Briewe uit die binneland – Bruilof in die woestyn
Liewe Genoot
Saterdag het ons bruilof gehou. Op Gecko Ridge, so ’n paar klipgooie van Swakop af.
Ons wag op die bruid wat tussen die palmbome en die gaste moet stap tot waar haar bruidegom, hande plegtig gevou, staan en wag. Sy twee broers en die bruid se seun is die strooijonkers. So aantreklik, onderdanig en stil het ek dié drie nog nie gesien nie. Ligte broeke, groen sydasse en kraakvars wit hemde.
Die predikant, iemand wat in die vroeë 1980’s saam met my Junior Lektor was aan die Akademie vir Tersiêre Onderwys, staan gereed met sy oop Bybel en notas. En ek besef dat dit omtrent die tyd was toe ek swanger was met die bruidegom.
My notaboek is in my handsak. Twee weke vantevore het ek prof. Google gepols oor hoe die seremoniemeester haar behoort te gedra as sy die ma van die bruidegom was. Genoot, en uit die daaropvolgende stilswye maak ek toe die afleiding dat die seremoniemeester normaalweg iemand ánders is as die bruidegom se ma.
Ek troos my egter daaraan dat die Groot Energie my as prototipe geskape het vir ’n lewe waar konvensies eerder die uitsondering as die reël was. Ek maak my oë toe en vra dat die God van die woestyn, die see en die blou lug my wysheid sal gee om die dag vir my seun goed en mooi te maak, en om hom nie in die skande te steek nie.
Ek kyk na my hande en tone wat vir die eerste keer in jare weer naellak op het. Ek is intens bewus van manlief links van my, en my kinders se pa regs van my wat albei uiters nóú aan my verbonde is om verskillende redes. En ek voel op daardie moment so minuskuul klein dat ek regop onder ’n tóé deur sou kon deurloop.
Dan speel die platejoggie die lied, en my nuwe skoondogter kom pragtig aan die arm van haar pa die trappies op, voorafgegaan deur haar strooimeisies.
Die teksvers kom uit Genesis waar die Skepper, t. w. v. ’n hulp vir Adam, ’n ribbebeen uit Adam se lyf geneem en ’n vrou daar rondom gebou het. Alles in my rebelleer. Ek kan my nouliks die prentjie voorstel wat die teksvers skets.
“Ek hoor jou, Dominee! Maar nee,”dink ek.
Ek paai myself: “Rustig Chrisna, jy is mos bewus van die konteks, die híér en nóú.”
Dan eindig die dominee sy boodskap en sê dat hulle mekaar só, op daardie manier, moet bystaan en liefhê. En ek dink: “Amen.”
Ons ontmoet die ouers van die bruid. Die mans skud hande, en die vroue nader mekaar met ’n aangename kennis-drukkie. Ek en my nuwe skoonsuster maak oogkontak en her- en erken in mekaar die gemeenskaplike besit. Nee, verkeerde woord. Gehegtheid. Nee ook nie. Vervlegtheid?
Foto’s word geneem – alle moontlike kombinasies van groeperings. Die wind van die see af sorg vir ’n koeligheid onder die palmbome, en ons soek lafenis by die lapa waar die water reeds in wyn verander het.
Dis lekker om weer die kinders se pelle uit die ou dae te sien, en die nuwes wat in die tussentyd bygekom het. Ek is dankbaar dat hulle dié pilare van vlees en bloed rondom hulle gebou het. Die son sak laer en ons neem ons plekke in by die tafels onder die skaduwee van die palmbome.
Die seremoniemoeder doen haar werk. Gehoorsaam aan die elfde gebod, kondig sy die toesprake aan. Haar seun se jarelange vriend stel die heildronk in op die bruidspaar, opreg en uit die hart – in pittige Namibiese Afrikaans. Daarna stel sy die bruidegom se broer aan die woord, en verwonder haar aan die grasie waarmee hy hierdie situasie met sy sibbe hanteer.
En dan stel sy die bruidegom aan die woord. Haar seun. Rustig sê dié stil kind van haar net die nodigste. En die seremoniemeesteres word weer net . . . ma. Ma. En op daardie oomblik voel sy so groot dat sy sou moes buk as sy onder die Eiffeltoring sou moes deurstap.
NS: Genoot, die Pharos Afrikaans-Engels Woordeboek gee vir die Engelse woord “sibling” die Afrikaanse ekwivalent “sib”. Ek val nie goed op my oor nie. Wat sê jy?
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie