Briewe uit die binneland – Afrikaans: Laat los ons haar so . . . of?
Liewe Genoot
As dosent het ek dikwels die kritiek op die lyf geloop dat “suiwer Afrikaans” nie hoog genoeg op my prioriteitsleer staan nie.
Daaroor voel ek in ’n sekere sin nog dieselfde, want ek wil nie dat my taal wêreldvreemd word vir haar moedertaalsprekers nie. Tog is dit soos steekgras in my sokkies as moedertaalsprekers net eenvoudig Engels inspan omdat hulle te lui is om te dink.
Omdat Afrikaans in Namibië geen amptelike status het nie, voel ouers dat hulle kinders eerder Engels goed moet kan beheer t. w. v. die toekoms. Verder redeneer hulle dat hulle spruite immers Afrikaans “ken”.
Privaat skole in Namibië wat gestig is om Afrikaans te bevorder, fokus al hoe meer op Engels om getalle te behou en fondse te verkry. Die onderrig van Afrikaans geniet nie prioriteit in ons land nie.
En ek dink aan die onderonsies wat ek as jong dosent met my vriend Piet van der Hoven (destyds verbonde aan die SWAUK) gehad het. Hy het toe gesê dat die media die taal maak. Ek stem in ’n sekere sin met hom saam. Soveel moedertaalsprekers luister radio en kyk TV. Maar die Afrikaans wat hulle vandag daar hoor, is vir my effe onder verdenking, veral wanneer onderhoude gevoer word met mense uit verskillende sektore van die samelewing. Op een van kykNET se kanale hoor ek in ’n program oor die stroop van renosters hoe hulle die renosters “dart”. Dit krap.
Genoot, nou vra ek jou: is dit nie die onderhoudvoerder se verantwoordelikheid om hierdie probleem te ondervang nie? Dit kan gedoen word deurdat daar eers voordat die program finaal opgeneem word, oor die onderwerp gesels word. Dan kan byvoorbeeld voorgestel word dat die gasspreker “dart” vervang met iets soos “verdoof” of selfs “pyl”. Dan aanvaar beide partye die verantwoordelik om die taal te verruim.
Nou hoor ek al die uitroepe van verontwaardiging teen hierdie voorstel: 1) die onderhoudvoerder moet tog die respondent die geleenheid gee om homself uit te druk en hom nie sleg te laat voel nie, 2) die respondent se status is so ver verhewe bo dié van die onderhoudvoerder dat dit nie lg. se plek is om sy gas reg te help nie; 3) dis nie nodig dat Afrikaans suiwer gehou moet word nie, want die taal is in elk geval klaar so “opgemix” met ’n klomp ander tale.
Hierdie redenasies maak die pad oop vir die minste moeite. Veral in ’n land soos Namibië waar daar in elk geval nie die nasionale struktuur is vir die instandhouding van minderheidstale nie. Behalwe dat Afrikaans hier geen minderheidstaal is nie, maar die Lingua Franca is.
Genoot, dalk hóór jy my. Maar hoe voel ons kinders hieroor? Kinders is erg oor hulle goeters. En taal is een daarvan. Is hulle skaam daarvoor? Of trots daarop? Of maak dit eenvoudig nie saak omdat hulle nie daaroor dink nie.
Teoreties word gestel dat ’n standaardtaal dié taal reflekteer wat die oorgrote meerderheid van die moedertaalsprekers praat, en nie die taal wat ’n klein presentasie sprekers bv. professore in die linguistiek voorskryf nie. Maar dit is tog daardie professore en lektore wat navorsing doen oor die ontwikkeling van relatief nuwe tale.
Prof. Fritz Ponelis het in 1977 tydens ’n lesing aan die Universiteit Stellenbosch die volgende gesê: “Standaardafrikaans gaan oor vyftig jaar lyk . . . (dit bring ons by 2027) soos die Afrikaans wat die kleurlingtienerdogter dit vandag hier in ons dorp (m.a.w. Stellenbosch) praat.”
Ek onthou daardie dag: Dit was 17 jaar voordat Suid-Afrika, en 13 jaar voordat Namibië demokraties geword het. Ek het na die klas onder die akkerbome deur terug koshuis toe gestap, en gewonder oor dié voorspelling. In my koshuiskamer het ek ’n nota gemaak dat ek rondom 2027 hierdie hipotese moes toets.
Vandag besef ek: dié voorspelling was in die kol.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie