Briewe uit die binneland – Metakognisie
Genoot, metakognitiewe intelligensie is blykbaar een van die kragtigste vermoëns waaroor ons beskik. En iets waarvan ek – so smaak dit my – bittermin weet. Ek sukkel om dit te verstaan en om dit in hierdie dae waarin ek ouer word, te ontsluit. Maar ek wil, want dit sal goed vir my wees. Ek vermoed dit kan ’n gevaarlike avontuur word, omdat dit gaan oor die innerlike meganisme van die verstand en gees en jou ervaring van ’n dieper begrip.
Metakognisie betree ’n dimensie waarin mens eerlik na jouself kan kyk op ’n manier wat nie altyd prettig of vleiend is nie. Dis ’n vermoë om in jouself patrone te herken. Dit help om dit raak te sien wanneer jy jouself saboteer, om dan briek aan te draai, die stukke dan weer op te tel en aan te gaan.
Hier en daar gewaar ek ’n ietsie wat vir my wys dat ek tog oor ’n beduidenis van metakognisie beskik en dat my onderbewussyn my iets probeer vertel. Oor dit wat toegesluit is onder my persoonlikheid, ónder dit wat ek van myself aan die wêreld wil laat sien.
Ek herken iets wat moed van my verg om dit te doen. Ek vermoed dat dit ’n werktuig in my hand kan word wat my bewus maak van my alledaagse aannames, die foute wat ek maak in my redenasies en my emosionele reaksies. Ek loop dit soms raak in ’n droom wat my bybly, nuwe emosies wat my verras, nuwe mense wat ek ontmoet. In plaas daarvan om my teen verandering te staal, wil ek my eerder oopstel vir nuwe moontlikhede, en die oomblik aangryp om nuut te dink sonder die arrogansie om te dink dat ek dit tog alreeds alles gesien het.
Volgens Carl Jung verg dit ’n nederigheid om toe te gee dat jy nie noodwendig baas is van jou eie gevestigde idees nie, dat die onderbewuste dikwels groter is as die bewuste. Om te erken dat jy self dit wat jou gedurig dryf, nie altyd duidelik kan sien nie. Dit gaan daaroor dat jy die nuwe waarheid kan gebruik as ’n bron van ’n insig. Ek vermoed dat dit nie hier gaan oor gewone intelligensie nie. Laasgenoemde is meer gerig op dit wat buite ons staan, iets wat eksterne probleme oplos. Daarteenoor mik metakognisie binnetoe, en wat dit dáár vind, is dikwels vrek ongemaklik en bitter vreemd. Maar ek vermoed die erkenning daarvan is essensieel.
Dit verg dat jy jou denke soms moet briek. Ek betrap myself in die middel van ’n gedagte waar ek sommer outomaties ’n afleiding wou maak, tot ’n gevolgtrekking wou kom en ’n oordeel wou fel. Dan wil ek ’n oomblik neem, effens terug staan, en wéér kyk. Jung sê immers dat die gees fundamenteel daarop gerig is om die mens te wil bystaan; dat die onderbewuste probeer om die eensydigheid van die bewuste in balans te bring. Maar ek kan slegs daaruit voordeel trek as ek aandag daaraan gee.
Die voordeel? Ek ervaar dit – as ek per geluk, of deur God se wil daarop afkom – as innerlike rus omdat ek op daardie oomblik die verskil tussen ’n gekondisioneerde reaksie en ’n eie outentieke waarneming kan herken. Dit is asof daar dan ’n stukkie ruimte ontstaan tussen die oorspronklike stimulus wat ’n negatiewe gedagte tot stand gebring het en my uiteindelike nuwe ontdekking. En liewe Genoot, in daardie stukkie ruimte vind ek vryheid.
Soos ek dit verstaan, is metakognisie nie iets reglynigs of abstraks nie, maar iets wat ek en jy kan aanleer en inoefen. Voorkennis is wel goed, maar dit moet ons nie lamlê nie. Verwoord jouself hardop – ja, ek weet die mense om jou sal dink jy’s mal – maar daardeur ontdek mens dikwels gate in jou redenasies.
Laat ons veralgemenings uitdaag: stem ek werklik hiermee saam, of is dit ’n blindevlek wat bevraagteken kan word? Die godheid het die mens soveel vryheid gegee. Een daarvan is om te kan kies waaroor jy kan dink. Om soos ’n wenner te dink, verg waaragtig inspanning. Daarteenoor is passiewe onwillekeurige denke moeiteloos. Maar Genoot, ek wil myne tog beheer om so loslit as moontlik te kan stap.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie