• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Briewe uit die binneland – Dankie vir die myle se saamloop
Photo Caption
Photo Caption

Briewe uit die binneland – Dankie vir die myle se saamloop

Chrisna Beuke-Muir

Liewe Reisgenoot

Sestien jaar gelede, in 2014 het ek en jy mekaar ontmoet. Ek onthou so goed hoe jy geruik het. Jy was nie my eerste reisgenoot nie. Nie die eerste een met wie ek amper elke dag intiem vir ’n klompie jare saam sou gereis het nie. En vandag besef ek, ook nie my laaste nie. Maar vir my was jy die beste.

Ons het kilometers saam geloop. Ons, Manlief en die kinders, en kleinkinders. Heel dikwels ook net ek en jy. Die reguit suidepad verby Mariental, Keetmans en Grünau, rigting Namakwaland lê ver en wyd. Dan die Grens, ’n tipe mylpaal, iets tussen huis en ou tuiste, ’n noodwendige breuk in die reis. Dikwels was dit op die warmste deel van die dag dat ons dié geografiese skeidslyn bereik het. Dan was ons net mooi halfpad op pad Bredasdorp toe, dóérrr na die heel suidelikste tippie van Afrika. Waar Ma en Pa gebly het. 

Op die Grens word paspoorte uitgehaal en aan verveelde beamptes agter tralietoonbanke gewys. “Lady, do you perhaps have any meat in your car?” 

Dan maak ek die koelboks oop en wys die pakkie biltong vir die pad en dié op die toebroodjies. En ek bid dat ek nie gevra word om my tas oop te maak sodat die biltong tussen my klere ontdek word nie. 

Die Oranjerivier het ek en jy saam in die loop van die 16 jaar op verskillende hoogtes ervaar. ’n Wonderbaarlike verandering in omgewing ná die lang droë Suide. Soms het hy sterk geloop en daar was golfies op die rivier. Wit bootjies wat haastig stroom-af seil. Ander kere het die riete stom in die enkele poele langs die pad gestaan – nouliks roerend. Dan deur die koppies deur, en oor die nek, op pad Namakwaland toe. Daardie stuk pad met sy draaie was vir my altyd ’n lekker verandering wat ’n bietjie méér van ons bestuursvernuf gevra het as om net wakker te bly.  

Op pad Springbok toe word ons hier en daar verras deur ’n Kokerboom. Boom-alleen in die wye ooptes staan sy regop soos ’n formidabele koshuismatrone in ’n studiesaal van neergeboë koppe. Nader aan Clanwilliam se dam loop daar plek-plek ’n stroompie water in ’n kanaal aan die linkerkant van die teerpad. 

In die eerste vier of vyf jaar van ons saamreis, was daar nie selfone nie, en moes ons iewers langs die pad stop en vir Ma en Pa bel om te sê waar trek ons nou. Sodat hulle kon weet vir hoe lank hulle hulle nog oor ons moes bekommer. Hulle het hoeka hul oudste kind op die Suidwes-pad verloor. Lank terug in 1975. Ek was ’n bogsnuiter op Maties toe ek die aand die oproep in die koshuis gekry het. 

Op die langpad het ek baie gedink. Soms hardop. So alleen. Maar jy het my nie veroordeel en gedink ek’s mal nie. Geduldig en getrou het jy die kilometers in jou elektroniese geheue afgetel. Gereeld, eintlik meer as gereeld het ons op ’n dorp gestop. Net ter wille van afleiding, om weer wakker te voel, of om ’n watertjie af te slaan en brandstoffie in te neem – ek ’n hamburger en coke, en jy een of ander nie-alkoholiese, hoë-oktaan vloeistof. As ek teruggekom het van die toilette af het die beamptes jou oë weer mooi skoon gevee. En ek het nie meer die ritmiese tik-tik gehoor soos jou binnegoed afkoel nie. En as ek terugsak in jou skoot vir die volgende stuk pad het ek geborge gevoel.   

By Piketberg verby was dit afdraand Kaap toe. En as ons Sir Lowryspas oor is, en verby die bosrug van Grabouw, het die Rȗens oopgemaak voor ons. Aangekom by die eindpunt, kom Ma uit die huis en sê: Goddank. Die kind is hier. 

Verlede week moes ek wegstap van jou af hier by ’n verkoopplek in Windhoek. Jou kilometers het op 215 000 gestaan. En ek was hartseer soos op ’n begrafnis. 

Ek hoop jy rus mooi. Ek hoop iemand anders kry ook nog kans om jou te geniet en te waardeer. Of dalk skenk jy net jou organe aan dié wat dit nodig het. 

Maar Reisgenoot, vandag, VANDAG skryf ek die herinneringe saam met jou op.

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer