Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Humor is ’n ernstige saak

Liewe Genoot

Volgens die navorser John Morreall was filosowe soos o.a. Plato (428–348 v.C.), Descartes (1596–1650) en Freud (1856-1939) deur die eeue heen al geïnteresseerd in die rol van humor as ’n noodsaaklike bestanddeel vir die mens se lewenskwaliteit.

Deur die loop van jare is ongeveer drie tipes humor onderskei. Dit kan eerstens voorspruit uit ’n gevoel van superioriteit, en dan dink ek dadelik aan die Boer-, Skot- en Engelsman-grappies uit my kinderjare. Vandag hoor ek dit byna nooit meer nie, en ek wonder of mense in Engeland vandag nog grappe vertel ten koste van Iere, en omgekeerd. Hierdie soort grappe hoef nie net binne dieselfde kulturele groep vertel te word nie, maar kan ook gerig word tot die groep wat aan die skerp kant van die humor staan sonder negatiewe gevolge. Dan is die veronderstelling egter dat ’n ander faktor, bv. rugby die twee uiteenlopende groepe saambind.

’n Geliefde oud-onderwyser (nou in sy neëntigs) whatsapp vir my ’n grappie oor die pa en seun wat op die rusbank sit en gesels. Seun sê vir Pa dat hy ’n rol in die skoolkonsert gekry het van ’n man wat 25 jaar lank getroud is. Met ’n vonkel in die oog reageer Pa toe: “Toemaar Seun, volgende keer kry jy dalk een van die praatrolle”.

Genoot, ek het dit ontsettend geniet, al is ek ’n vrou en word by implikasie deur hierdie grappie gemerk as behorende tot die sogenaamde kletsende geslag. Hoekom pla dit my nie om so blootgelê te word nie? Ek vermoed dit is my waardering vir die pa-karakter wat skerpsinnig in sy kop ’n sprong gemaak het en ’n samehorigheidsgevoel met sy seun geskep het.

Humor is dikwels gegrond op teenstrydighede wat naas mekaar geplaas word. Woordspeling, of satire, m.a.w ’n teenstrydigheid tussen wat is, en wat sou moes wees, of ’n teenstrydigheid tussen die hede en ’n ander historiese periode kom ter sprake. Op soek na ’n lekker biefstuk vir die kole, tref die humor my toe ek in Food Lovers afkom op die reusagtige “Flintstone”-biefstuk wat lyk soos ’n wapen waarmee jy jou aanvaller die loef kan afsteek – let wel, nie jou aanvaller se loef afsteek nie.

Die aspris-spelfout in die Nederlandse webtuiste www.taalvoutjes.nl, laat jou sommer met die lees van die webtuiste se adres giggel. Op die einste webwerf kry ek toe die volgende: ’n koerantopskrif oor ’n onwettige vrag ereksiepille waarop die polisie beslag gelê het: “Wij vrezen een slap excuus. Vonds van 20 000 erectiepillen in Helmond: Nog geen hard bewijs dat het echte pillen zijn”.

Dan is daar humor waar spanning opgebou word, en dan in die vuislyn ontlaai word. (Genoot, sou ons in Afrikaans “vuislyn” in die toekoms as ’n moontlike ekwivalent vir “punchline” kon gebruik?) Voort met die grap: In die tyd toe Madonna se populariteit as sangeres en seksuele energie hoogty gevier het (en posseëls nie net ’n versamelaarsitem was nie), vra ’n vriend van die joernalis vir hom of hy gehoor het van die nuwe Madonna-posseël. Die joernalis dink daaroor na, en waag die volgende moontlike antwoord: “Hy lek homself”. Sy vriend bars uit van die lag, maar kom toe uit dat die antwoord wat hý gehoor het, eintlik iets anders was, naamlik dat jy nie weet watter kant van die seël jy moet lek nie. Die struktuur van hierdie tipe grap poog om spanning op te bou, en die onthulling van die vuislyn verlig die spanning.

Liewe Genoot, en dan is daar uiteraard die droë humor, wat nie skreeusnaaks is nie, maar pittig. Amper soos ’n lekker skerp smakie by die kos.

Op ’n ander Nederlandse webwerf kry ek die volgende oor geduld: “Geduld is een schone zaak. Maar je moet er wel tijd voor hebben.”

Genoot, humor is medisyne vir die gees, en gaan saam met ’n atmosfeer van gemoedelikheid. En om dit te kan geniet, is ’n oop gemoed en ’n stewige skoot intelligensie onontbeerlik.

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer