Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Die spoed van lig

Liewe Genoot

Verlede week het ons gesprek gevorder tot by metakognisie, wat daarop neerkom dat jy bewustelik inmeng in jou brein se aktiwiteite, téén gevestigde denkpatrone.

Dit is die punt waarop jy bewus word dat jou ou negatiewe program weer aan die deur klop om gemoedsbek*kking te veroorsaak. En nou is jy reg vir hom.

Jy gryp hom aan die agterpoot, wys hom die deur, en vervang hom met nuwe bloed. Iets positiefs. Jou brein vang die sein van beloning op, en registreer dit as ’n nuwe moontlikheid waarvan die beloningswaarde hoër is as dié van die vorige negatiewe ervaring. Dit staan ook bekend as ’n kwantumgebeurtenis (quantum effect). Tydens hierdie proses vind gees en liggaam mekaar op atomiese en sub-atomiese vlak.

Genoot, wat so fantasties is, is dat dit neerkom op ’n aktiwiteit wat totaal binne my en jou vermoë is – naamlik om waar te neem, om bewus te word van die self. As jy op hierdie manier bewus kan word van jou onbewuste self, staan jy op die punt van verandering.

Oor hierdie aktiwiteit van waarneming het ek meer te wete gekom uit die werk van David van Koevering (1940 - 2018). Van Koevering, ingenieur, wetenskaplike en uitvinder was Stigter van Elsewhen, ’n navorsingsorganisasie wat daarop gerig is om dit wat die Bybel sê, wetenskaplik te verduidelik en te verifieer. Hy het ook gewerk aan die bemarking van die Moog-musiekmetronoom (Moog synthesizer). Van hom word gesê dat hy die gawe van insig en waarneming het om dit wat hy sien, te definieer en om dinge wat onsienbaar is in geloof deel te maak van ons realiteit.

In sy navorsing het hy op sy beurt te doen gekry met die werk van Max Planck, Albert Einstein, Neils Bohr en ander, en geleer dat alles wat ons kan sien, deel is van ’n oseaan van oneindig klein partikels wat onder sekere omstandighede die vorm kan aanneem van onsigbare golwe, en tot ’n realiteit bevestig word die oomblik wanneer die navorser dit “raaksien”. Hy verklaar dat dit hom tot in sy diepste wese geskud het.

’n Interessante uitvloeisel van Van Koevering se navorsing wys daarop dat die spoed van lig deur die loop van die kosmos se bestaan verminder het! Volgens hom suggereer Bybelse gebeure dat die kosmos aan bandwydte verloor het. Die vloed in Noag se tyd is ’n voorbeeld hiervan: die spoed van lig het in so ’n mate verminder dat dit presies die frekwensies aangeneem het om die kleure van die reënboog moontlik te maak. Ook die chaos wat ontstaan het by die Toring van Babel het blykbaar te doen met die feit dat die mensdom die vermoë verloor het om in die boonste bandwydte se frekwensies te kommunikeer.

Van Koevering steun verder op die werk van fisikus en futuris, Gerald Feinberg (1933 - 1992). Feinberg het Albert Einstein se somme ondersoek, en het afgekom op ’n sekere sub-atomiese partikel genaamd tagis. (In Grieks beteken tachis “vinnig”.)

Hierdie lig-partikel wat vinniger as lig beweeg, is volgens Van Koevering die brug na die hoër bandwydte waardeur jy kennis kry oor dinge voordat dit werklik gebeur het. Volgens hom is daar genoeg bewyse dat hierdie super-lig tagis-tipe konneksies bestaan in die vorm van ’n fotoëlektriese effek in die Moog-metronoom van 1970, en presies verduidelik hoe CD en DVD-spelers vandag nog werk.

Genoot, ek slaan toe weer Heb. 11:1 na. ’n Vers waaraan ek as tiener vasgehou het as ek in onsekerheid gedompel was. “Om te glo, is om ... oortuig te wees van dinge wat ons nie sien nie.”

Nou het dit vir my ’n nuwe substansie. En ek verstaan beter hoe my fisiese wêreld deur God geskep en in stand gehou word. Dit dui op iets (grotendeels) buite my begrip van tyd, maar wel binne God se super-bandwydte en plan.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer