Briewe uit die binneland – Groetnis uit Nederland
Liewe Genoot
Wanneer jy hierdie skrywe lees, is dit presies ’n week gelede dat ek en Manlief uit ons mooie Namibië weg is vir ons kort vakansietjie.
Ná ses ure se vlieg land ons in Addis Abeba waar ons vir vyf uur lank op die georganiseerde, maar chaotiese lughawe oorstaan, -sit en -lệ, want net ná middernag moet ons verder vlieg. Kort ná sewe die oggend land ons in Brussel, en neem die eerste beste trein na Antwerpen, en klok in by ons Airbnb op die Vrijdagmarkt, gretig om onsself reguit op ’n bed uit te strek ná die lang ure van regop wees. Onse lywe, lekker moeg en seer.
Daar wakker geword was die saak reg en die kind se naam was Wit-Willem! Ons soek die eerste beste eet-café, en kom op Antoon van Dijck af, waar ons gekonfronteer word met die lieflike probleem om tussen 200 verskillende biere te kies.
Dan onthou ons om ook iets te eet, en bestel bitterballen en frietjes. Bitterballen is klein ronde balletjies van ham, botter, meel en nog ’n paar ander goeters, gebak in ’n krummelkorsie. Dit het ek in 1995 leer eet toe ek saam met 15 ander dosente van Suid-Afrika na die Lae Lande genooi is om “opgevoed” te word. . . sodat ek Nederlands aan die Universiteit van Namibië kon aanbied. (Min het ek geweet hoe daardie eerste werklike ontmoeting met die Nederlandstalige stuk geografie van my oervoorouers my uitkyk op die lewe verder aan sou beïnvloed.)
Maar eers terug na die belangrike – die ete en drinke. Terug na ons Antoon van Dijck-café in Antwerpen. ’n Vriendelike jongman met die naam Angelo bedien ons en vra uit na ons mooie, droë land in Afrika. Tussen al die genietinge deur maak ons hier en daar ’n som om te sien hoeveel die euro’s op die spyskaart in Namibiese dollars is. En hoewel ons ons daarvoor reggemaak het, bly ons telkens verbaas oor hoe duur dinge is. Die goedkoopste ding is waarskynlik ’n glasie bier van’t vat van drie euro (N$55). Maar lekker!
Die volgende dag huur ons huurfietse en ry al langs die Schelderivier langs om weer iewers nog een pilsje weg te slaan. Hier is die fiets ’n verhaal op sy eie. Behalwe dat die woord self in naamwoord- en werkwoordvorm bestaan, bestaan dit konkreet in veel meer vorme.
Vanaf die gewone gatsaag met ’n lekker breë saal waarop jou agterboude kan rus – amper soos ’n trekker se sitplek, kry jy fietse met behoorlike bagasiebakke van verskillende groottes en vorms wat tussen die saal en die handvatsels ingebou is. Daarin word vanaf inkopies tot honde en kinders met gemak gelaai. En ek wonder of ons Windhoekse vierbeenkinders ons sal vertrou dat hulle rustig, kop op die voorpote oor die kant sal lệ en loer terwyl ma – soms teen ’n hoë spoed – tussen voetgangers, trems en motors heen jaag.
Die fietsverhuur-dame het hoeka verduidelik dat ons die klokkie slegs mag gebruik vir werklike ernstige gevalle soos wanneer jy sien hier kom nou moeilikheid. Maar beslis nie om mense voor jou uit die pad uit te laat skiet bloot omdat jy nou haastig is nie. In die Binnestad het mense en fietsers voorrang. Motors word verduur en tot die minimum beperk.
Behalwe dat ons al om die ander dag wou fietsry, was dit die plan dat ek vir Manlief wou gaan wys waar ek by enkele geleenthede vroeër as gasdosent klasgegee het, en waar ek toneel gespeel het. En ons wil bekendes gaan opsoek.
Genoot, jy sal dit nie glo nie, maar ook ons geboortedorpe (in SA) kom ook in gedrang. Vanaf Antwerpen steek ons die Belgiese grens oor na Nederland om vir twee dae in Dordrecht te bly, sodat Chris aan sy Oos-Kaapse dorpie met dieselfde naam kan dink. En op pad soontoe met die trein, stap ons oor op die dorp, Breda, wat my met liefde laat dink aan my geboortedorp, Bredasdorp aan die suidste puntjie van Afrika.
Dis ’n klein wệreld dié, my Bra. Of is dit?
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie