Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Gatsaag op die grondpad

Chrisna Beuke-Muir

Liewe Genoot

Dis goed en wel om te besluit op ’n fietsry-vakansie in Europa, maar dis ’n ander ding om eers weer die gevoel van die saal hier tussen jou twee boudbene gewoond te raak as jy lanklaas op jou ysterperd was. 

As skoolkind is ek feitlik elke dag op my fiets skool toe. Die hoërskool op Bredasdorp het hoog teen die voet van die berg gelê, en dit was min dat ek die laaste ent tot bo uitgetrap het. Veral met die koffer agter op die fietsrak. 

My kleinkinders hier in Windhoek ry nie fiets skool toe nie. Dit is te ver en die verkeer is te druk. En sover ek weet, het hulle fietse ook nie fietsrakke nie. Ek is werklik nuuskierig oor die fietsrykultuur van skoolkinders vandag. Rygoed het so verander. 

Hoe ook al. Ek en Manlief het beplan om vir die Kanada-kinders te gaan kuier, en met die terugkomslag vir tien dae lank in Europa fiets te ry. Twee vlieë met een klap. Twee lekkertes met die prys van een-en-’n-half (ook ’n illusie). 

Dit werk egter nie uit nie, want om ’n Kanada-visum te kry, is ’n saak van gebed, en op navraag hoor ons dat dit tot ses maande kan duur. Intussen het ons die Schengen-visums vir Europa gekry, en dit is net vir ’n sekere tyd geldig. Die Groot Planmaker wou hê dat ons ons Kanada-kind moet laat weet dat ons eers volgende jaar by hulle sal uitkom. 

In plaas daarvan om vreeslik teleurgesteld te wees dat ons vakansie nie presies gaan verloop soos wat ons gedink het nie, begin ons beplan vir die fietsryery. Sou ons vooraf geweet het dat die twee visums vir die twee verskillende stukke geografie nie sou saamwerk nie, sou ons waarskynlik die fietsry-vakansie laat vaar het. Maar Genoot, nou gaan ons tog oor minder as twee weke fietsry in Vlaandere en Nederland!

Manlief is die getroue atleet, en ry gereeld elke Saterdag ’n hele klomp kilometers op sy fiets. Ek nie. En omdat ek weet wat vir my voorlê, en baie uitsien na “fietsen in de Lage Landen”, klim ek tog Saterdag ook op my fiets. Saam met Manlief. Hy op sy bergfiets en ek op my e-fiets. Hier van Herboth’s Blick af ry ons dorp se kant toe. By die polisiepadblokkade, draai ons regs op die grondpad, rigting N/a’an ku sê. 

Ek kry weer die gevoel van my vroeëre fietsryjare hier in ons land. Die gedurige gesoek na die beste deel van die grondpad wat jy dan uitkies en waaroor jy jou bande moet laat sidder. Soms die gladder, maar effe sagter sand aan die kant van die pad waar die sinkplaat minder is. Dan weer terug na die harder deel van die pad waar die twee spore duidelik lê en wat vir jou op daardie moment die gelykste lyk. En dan die deel waar jy weet: hier moet ek net eenvoudig oor die sinkplate gaan, my boude van die saal af lig en die stuurstang effe minder intens vasgryp sodat die siddering nie totaal deur die armspiere geabsorbeer hoef te word nie. 

Manlief wil ten minste sestig km ry, en ek wil darem ook ’n goeie ent saamry. En nie te gou omdraai nie. Ek byt vas. 

Vyf-en-twintig km uit stel Manlief diplomaties voor dat ek omdraai, want dan sou ek tog vyftig km gery het. Hy gaan nog so ’n entjie aanry om sy afstand in te kry. Dit flits deur my kop om nog te wil aanhou, maar gelukkig besef ek dadelik dat ek ’n wyse man het, en dat ek hom gaan gehoorsaam. Soos altyd. 

Ek draai om. Die vyf-en-twintig km terug is minder lekker as die eerste kwart-honderd op pad uit. Die sinkplate voel dieper en die stukke sagte sand langs die pad ook. Maar ek haal weer die grootpad by die padblokkade en is dankbaar toe ek die teer onder my wiele voel. 

Meer guts as verstand. Dis ekke. So dink ek toe ek onder die stort staan en die stof van my lyf en hare afwas. Die bene tussen my boude voel teer. En die toilet se saal is lekker gemaklik. En ek voel moeg en dankbaar. 

Genoot, ek gaan jou op hoogte hou van die dae wat kom. Ek weet daar is meer teerpaaie in Europa.

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer