed vir sy gesin. Maar behalwe dit, kan hy kraai as hy moet kraai.
Ek lê die nag ’n bietjie wakker omdat ek my eie klank moet doen vir my gedigteprogram die volgende dag op Rawsonville, die dorpie daar tussen die berge waar my Ma-goeters grootgeword het.
Die volgende dag gebeur, en die God is goed vir my. Ek druk die regte knoppe op – ongeveer – die regte tyd. Ek is dankbaar, en die mense het selfs vir my hande geklap en het nie voor die tyd uitgestap nie. Ek het my kraai gekraai.
Op hierdie Maandagoggend kort na ses groet ons ons Kaapse kinders. Manlief het sy Argus gister mooi klaargemaak. Dis tyd vir terugdraai. Ons ry oor die nek van die berg by Sir Lowrey’s Pas; dieselfde pad wat ek as student gery het aan die begin van die vakansie van Stellenbosch af na Bredasdorp in die Rúensveld waar my ouers gebly het. Vandag vat ons die pad terug Windhoek toe. Maar vroegaand gaan ek eers nog ’n paar versies opsê in George, en dan slaap ons as die God wil op De Rust vanaand. Genoot, dankie dat jy ’n stukkie pad saamgeloop het.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie