Briewe uit die binneland – Die kern van ons lywe (deel 2)
Liewe Genoot
Verlede week het ek dit gehad oor Pilates en wat dié dissipline vir my beteken. Twee maande gelede het ek hieraan begin meedoen en intens (en soms pynlik!) bewus geword van die beginsels van Josef Pilates. Daar word gefokus op die stabiliserende spiere van jou liggaam sodat jy effektief kan reageer (lees ‘beweeg’) wanneer omstandighede dit van jou vra.
Klassieke Pilates waarin Arlene Nel ons op oefenmatte begelei, versterk jou maag- en boudspiere, en die spiere van jou laerug en romp. Ek het begin oplet na die detail van my laerug se werwels wat vas en styf is, en wat verhoed dat ek vloeiend kan beweeg. Presisie in die beweging blyk belangriker te wees as die momentum self.
Interessant is die feit dat Pilates fokus op eksentriese bewegings waardeur die spiere langer bly werk (en fisies langer word), terwyl konsentriese bewegings waarmee die liggaamsbouers werk, kort en vinnige bewegings verg wat die spiere korter (en dikker) maak.
Ook Joga maak vir my al hoe meer sin, hoewel ek dit nog nie beoefen het nie. Die geskiedenis van Joga (met sy oorsprong in Indië, 5 000 jr. gelede), en Pilates, gevestig deur Josef Pilates in die 20ste eeu, verskil drasties. Maar daar is ooreenkomste in die metodiek, hoewel Pilates eerder fokus op die fisiese, terwyl Joga meer klem lê op die mens se bewussyn. Ek begin dink dat ek ook Joga moet leer ken. Soos om te leer dat ek tussen die gedagte in my kop en my daaropvolgende handeling eers halt moet roep.
Genoot, om rustig te wees, is vir my ’n hengse uitdaging. Veral in die stadium ná aftrede wanneer ’n mens moet terugstaan uit die hoofstroom, en wegbeweeg van roetines wat voorheen die verloop van jou dag bepaal het. Maklik is dit vir my nie.
Ek weet dat ek my daarop moet voorberei om teen ’n stadiger tempo te leef, en dit bring mee dat ek meer dink. Maar as ek klaar gedink het waar die muishond stink, gaan ek dalk dood! En dit wil ek nie nou al nie ... Verbrands!
Genoot, daar is vordering. Ek ontdek dat kalmte nie ’n toestand hoef te wees wat jy bereik eers nadat jy alles wat jy moes doen, klaar gedoen het nie. Want dan raak jy onrustig oor die volgende ding wat jy eintlik tog dan sou wou doen ... Rus is iets anders. Dis ’n in-aan-ding. Dis iets waar ek IN moet groei en AAN moet leer.
‘Mindfulness’ is belangrik. Sommige bronne vertaal dit met ‘aandaggewing’. Abstrak en nogal niksseggend. Die werkwoordkonstruksie ‘nadink oor’ werk vir my beter. Die psigologie van vandag sê dat die beoefenaar van ‘mindfulness’ met ’n oop gemoed en sonder om te oordeel, moet nadink oor die ervaring van die huidige oomblik. In die praktyk beteken dit dat mens jou omgewing en gewaarwordinge moet waarneem sonder om dit te onderdruk of na te streef ... of te wil oplos.
Die term ‘all rounder’ in krieket verwys na ’n speler wat redelik goed kan kolf en boul, en veldwerk kan doen, al is hy nie noodwendig ’n spesialis op een van die gebiede nie. Ek wil graag ’n all rounder in die lewe wees. Ek wil my lyf as ’n eenheid probeer opbou sodat my spiere doeltreffend sal saamwerk. Sodat my balans verbeter en die swak skakels van my laerug sterker word. Ek wil my kondisie verbeter. Genoot, ek klink nou soos ’n Landbouweekblad-joernalis. Maar ou vrou of ou koei: my kondisie is my kondisie.
Terwyl ek hier gesels, het ek ’n paar keer dinge uitgevee wat ek in my sg. navorsing gelees het. Soos dat ek insig in myself moet hê. Dat die waarheid in myself lê. Dat ek verantwoordelikheid aanvaar vir wat ek in myself weerspieël.
Maar ek wil myself nooit te ernstig opneem nie. Ek wil dat my siel en my lyf mekaar asseblief tog iewers raakloop. In die omhelsing van my geliefdes, en in die genot van ’n glas wyn. Of wanneer ek eenvoudig uit my maag uit lag oor iets wat snaaks is. So help my God.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie