Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Eendag was daar. . .

Chrisna Beuke-Muir

Liewe Genoot

Wees vandag saam met my weer kind. 

Toe my skoonouers, Agnes en Cor Beuke, destyds begin afskaal het, het Ma Agnes vir my dié Nederlandse boek, Leven en werken van de Kabouter, in die hande gestop. “Chrisna, ik denk wel dat jij dit boek goed zult kunnen gebruiken.” 

In die voorwoord staan die volgende geskryf: “Ik heb tot mijn verwondering gehoord, dat er mensen zijn, die nooit een kabouter hebben gezien. Ik kan niet nalaten medelijden met die mensen te hebben. Ik ben er zeker van, dat er iets aan hun gezichtsvermogen hapert.”

In ensiklopedie-vorm beskryf Wil Huygen, en die tekenaar, Rien Poortvliet o.a. die geskiedenis van die kabouters, hul verspreidingsgebied in Europa, hul liggaamsbou, sintuie, voorkoms, sosiale gewoontes, die huwelik, en veel meer as wat ek in ’n jaar se weeklikse rubriek kan vertel. 

In die Verantwoording vermeld Huygen dat bronne nie altyd ewe betroubaar was nie. Ná die dood van die veelbelowende Tjeggiese ondersoeker, Ian Holecek, wat ’n regeringsopdrag gekry het om die lewe van die kabouters te bestudeer, het sy weduwee al sy aantekeninge aan Huygen besorg. Tog moes hy dit op die ou end na haar toe terugstuur omdat “er zoveel fouten in stonden”.  

’n Ander omvangryke werk, De Hominibus Parvissimis (oor die allerkleinste mense) wat in 1580 verskyn het, was ook nie van veel hulp nie, omdat die skrywer Wilhelm Wunderlich kabouters daarin sonder meer met dwerge en ander verdagte wesens vergelyk het. 

Genoot, vergun my dus om enkele interessanthede oor die Kabouter-spesie met jou te deel: Met ’n gemiddelde lengte van 15 cm, weeg die volwasse kabouter iewers tussen 250 en 300 gram. Uit die skelet blyk dit dat die hoof (kop) in verhouding met die res van die liggaam veel groter is as dié van die mens. Hul arms is ook in verhouding langer en hulle bene korter. Hierdie besondere bou maak dat hulle in verhouding sewe keer sterker is as die mens. Hulle spysvertering werk ook beter, waarskynlik omdat hul totale dermlengte groter is as dié van die mens, en omdat hulle nie vleis eet nie. Ook is hulle galblase kleiner en hul lewers sterker. Hul reuksintuig – soos by diere – is veel belangriker as dié van die oog en oor. Waar ’n hiëna byvoorbeeld op ’n afstand van 10 km hul kos kan uitsnuffel, en vlinders t.w.v. voortplanting 11 km ver kan ruik, is die neusslymvlies van die kabouter se oppervlakte a.g.v. plooie 60 cm2 groot. (Ons neusvliese beslaan maar ’n skrale 5 cm2 , en dié van ’n skaaphond, 150cm2.) Geen wonder dat ’n neusverkoue ’n kabouter blykbaar bitterlik humeurig maak. 

’n Kabouter word gemiddeld 400 jaar oud, en teen sy honderdste verjaardag, begin hy aan trou dink. Dan moet hy ver afstande aflê, want kabouters is dun gesaai. As die geliefdes mekaar vind, en die skoonouers is tevrede, trou hulle presies op middernag by die geboorteboom van die meisie se ouers. Ondersoek t.o.v. voortplanting was moeisaam, aangesien die literatuur daaroor volgens Huygen “ansgtvallig zwijgt”. 

Behalwe die gewone adrenalien, bevat kabouterbloed egter ’n soort super-adrenalien wat verhoogde prestasie waarborg as dit kom by uithouvermoë en geslagsdrif. Tog ovuleer die vroutjie slegs een keer in haar leeftyd, en gee dan geboorte aan ’n tweeling. Die man behou tot ongeveer 350 jaar sy bevrugtingspotensiaal. 

Genoot, en nou praat ek net met my mede-vroulike genote. Vrou-MENS tot vrou-MENS. Ek is jaloers op die kaboutervrou se stewige borste met verminderde swaartekrag – omdat dit op haar magie lê – wat haar toelaat om sonder ’n bra deur die lewe te gaan. 

Genoot, (en nou kan die manne maar weer luister): Volgende week kuier ek en Manlief in Europa, en ek gaan fyn kyk of ek weer iewers een van dié wonderwesens gewaar. Ek vermoed Afrika is te groot en te droog vir kabouters. Tog het ek toe ek vyf jaar oud was, enetjie gesien in die Overberge by Caledon. Onder ’n waterstroompie wat oor ’n hellinkie val, het ek ’n rooi punthoedjie gewaar. 

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer