Briewe uit die binneland – En toe is dit alles stil
Hallo Ma
Wat gebeur oor Kerstyd daar waar Mamma bly?
Ek stel my pragtige musiek in verskillende tale voor. Hier by ons word Kersfees opgevolg deur die aftel van sekondes na die einde van die ou jaar en die oorslaan na die nuwe een. Ons Swakophuisie was vol kinders en kleinkinders – van so ver af as Kanada. Nie almal op een slag nie, daarvoor is die huisie eenvoudig te klein. Maar so om die beurt. Wat ’n voorreg!
Ek onthou hoe bly Ma was as ek onverwags op ’n Vrydagaand van Stellenbosch af by hulle op Bredasdorp opgedaag het. Ma was oorweldig, maar op ’n dag het Ma vir my gesê dat die uitsien, die verwagting, die vreugde verdubbel. Dit verstaan ek nou goed. Van Oktober af beplan ek en Manlief al aan die Desember. Die dryfhoutkersboom word behang, en ons tel die slapies af.
Dan gebeur dit. Die vliegtuig land op Walvisbaai, kleinkinders peul deur die skuifdeure en ons ontvang die omhelsings met wasige oë. Ons ry terug deur die woestyn Swakopmund toe. Die wagtende kamers word blitsvinnig omskep in ’n warboel van koffers, rekenaars en sporttoerusting. Skoene staan die hele huis vol; in Kanada trek jy jou skoene uit as jy in die huis is en by die see is die grens tussen binne en buite vaag.
Ek en Manlief besluit om vir die kleinkinders vir Kersfees elkeen ’n bedrag geld te gee. Ek neem die drie jongstes winkels toe om hulle geskenke te gaan uitkies. Ons gaan by speelgoedwinkels langs, boekwinkels, crazy-winkels, en hulle kom terug met allerlei slymerige mengsels wat op skinkborde uitgeplak word, of in lugborrels soos fetusse in baarmoeders van hulle hande afhang. Daarmee vermaak hulle hulself ure lank. Al drie koop brilletjies: ’n Plastiese kontrêpsie waarvan die linkeroor se pypie in die koeldrank kom en die regteroor s’n in jou mond. En soos jy suig loop die vloeistof in ’n sirkel om jou oë tot in jou keelgat. En geleerd wys hulle die grootmense daarop dat hulle nou goed gehidreerd is.
Ma, die kinders se onderonsies wat hulle gereed moet maak vir groter oorloë wat hulle eendag as volwassenes moet navigeer, het waarskynlik nie veel verander van toe ons kinders was nie. Die menslike behoefte, nl. erkenning van die self geld steeds, maar die strategieë het verander.
Tussen alles deur is ek saam met hulle op straat of by die see, en ek neem my medemens búíte my familiekring waar. En tussen die opwinding van my kleinkinders rondom my, slaat die armoede en seer van die buitewêreld my totaal breek. Al wat vir my op so ’n moment reg voel om te doen, is om dankie te sê vir ’n dak bo my kop – en oor die koppe van ons kinders, en vir die nodige – nee, die oorvloedige ander dinge. Om die hartseer te verweer, fokus ek selfsugtig op my eie, meer leefbare werklikheid.
Die kinders is aan die gang, en daar is nie ’n vervelige oomblik nie. Daar word see toe gegaan, fiets gery en muurbal gespeel. Saans sak ons langs die see neer, vytig treë van ons huis af – bier in die hand. Die kinders moet truie aantrek omdat die grootmense koud kry. Ingewurm tussen die warmte van die kleinkinders en Manlief sit ek my en verwonder aan die son wat in die mislaag oor die see afsak – haar helder silwer streep oor die water tot in my oog. Die poele hier by ons voete word al hoe swarter, die liggies van Platz am Meer en die Mole in die suide en van Myl Vier in die noorde gooi seine uit in die donkerwordende horison. Dit, en die samesyn met ons geliefdes is oorweldigend, en ek ervaar die vreugde net so intens as die hartseer van vroeër op straat.
Die kinders is weer terug in Suid-Afrika, in Kanada en hier in ons eie land. Die huis is stil. En die herinneringe is amper so goed as die uitsien.
Mamma, vir jou ’n Hemelse 2026.
Die Uwe
NS: Mamma, jy wat nou van aangesig tot aangesig sien, google grootseblief aan ons God en stuur my antwoorde . . .
– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie