Briewe uit die binneland – Fantasie, verbeelding en geloof
Liewe Genoot
Iemand na aan my het die afgelope vier, vyf jaar so tussen haar beroep deur as onderwyseres ’n fantasie in Engels geskryf, en nou het ek die voorreg om dit te lees. Ek maak aantekeninge en soek die Engelse woorde op wat ek nie ken nie. Ek geniet dit om te sien hoe die karakters ontwikkel, en begin ek wonder – ook vanweë my eie ondervinding van die wonders van die lewe – of geloof en fantasie meer dinge gemeen het as wat mens dink.
As kind in die NG Kerk het ek die verklaring gekry dat geloof ’n vaste oortuiging is van dit wat jy nie kan sien nie. En in daardie vroeë vormingsjare het ek krampagtig daaraan vasgeklou omdat ek bang was ek doen sonde en beland in die hel, en ek het na verlossing gesmag. Vandag besef ek dat geloof méér is; ’n tipe krag wat maak dat dinge gebeur waarvoor die kanse op die oog af bitter skraal lyk.
Genoot, ek lees verder, want die verhaal boei my.
Die vertelperspektief is grotendeels dié van twee jongmense wat albei verlies en trauma meegemaak het, en sonder familie gelaat word. Ek verwonder my aan die manier waarop die skrywer, sy is immers baie jonger as ek, die woorde vind om haar karakters se ervaring op die punt af, maar tekenend uit te sê sodat ek as ouer leser dit in my murg kan raak voel.
Genoot, natuurlik skop die dosent-neuke weer in, en ek kan nie glo dat ek nooit die fantasie as genre met my studente behandel het nie!
Hierdie genre waar stories van die verbeelding vergelykbaar met ons leefwêreld, maar effe losstaande van die realiteit, draad vir draad, soos ’n voëlnes kunstig geweef word. En die leser kom letterlik en figuurlik tot verhaal.
Persoonlike wense wat vir die pragmatis onmoontlik blyk te wees, realiseer, en insigte waartoe karakters én leser kom, herinner aan die wonderwerke van God.
Ek vind dit jammer dat fantasieverhale soos Harry Potter soms as boos afgemaak word, en dit het my ontstel toe ek per geleentheid dit uit die mond van ’n vyfjarige hoor. Dié negatiewe konnotasie spruit waarskynlik uit ’n sekere teologiese verbod op die bo-natuurlike en towenary. Of dalk uit die idee dat fikiewe ruimtes en gebeure afgodery en morele verwarring vir die kind in die hand sou kon werk. Of kan wees dat ouers self angstig is, en hulle kinders fanaties op die regte pad wil hou deur aan hulle te vertel dat fantasie bloot leë wensdenkery is?
Die neurowetenskap, die studie oor die aanpassingsvermoë van die brein om groei te ervaar, het egter ’n sekere balans t.o.v. die negatiewe siening bewerkstellig. Die begrip neuroplasticiteit verduidelik verder dat die brein nie staties is nie, maar bedraad is om lewenslank te kan aanpas, anders as die vroeëre aanname dat ons grys orgaantjie, ná afloop van die jeugfase, nie meer ontwikkel nie. En Genoot, daaroor is ek bitter bly, want nou is daar vir my ook hoop, en ek doen my brein-gym getrou!
Fantasieskrywer, J.R.R. Tolkien (1892-1973), het die term eukatastrofe (’n skielike, dramatiese en vreugdevolle ingryping in ’n storie) gemunt. Die eu-voorvoegsel beteken goed, aangenaam). Oor kreatiwiteit het hy hom soos volg uitgelaat: “We have come from God, and inevitably the myths woven by us, though they contain error, will also reflect a splintered fragment of the true light, the eternal truth that is with God. Only by myth-making, by becoming ‘sub-creator’ and inventing stories, can man aspire to the state of perfection that he knew before the Fall. Our myths may be misguided, but they steer however shakily towards the true harbour, while materialistic ‘progress’ leads only to a yawning abyss and the Iron Crown of the power of evil.”
Genoot, ek het nog 20 hoofstukke om te lees. Intussen het ek aan myself belowe dat ek my nie sal snoep van die wonder van fantasie en die verbeeldingsvlugte van die lewe nie.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie