Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Konsert

Chrisna Beuke-Muir

Liewe Genoot

Het jy ook soos ek heerlike herinneringe aan Desember-vakansies uit jou kinderdae? Ek wil vandag so ’n herinnering met jou deel.

As kinders het ons, saam met familie aan moeders- en vaderskant, Desember-vakansies op Kleinmond deurgebring. In ’n paar rondawels op een groot erf, stapafstand van die see af, het drie broers en susters en hulle kinders die lang somervakansies deurgebring. Uit my agterna-perspektief besef ek dat ons uiters bevoorreg was. Ons het elke week (as ek reg onthou) op ’n stadium ongeveer 10 sent sakgeld van ons ouers gekry. Daarmee het ek, tot my neefs en niggies se grootste ontsteltenis, dikwels ’n liter melk in ’n plastiese sakkie gekoop, ’n gaatjie daarin gebyt, en in die groot trekkerband op die erf gaan vasskop met ’n boek en die sakkie gesit en leeg suig. (In die tussentyd is ek darem gespeen, en deesdae sip-sip ek graag aan ’n glas droë Rosé.) 

Maar vir my was die hoogtepunt dat ons elke vakansie vir die grootmense konsert gehou het. Die hoofrede was om ons sakgeld aan te vul. Die grootmense was die gedwonge toeskouers wat natuurlik moes betaal om die konsert te mag bywoon. (As ek nou terugdink, was hulle nie totaal ongeneë om hulle plekke in die beknopte rietdak-ouditoriumpie in te neem nie, en die aand het gewoonlik heel gemoedelik uitgedraai. 

Ter voorbereiding vir dié groot aand, het die ouer kinders – dié wat ongeveer ’n stuk of vyf tot 10 jaar ouer was as ek en die jonger niggies en nefies – ons laat oefen, en dan moes ons woorde uit die kop uit leer, en kostuums saamflans uit wát ookal. Op die beplande aand het al die grootmense dan in die grootste rondawel saamgekoek en ons kinders het konsert gehou. Aan die einde van die konsert kon ons skaars wag om ons buiging te maak sodat ons die kollekte kon opneem en die geld kon tel en dadelik tussen ons elf-stuks kon verdeel.  

Die afgelope maand, ongeveer 50 jaar ouer, het ek weer lekker konsert gehou. Gedigte opgesê voor klein gehore in Suid-Afrika en in my broerskind se boekwinkel in Swakopmund. En omdat Paasnaweek op hande was, het ek Afrikaanse gedigte-materiaal rondom die Paas-gebeure in die program ingesluit. 

En gewonder oor God. Soos wat ek so dikwels doen, veral nou dat ek ouer word. 

In my loopbaan as dosent het ek afgekom op vele Nederlandse kosbaarhede. Meester Eckhart, ’n Middeleeuse filosoof en teoloog haal Augustinus aan wat gesê het dat die mooiste wat mens oor God kan sê dááruit bestaan dat jy oor God se innerlike rykdom moet swyg. Nie omdat jy dit nie erken nie, maar omdat die mens in werklikheid so min daarvan begryp. 

Augustinum sê: “God is naamloos./ Van hem kan niemand iets kunnen of spreken./ En klets niet over God./ En je moet hem ook niet willen kennen./ Een God die ik kan kennen/ is voor me geen god./ Hij is niets wat je van hem weet.” 

Ek met my Namibiese siel en my gebrek om te kan praat oor God, probeer iets op papier kwytraak, oor wat ek voel, sodat ek dit later voor die klein gehore kon herhaal:

“Ek ken U nouliks./ Maar ek sien U in/ die gesigte van sportmanne/ wat hulle land se lied sing,/ weggedra deur die oomblik./ En dan dink en dat U passie is.

“Ek weet nie waar U bly nie./ Maar ek soek U as/ die son opkom uit die rigting van Gobabis/ in die oggend as ek werk toe ry./

“Ek weet nie wat U praat nie./ Maar ek hoor U in/ die gekwetter van sysies/ en die geknetter van reën/ op die sinkdak.

“Ek wéét nie wat U is nie./ Is U dít wat ek nou/ per toeval, of aspris/ as vreugde ervaar?”

Genoot, ek soek ’n ander woord vir die woord “vreugde” in my heel laaste versreël. Iets wat die onnoembaarheid van God kan uitsê. Iets veel groter as die Engelse naamwoord “awe”, soos gebruik in die sin “I am in awe of You”. 

Help my asseblief?

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer