Briewe uit die binneland – Honderd gaste, ’n kragonderbreking en ‘ambience’
Liewe Genoot
Verlede week het ek dit gehad oor hoe professionele chefs anders oor kos dink as ons gewone siele wat hierdie takie elke dag vir ons geliefdes verrig.
En vir ’n halwe week lank het hierdie gewone siel transformasieprosesse ondergaan in die skaduwee van Frik, ’n professionele chef uit Suid-Afrika. Dit het gestrek vanaf ’n euforie oor heerlike kos wat liggaam en siel voed, tot ver verby die harde realiteit van gasstowe, vlamme en vetterige werksoppervlaktes.
Donderdagoggend tel ek vir Frik by die lughawe op, en laat hom in die bekwame hande van Sanet, ons eie baaschef, om die bestanddele aan te koop vir die Ses Disse uit Ses Lande wat hy hier in ons huis in Herboth’s Blick kom voorberei sodat 100 gaste dit Saterdagaand rondom 10 ronde tafels kan kom geniet. Later die middag laai ek vir Frik en die proviand weer by Sanet op en ’n vreemde gevoel bekruip my. As ’n bossie-van-dit en ’n handjievol-van-dat-huiskok, gee ek ’n groot droë sluk toe ek die groot bokse vars kruisement, roosmaryn en boomtakke loerierblare in die motor laai. Ek begin dink aan plekmaak in my yskas om die groenighede vars te hou totdat dit in die pot beland. (En Genoot, ek weet nie van jou nie, maar op ’n gewone dag is my yskas hoeka vol van ou kossietjies en manlief se biere en die ander akkies waarvan ek al hoeka vergeet het.)
Vrydagoggend ry ek tweehonderd hoenderboude en -dye in bokse van Sanet se huis af aan Herboth’s toe. Die moet in ’n marinade kom. Probleempie: Hulle is nog gevries. Hoenderboude en -dye beland dus in my bad waarin ek nog ewe sielsalig die oggend my eie boude en dye gewas het. (Terugskouend wonder ek of hierdie transformasie van mensvlerke en -boude na dié van gevleuelde wesens in my bad nie dalk die grootste indruk op my gemaak het nie. En die kategorie van emosies wat dit by my wakker gemaak het, móét nog deur psigiaters bewoord word.)
En toe moet dié liggaamsdele gemarineer word. Ek gee Frik net een kyk. Hy knik. “Goed, Chrisna, dit sal nie in jou bad gebeur nie.” Alle moontlike hol goed met ’n kapasiteit van 5 liter of meer word ingespan. Ek ry weer dorp toe en kry ’n wavrag vol bakke, panne en potte van mensvreter-grootte by Sanet. Ekstra stofies en warmskinkborde word aangery en ek is dankbaar dat die Windhoek Woordfees dit nie alles hoef in te gehuur het nie. Dankie, Sanet. . .
Laat Vrydagmiddag word tien groot ronde tafels en plastiese stoele, en bokse vol borde en ander goeters afgelaai. Saterdagoggend word ek wakker, en besef, vandag is die dag. Ek en Frik praat oor tafelversierings. Ek vaar die tuin in en spekboomtakkies met hulle piepklein pienkerige blommetjies beland saam met doring- en laventeltakkies so los-los in die middel van die ronde tafels. My maagspiere verslap effens. Frik soek atmosfeer vir sy stories en wil kerse hê, en ek dink, goed, maar die mense moet kan sien wat hulle eet.
Teen 5 nm Saterdag maak Frik die 12 hoërskoolleerders wat as kelners gaan optree, staan voor hom in die kombuis en gee instruksies. ’n Halfuur later kom die eerste gaste aan en die geur van kos en speserye sweef hulle tegemoet.
Teen sesuur begin die ligte flikker. Ek, Manlief en Frik skrik ons melk, water en ons (eie) ligte totaal weg. Drie van die ses disse uit die ses lande moet warm bedien word. Ek bid en wonder wat die Blou-Dak-se-Baas vir ons beplan. Asseblief tog net nie die krag nie. Vir nog so tien keer flikker die ligte.
En toe is alles dood. Nie ’n liggie op Herboth’s is te sien nie.
Die kragopwekker word ingespan, meters en meters verlengkoorde word inmekaar geprop om stofies buite die kombuis aan die gang te hou. Binne word nóg kerse bymekaar gemaak en op die tafels gesit. In koppies, in blompotte, op pierings. Mooi kerse, halfgebrande kerse, sitronella-muskietkerse. Oral brand vlammetjies. Stadig vou die donker om ons toe. Tussen die disse deur vloei Frik se stories oor hoe hy aan dié koningsresepte gekom het. Op die tafels brand vlammetjies. Die gaste kuier.
Onse God, dié Vabond, is mal oor “ambience”.
– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie