Briewe uit die binneland – Die stryd om ewewig
Liewe Genoot
Ek en jy is bevoorreg. Ons het vanoggend opgestaan met ’n dak oor ons kop. En ons kon die tyd afknyp om terug te sit en die koerant te lees. Ons leef relatief in ewewig. Maar ek kom later terug na dié ewe-gewigtige besigheid.
Deesdae gebeur dit dikwels met my dat dinge wat ek in my kinderdae uit my kop moes leer, na my toe terugkom. So draai die gedig, “Die gevalle Zoeloe-indoena” van C.M. van den Heever die afgelope week in my gedagtes.
In st. 1 moes ek dit uit my kop uit leer. In die middag memoriseer ek die woorde, waarna Ma dan luister of ek dit ken. En dan het sy my, dikwels teen my sin, afgerig om dit ordentlik op te sê. Van bloot aframmel, was daar nie sprake nie.
“Chrisna, dínk aan wat jy sê. Síén die bloeiende man voor jou in die sand lê.” Al waaraan ek op daardie stadium gedink het, was dat ek wil gaan speel voordat ek weer aangekeer word om die tafel te dek vir aandete. Maar goed, “Die gevalle Zoeloe-indoena”:
“Jou lyf die glim soos koper op die veld /en grassaad buig oor jou hul môredou, /hier waar jy slaap /jou laaste slaap. /Jou spierwit pluime sidder nog net of jy veg, /maar langs jou lê ’n bloedstroom wat weggesink het in die sand; /jou hand lê willoos-slap en asvaal /langs die vlymskerp assegaai.”
En dan eindig die gedig met: “As die indoenas weer gaan veg, /die bulte lewe van hul wilde dans, /die skilde kletter en assegaaie blits /hoog in die son; /dan slaap jy nog, /dan slaap jy diep. /Jou vere wyd verstrooi deur son en reën, /jou lyf wat sag geglim het net soos koper, /dan weg, /en jy? /Die grassaad sal nog buig, /die beeste bulk, / die lewe roep, /maar jy? /Hier waar jy was, / sal skape wei.”
Hartseer. Die lewe gaan aan. Niemand dink aan die gevalle Zoeloe-soldaat nie.
As laerskoolkind – in die Apartheidsera – het die gedig my laat dink aan die Slag van Bloedrivier, en wat dit voorafgegaan het. Toe die Zoeloe-koning, Dingaan, vir Piet Retief en sy manne in Februarie 1838 oorrompel het, waarna die Afrikaner-boere in Desember dieselfde jaar ’n gelofte aan die Here gemaak het en bewaring teen soortgelyke aanvalle van Hom afgebid het.
Ek probeer om Van den Heever in die geskiedenis te situeer en te vergelyk met wat ek as kind ervaar het teen die agtergrond van my grootwordjare in Suid-Afrika. En hoe ek uiteindelik ná vier kinders en twee huwelike in Namibië MENS geword het.
Suid-Afrika en Namibië, twee lande wat soveel geskiedenis deel, en toe in 1990 VER-deel. En vier jaar daarna word Suid-Afrika ook demokraties. Die Slag van Bloedrivier word her-geïnterpreteer.
Van den Heever is gebore in die konsentrasiekamp van Norvalspont in 1902, aan die einde van die Tweede Vryheidsoorlog (Afrikaner teen Brit), die vierde van agt kinders. Ná die oorlog het die gesin mekaar weer op hulle plaas in die Trompsburgse distrik teruggevind, en daar het hy grootgeword. Van den Heever begin sy skoolloopbaan op ’n plaasskooltjie op Krugerspoor. Hy vertel dat die tyd wat hy in hierdie skooltjie deurgebring het, die enigste tyd was wat hy nie buite in die veld was nie. Meestal het hy en sy broers gehelp om sy pa se skape op te pas.
En Genoot, nou foeter ek terug na die gedig oor die Zoeloe-indoena se dood. Van den Heever is ’n bietjie meer as ’n halwe eeu ouer as ek. Op skool moes ek leer van die einste oorlog waartydens hy gebore is, asook oor die hewige Slag van Bloedrivier wat plaasgevind het nog vóór Van den Heever ’n vonkel in sy pa se oog was, en waaroor hy sekerlik ook op skool moes leer. En oor ander gedigte oor dood en verlies soos bv. Jan F. Cilliers se, “Dis al”, wat eindig op “dis ʼn graf in die gras,/ dis ʼn vallende traan./ Dis al.”
En vandag is Van den Heever se gedig vir my opnuut merkwaardig. Verlies kom noodwendig in die poësie aan bod. Ek bid dat wit en swart, dat ons almal in die suidelike deel van ons kontinent met ewewig aan ons komvandaan kan terugdink.
En dankie Ma. . .
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie