Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Ewewig

Chrisna Beuke-Muir

Nederlandse sanger Raymond van Groenewoud sing: “Gelukkig zijn, gelukkig zijn, daarvoor wil ik alles geven . . .” 

Kan ’n mens jou emosies beheer? Ek wil glo ek kan, want anders is ek ses-nul in my kanon. Aan die ander kant is ek oud genoeg om nie deel te wil wees van ’n gejaag op die hedonistiese trapmeul waar eksterne faktore my geluksvlakke bepaal nie. 

Verstaan my nie verkeerd nie. Ek sal nie omgee om genoeg geld te hê wat my die vryheid sal gee om saam met my geliefdes deur te bring en hulle te bederf nie. En om goeie dinge vir hulle en minderbevoorregtes rondom my te doen nie. 

Ek vra dus: “Here God, ek en Manlief sal ook tog graag nog wil reis . . . asseblief? En miskien ook saam met van ons baie kinders? Sou dit kon? Want Here God, ek wil eintlik nog lank leef. En gelukkig. Maar ek voel tog bietjie skuldig omdat ek vra.”

Ons moet lysies . . . nee, LYSTE maak van dit wat ons wil hê, en daarvoor GAAN met alles wat in ons is. Niemand anders gaan dit vir ons doen nie. Ons moet spesifiek wees.

“Maar Here, my kar het ook nou al oor die tweehonderdduisend km op en ek wil graag nog vir ’n lang tyd self bestuur. Dalk ’n nuwe motor, Here God? Hy kan maar klein wees. Dalk outomaties, sodat ek my koffie kan sluk as die robot rooi is?”

Lundgren et al se navorsing (2012) het ’n werksplan geskep, getiteld, die Bull’s-Eye Values Survey, waarvolgens jy deeglik jou waardes, maar ook die diskrepansies tussen waardes en gedrag in oënskou kan neem. Daarvolgens kan jy selfs die hindernisse in jou pad identifiseer en planne maak om dit te oorkom om volgens hierdie waardegebaseerde patroon te kan leef. 

Hierdie “In-die-kol-opname” betrek vier subkategorieë, nl. my werk, vryetyd, verhoudinge en laastens, persoonlike groei en gesondheid. Hierdie aspekte bestaan elkeen selfstandig en in eie reg. 

Daarvolgens kan ek tot ’n groot mate self bepaal wat my psigiese welstand is, wat my enersyds negatief affekteer en tot depressie, angs en spanning lei. Maar ek kan ook bepaal wat my positief laat reageer omdat ek oefen om my psige plooibaarder te maak sodat ek kan aanpas. Ondersoekresultate wys daarop dat sodanige ingryping wat op waardes gebaseer is vir my stabiliteit gee en goed vir my is. 

Het die begrip siel meer met God te doen, en psige en gees meer met die ding waaraan ek self moet werk? Deur alles voel ek dom. Maar ek wil . . . gelukkig zijn! Chrisna, trek dus jou vinger uit waar hy nou vassit. En doen. Maar terselfdertyd bid ek. 

“Here God, gee my wysheid, skerpsinnigheid, al word ek ouer. Want Here, ek glo U verstaan. Ek wil gelukkig wees.”

Saterdagoggend saam met vroue oor drie geslagte heen, het ek ’n vriendin se verjaarsdag bygewoon. Heerlik! En sommer dieselfde aand ook nog die verjaarsdag van my kind. En my kleinkinders was ook daar. En my kinders se pelle. Uiteraard was die manne by. Maar daar was rugby ook, en die manne het rustig binnegesit en rugby kyk en ons vrouens het buite op die gras gedans dat die biesies bewe. En hierdie ouvrou het semi-handstands en drie push-ups saam met die kinders en my kleinkinders gedoen dat my maagspiere vanoggend bitter seer en styf is. Ek kan nie eens druk om te p. . . . . nie. Maar dié simpel goeters het my gelukkig gemaak. (Ek sweer my Hollandse skoonmamma het vanuit Ver-Bo na my geknipoog en gesê het: Goed zo Chrisna, een kindhart is snel gevuld.) 

Maar Genoot, vandag staan ek nie weer op my kop nie, want môre moet ek weer Pilates doen (dankie Marguerite) sodat my kernspiere kan sterk bly. Sodat ek dalk weer ’n volgende keer op my hande kan staan en my kinders my voete kan vashou en toelaat dat ek kan maak asof ek dit alles self gedoen het. Subkategorieë verhoudinge en persoonlike gesondheid is vir hierdie week afgemerk. Gedoen.  

– [email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer