Briewe uit die binneland - Brein, hart en siel
Chrisna Beuke-Muir
Liewe Genoot
Ek lees in De Volkskrant dat ondersoeke aantoon dat die man op straat eintlik weinig kennis het oor die organe in sy liggaam, met die uitsondering van die brein. Op die buitelyne van ’n diagram van die mens se liggaam is die meeste korrekte terugvoer oor die harsings opgeteken. Die blindederm het die swakste resultate gekry, en ’n verdere interessantheid is dat mans blykbaar meer weet oor spiere as oor organe, en vroue, omgekeerd.
Elke orgaan doen sy ding: die hart pomp die bloed wat weer ’n reeks ander dinge doen, die longe gee asem, die maag voed ons, ens. Die brein ... Ja. Dit is ’n verhaal op sy eie.
Maar Genoot, my vraag aan jou is, waar is die siel gesetel? ‘n Mens se heel eerste reaksie is dalk dat dit in die brein moet wees. Ek weet nou dit sit nie in die hart nie, hoewel die hart en siel in religieuse terme in dieselfde asem genoem word. Die hart is immers ’n meganiese pomp. Die siel, glo ek, is ’n konsep wat enersyds met religie te make het, en andersyd filosofiese uitvloeisels het. (Op ’n ligter noot, vermoed ek dat my siel in my maag sou kon sit, vandaar die – vir my – gepaste woord, penspersepsie.) As leek het ek gesoek na wetenskaplike bewyse wat die siel kon opspoor en koppel aan ‘n orgaan in die menslike liggaam. Volgens die bekroonde neurochirurg, dr. Michael Egnor kon dit nog nie bewys of weerlê word nie (20 Mei 2025). As die mens tot sterwe kom, vergaan die liggaam met al sy organe en keer terug tot stoflike materie. Maar wat word van die siel?
Baie wetenskaplikes glo dat daar nie iets soos die siel bestaan nie, en dat die mens in geen opsig spiritualteit besit nie. Dat ons uit weefsels en selle bestaan en dat ons volledig gekontroleer word deur ons brein en ander fisiese organe. Dr. Michael Egnor, egter is van mening (o. g. v. sy 40 jaar praktykervaring en meer as 7 000 breinoperasies) dat wetenskaplikes verkeerd is ten opsigte hiervan. Hy vertel dat hy as jongman ’n materialis en ’n ateïs was. Sy fassinasie met neuro-anatomie en -fisiologie het hom egter laat verstaan wie hy is en wat dit beteken om ’n mens te wees, en hoewel sy akademiese en praktiese ervaring hom uiteraard beïnvloed het, het ’n ander, persoonlike ervaring “(on) how the brain works, and how it relates to the mind” hom later beïnvloed.
As leek sien ek dikwels die brein en die “mind” as een en dieselfde ding. Ek slaan toe die vertaling van “mind” na, en daaruit blyk dat dit juis die fyner onderskeid tussen hierdie twee entiteite (brein en “mind”) is wat ‘n mens nader bring aan die begrip “siel”. Ek kry opnuut respek vir die leksikograwe van Pharos Tweetalige Woordeboek (2005), want merk ek dat die kategorieë interpretasies (van mekaar onderskei deur ’n kommapunt) wat aan “mind” toegeken is, ongeveer ooreenkom met dié waarna dr. Michael Egnor verwys. Die Afrikaans vir “mind” word uiteengesit soos volg: “verstand, intellek (kommapunt) gees, gemoed, binneste, bewussyn, mening, sienswyse, opvatting, opinie, verlange, sin, lus, neiging. Die heel eerste twee, naamlik verstand en intellek staan apart van die volgende 12. Eersgenoemde twee verstaan ek as leek as ’n breinfunksie, en die ander verwys, wat my betref, na dit wat neig tot ’n spirituele “siel”.
Liewe Genoot, wees geduldig met my. Hierdie saak is vir my so interessant en omvattend dat ek dit in ten minste twee sessies sal probeer verwoord, en dan moet jy saamdink en as jy iets iewers raaklees wat kan help, laat weet my tog. Volgende week wil ek verder met jou gesels oor wat die neurochirurg, dr. Wilder Penfield, (geb, 1891) ontdek het op die gebied van die stimulering van senuweebane en die kartering van die brein. En ek wil jou ook verder vertel van dr. Michael Egnor se persoonlike ervaring. Tot dan: hou kop!
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie