Briewe uit die binneland – Afrikaans, bewaar-area vir Nederlands
Liewe Genoot
Die eerste stuk geskiedenis wat ek op skool geleer het, was oor die aankoms van Jan Van Riebeeck aan die Kaap in 1652.
En omdat Afrikaans en woorde vandag my werk is, dink ek steeds oor die vestiging van die Hollanders aan die suidpunt van ons kontinent, en oor die VOC, die instansie wat hulle soontoe gestuur het. En hoe Afrikaans überhaupt uit daardie gegewe ontstaan het.
Al wat ek op skool oor die VOC geleer het, is dat dit ’n maatskappy was wat ’n handelspos aan die punt van Afrika opgerig het om die Nederlandse skepe van vars voorraad vir die bemanning te voorsien.
Die seevaart óm die punt van Afrika op pad Indië toe was lank, die vis was sout en die matrose het skeerbuik opgedoen. Die Vereenigde Oostindische Compagnie, verduidelik prof. W. Pedia verder, was ’n aandelemaatskappy wat ’n monopolie van 21 jaar gehad het om met Asië handel te dryf. Daaruit het die Amsterdamse Beurs, die oudste aandelebeurs ter wêreld ontstaan.
Genoot, Afrikaans het dus haar ontstaan te danke aan die VOC wat wou sorg dat die Nederlandse seevaarders hulle groente, en ander gesonde goeters sou inkry sodat hulle die reis kon oorleef om weer veilig terug in Amsterdam te kan kom om die boot af te laai. Indien die Portugese of die Franse die Nederlanders voorgespring het, sou ons dalk Afrigees of Afrifrans gepraat het. Om nie eers te praat van die gevolge vir Afrikaans as die Britte heel eerste hier was nie.
Wie moet ons bedank? Boland Bank?
Nee. Die VOC.
Ek sou graag tyd wou spandeer in die argiewe waar die skryfstukke van Van Riebeeck en sy amptenare gebêre word. Ek wil weet hoe die taalwêreld gelyk het waaraan die Suidpunt se inwoners in die 16- en 17-honderds blootgestel was. Ek sou graag die stokou manuskripte versigtig wou oopblaai om te sien wat geskrywe staan in die voorbeeldmateriaal.
Ten minste ken ek iemand wat betrokke was by die transkripsie van die argiefmateriaal. Ek het dr. Helena Liebenberg, ’n gebore Pretorianer, ’n klompie jare gelede op ’n SAVN-kongres ontmoet. Sy was tussen 2001 en 2008 betrokke by VOC-transkripsieprojekte.
Van Riebeeck was, volgens haar artikel oor die Wes-Kaapse argief en die begin van Afrikaans (2018), ’n doeltreffende administrateur, en het gesorg dat elke belangrike gebeurtenis aan die Cabo de Goede Hoop opgeteken is, vanaf die eerste besluit, tóé nog aan boord van die skip, Drommedaris op 30 Desember 1651, tot die laaste resolusie op 16 September 1795 met die eerste Britse oorname waarin die voorwaardes vir oorname in Engels naas Nederlands opgeneem is.
Liebenberg gebruik in haar artikel die woord bewarea. Sy gebruik dit as ’n selfstandige naamwoord. As mens bewarea uitspreek, hoor jy ’n samevoeging van bewaar en area. Ek voel toe ’n bietjie skuldig omdat ek die woord nie ken nie, en sleep vir HAT aan sy dik, rooi lyf nader: “area waarin fauna en flora bewaar word”.
Toe ek Liebenberg se artikel lees, maak dit sin: Omdat Afrikaans uit 17de- en 18de-eeuse Nederlands ontwikkel het, en steeds in noue verband met moderne Nederlands staan, dien Afrikaans (en Afrikaanssprekendes) as die bewarea vir talle woorde wat tans in Nederlands vergete is of verouderd geraak het. Voorbeelde hiervan is ons veel gebruikte woord gesels (Ndl: praten), en dan ook flussies (so pas) en genant (naamgenoot). Ook die woord bra behoort tot die bewarea, maar nie in die betekenis van onderklere of die slengvariant vir pel nie, maar wel as die bywoord wat taamlik of nogal beteken: “Ek is bra gatvol vir hom.”
Ek is amper daarvan oortuig dat ons tieners nie bekend sal wees met flussies en genant nie. Ons jongklomp sal beslis die woord bra ken, maar waarskynlik nie in sy bywoordelike betekenis nie.
Genoot, vertel my of jy aan nog woorde kan dink wat besig is om die Afrikaanssprekende skoolleerders te ontglip. Ek wil hoeka volgende week hierdie gesprek voortsit.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie