Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Baklei, speel en. . . leef

Chrisna Beuke-Muir

Liewe Genoot

’n Hele spyskaart uitsoeksport word nou vir sportliefhebbers op TV opgedis. 

Tour de France, Wimbledon-tennis, Springbokke teen die All Blacks en die Wêreldbeker-sokker.

Dit vat my terug na my kinderdae in die Weskaap. 

Ek was nogal ’n tomboy. Ek moes dit wees, want die maatjies in die buurt was seunskinders, en as die huiswerk klaar gedoen is, het ons opgedraf op die grasperk by ons ouerhuise. Aan die einde van my laerskooldae het my ma my heel sag daarop gewys dat my lyf darem nie dieselfde is as die seuns s’n nie, en dat ek nie so hard in die skrum moes druk nie. En vir die eerste keer het ek daaroor begin dink. Ek het beslis op daardie stadium ’n voordeel gehad, want toe ek 13 was, was ek die langste meisie in my klas, en ook langer as die meeste van die seuns! Op daardie stadium kon ek gemaklik die rugbybal tussen die wasgoeddraad se pale loop plant, en die krieketkolf lekker hard swaai. 

Lekker dae. . . Boonop het dit opgemaak vir die feit dat ek as die laatlam in ons gesin, deur my sibbes dikwels as effe lastig ervaar is. Hulle wou my beslis nie in hulle span gehad het nie. 

Aan die einde van matriek was ek waarskynlik een van die kleinstes in die klas. Maar my liefde vir sport het gebly, hoewel ek op hoërskool netjies netbal en tennis gespeel het.

Vandag geniet ek die die T20-Wêreldbekerkrieket vir vroue ontsettend. Die vroue van die twee internasionale spanne stap op die veld, elkeen met ’n klein dogtertjie aan die hand. Die landsliedere word gespeel en die landsvlae oopgesprei. Die skare tel van tien af terug, en op nul hol die bouler in vir die eerste bal. 

Iets van my ma se geselsie van ’n stuk of 50 jaar terug bly in my onthou agter soos ’n suurdeegplantjie wat ’n brood moet laat gebeur. Voorheen was krieket slegs vir die manne. . . 

Maar op die veld is ’n span vroue met ’n gemeenskaplike doel: om so goed en hard as moontlik te speel om te wen. Hulle is nie daar om mans (noodsaaklik vir voortplanting) of ander vroue te beïndruk nie. Op die veld stap hulle nie noodwendig tipies soos manne nie, maar ook nie tipies soos vroue nie. Hulle stap soos vroue wat dinge moet doen. En dié dinge is fisies van aard. Ver verwyderd van ’n rekenaar of die eet- of spieëltafel. 

Die bouler moet die bal na ’n teiken boul ’n stuk of 20 m van haar af. En die drie paaltjies staan nie ontbloot nie. Dié word aggressief bewaak deur iemand met ’n moewiese stuk hout in haar hand wat daai bal sover as moontlik van die paaltjies af weg wil moker. Hoe verder weg, hoe meer lopies, en hoe groter die kans op oorwinning vir haar span. 

Haar hele wese is ingestel op die fisiese. En die krag waarmee sy daai bal foeter, is genoeg om ’n moontlike aanvaller op straat uit te skakel. Merkwaardig. Ook logies.

Genoot, twee dinge is immers vir die menslike spesie (man en vrou) belangrik – dit glo ek waaragtig. Om te kompeteer en om te speel. Elkeen van hierdie twee aksies kan teruggevoer word na ons biologiese samestelling. 

Vanuit die vrou se perspektief kom kompetisie ter sprake as sy dit wat hare is (haar kinders, haar man en haar huis) moet beskerm. Die element van spel staan waarskynlik tweede in die ry – ná kompetisie – want eers as dit wat joune is, nie bedreig word nie, kan jy die luukse element van spel in jou bestaan inbring om jou man en kinders daarop te wys dat hulle hulself nie te ernstig hoef op te neem nie. En dat wanneer die kompetisie verby is, die lewe voortgaan nadat jy jou opponent se hand geskud het.  

Genoot, het jy Saterdag die Springbokke teen Engeland sien rugby speel? Stem jy saam dat die brute harde spel tog ’n beskaafde funksie vervul? Dat dit sosiale “kontak” bewerkstellig wat as ’n tipe “aangename” opwinding ervaar kan word wat pa (of ma) staan vir die mees elementêre behoefte van die mens – om te kompeteer?

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-07-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer