Briewe uit die binneland – My literêre susters, my inspirasie
Liewe Landgenote
Ek het dit verlede week gehad oor die pad wat Groot Verseboek in die Afrikaanse digkuns geloop het n.a.v. die uitgawes (vanaf die laat sestigerjare) wat ek in my besit gehad het. Die nuutste uitgawe, dié van 2024 se inligting het ek aanlyn gekry.
Opmerklik was dat bittermin vrouedigters se werke opgeneem is: die persentasie vrouedigters in die 1968-, 1975- en 2000-uitgawe is onderskeidelik 9%, 14% en 20% van die totale aantal digters wie se werke opgeneem is.
Nee, ek glo nie dat ons vroue minder goeie poësie as mans skryf nie. Dit het te make met die historiese gegewe dat mans in die publieke oog sal optree en dat vroue hulle daarin sal bystaan, en nie hulle plekke sal inneem nie.
’n Mens sou jou ook kon afvra of die aspek van tema ’n rol t.o.v. die statistiek sou kon speel. Hoewel beide geslagte (lees “genders”) oor dinge soos die liefde, die dood en die natuur dig, word hierdie onderwerpe vanuit verskillende perspektiewe deur die twee geslagte ervaar en bewoord.
Die poësie van die manne is dikwels gerig op ’n meer publieke sfeer, en gaan oor helde en die bomenslike, terwyl die poësie van vroue eerder die huislike en liggaamlike en sielkundige temas betrek.
Tilla Diedericks bewoord dit só in haar gedig getiteld, Huisvrou: “My blerrie plante groei /ál skeef, /neuk eenkant toe. /Ek troetel en praat /met hulle, /speel Bach ook; /help niks.” En in dieselfde gedig, kry die liggaam sy beurt: “Die are in my bene /rank pers soos bougainvillea /al in die rondte /en my hande swel van die hitte - /voete ook, / jissis”.
Antjie Krog se poësie betrek dwarsdeur haar oevre tot dusver die feit dat vroulike digters ondergeskik geag word aan hul manlike ewenkie. In een van haar gedigte (uit Lady Anne, 1989) verduidelik sy in gewone praattaal dat haar man gevoel het dat sy wel ’n groter boekrak verdien, en dan ook voorstel dat sy die boeke alfabeties rangskik i.p.v. hoe emosioneel belangrik sy dit vir haarself ag. Krog beskryf hierdie proses tot alfabetiese “ordening” (my aanhaling) so: “Jonker en Krog dans hand in die sy – snotneuse/ begin by ons lees op pad na Louw in die volgende ry! /stug en sterk hou die Manne in die kosmos kerk”. Ja, die Manne-met-die-hoofletter-M hou hulle met die kosmiese besig en die vroue met die blerrie potplante!
Poësie gepleeg deur manlike digters word volgens hierdie perspektief dus hoofsaaklik gemaak oor grootse dinge en nie oor die sg. triviale nie.
Ek is bly dat Krog in haar poësie met hierdie siening klaarspeel: “God, die Dood, Liefde, Eensaamheid, Die Mens /is Belangrike Temas /menstruasie, geboorte, menopouse, puberteit /die huwelik – nie” (Verweerskrif, 2006).
In ’n artikel van 2007 wys Louise Viljoen daarop dat, alhoewel laasgenoemde gedig “oënskynlik ’n speelse gedig is, (dit tog duidelik blyk) wat Krog se opvatting van die Afrikaanse literêre kanon is, en dat sy voel dat vrouedigters binne hierdie konteks ’n mindere rol speel vanweë die opvatting dat sommige van die temas wat hulle aanroer nie op ’n gelyke vlak takseer is met dié wat byvoorbeeld deur die manlike digters gebruik word nie.”
Ek het ontsettend veel resprek vir Louise Viljoen (Emeritus Professor, voorheen van die Dept. Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch). As navorser oor veral die Afr. poësie sal mens ver moet soek na haar gelyke, en ek vermoed dat sy Antjie Krog se werk beter ken as vele ander. In dieselfde artikel waarna ek hier voor verwys, haal sy ’n uitspraak van Krog (1980, Standpunte) aan: “Oor die plek en die taak van die kunstenaar in die gemeenskap het ek geen opinie nie. […] Al waartoe ek my verbonde en geroepe voel is my huis: man en kinders. As huisvrou bly dit ’n voortdurende worsteling om identiteit te behou, om my huwelik gelukkig en my kinders gesond en normaal te hou. Teenoor alles en almal wat my hierin bedreig, word ek gewetenloos – selfs ook en veral ook teenoor die poësie.”
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie