Briewe uit die binneland – Ek is eenmaal wat ek is
Genoot, as jy gedink het dat jy is wat jy is as jy voor iemand staan, moet jy bly waar jy is en nie probeer om die grense van jou land te verlaat nie.
Want dan moet jy oor ’n pak navorsing beskik wat ’n M.A.-tesis na ’n graad 2-opstel laat lyk. Want die dokumentasie rakende jou identiteit is ’n groter waarborg van jouself as wat jy in vlees en bloed kan vergestalt.
Ek en manlief wil vir ons Kanada-kinders gaan kuier. Maar dis nie sommer net vir vliegtuig of boot vat om daar te kom vir die voorreg om hulle vir ’n paar weke te mag sien en te mag geniet nie. Selfs as jy bereid is om oor al die oseane te swem om daar te kom, is dit nie goed genoeg nie. Jy moet ’n visum hê. En daarvoor moet jy nie net ’n sekere blaadjie met Kanada se toestemming in jou paspoort hê nie. Jou vingers se punte moet ook iewers tussen die blaadjies in.
Eers maak ek ’n afspraak met ’n agentskap hier in Namibië om die proses van die visum aan die gang te sit. Met die bewys van die afspraak gaan ek op die groot dag van afrekening, met my pak dokumente onder die arm, na die aangewese kantoor. Erger as tandarts toe gaan. En dis maar die begin van die proses.
En tóé die vingerafdrukke: my eie vingers se afdrukke vir ’n Kanada-visum kan ek nie in my eie land van Melk en Heuning laat doen nie. Dis wel moontlik vir ’n Schengen-visum wat my toegang tot Europa gee.
Maar as Namibiër wat in Kanada wil gaan kuier, moet ek eers Suid-Afrika toe, want slegs dáár is daar hokkies waar ek my vingers op ’n masjientjie kan sit wat iets iewers laat pieng om dié spesiale vingerplooitjies af te skets.
Ek doen toe die trippie Kaap toe. N$6 000. Één lekkerte – dié aand kuier ek by ons Kaapse kinders. Die volgende oggend daag ek op in Langstraat in die middestad vir die uiters spesiale oomblik met nóg ’n vrag dokumente in my rugsak. Op die grondvloer van ’n gebou teken ek my naam, en word ingelaat in ’n spesiale hysbak met toegang na slegs die sewende vloer. Daar word ek uitgespoeg, en gevra vir die bewys van my afspraak. Ek word aangesê om te wag dat my nommer geroep word. Nog ’n pieng later word ek begelei na ’n kamertjie met ’n dame in ’n glaskas. Sy knik offisieel. Die arme kind sukkel om asem te haal. Sy is hondsiek en hoog swanger. Sy tik op haar rekenaar en nies op my papiere.
“Sorry”.
Die masjientjie met sy plat glasgesiggie koggel my met sy blits-ogies. ’n Groot kamera hier vlak voor my fokus ongeskik op my gesig. Nog ene bo teen die dak in die hoek van die hokkie mik ook na my kant toe. Die hees stem agter die rekenaar vra my om na die kamera te kyk. Ek moet my hande in die lug hou soos iemand wat hendsop in ’n cowboy-fliek, en daarna moet ek al my name en my geboortedatum hardop sê. In Engels. Ek speel teater. Daarna, die groot oomblik. Ek moet die vier vingers van my regterhand op Platgesiggie voor my neerplak. Ek gehoorsaam.
“Your right hand please. This is your left hand.”
Gefassineerd kyk ek na my regterhand op Platgesiggie. “Nee, sowaar Mevrou, dit is my regterhand.”
Sy skud haar kop. “No, this is your left hand.”
Genoot, ek kan baie dinge doen. Ek kan Kaap toe vlieg – gelukkig. Ek kan nagte wakker lê en my vrek bekommer oor dinge sonder om dood te gaan van min slaap. Maar my regterhand kan ek nie verander na iets anders nie.
Ek skud my kop: “Dame, my vingers is vreeslik krom van die rumatiek, maar ek belowe jou hierdie hand was nog altyd my regterhand.”
Sy bekyk my hande agterdogtig, staan op, draai haar rug op my sodat ek en sy in dieselfde rigting kyk, en hou haar regterhand uit.
“True, this is your right hand”. It must be the computer. Let’s repeat the process.”
Ná nog ’n hendsop en vingergevroetel is die rekenaar dit met my eens: mý regs ook sý regs is. Genoot, ek het nog nie die visum nie. Maar Goddank, my anatomie is nog ongeveer dieselfde.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie