• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Briewe uit die binneland – Afrikaans, bewaar-area van Nederlands (deel 2)
Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Afrikaans, bewaar-area van Nederlands (deel 2)

Chrisna Beuke-Muir

Liewe Genoot

Namibiërs kom toe met ’n hele paar woorde vorendag, soos verkneukel, lieplapper, aanstons, klopdisselboom en karring, wat besig is om vandag se praatAfrikaans vaarwel toe te sê. 

Die mens is ’n emosionele dier wat swaar afskeid neem, al is dit van woorde. So dink ek met liefde terug aan my ma wat my soms “allamapstieks” toegesnou het as ek die huis- en menswette volgens hul grootmensstandaarde oortree het. En vandag dink ek met liefde terug aan dié herinnering, opgesluit in ’n woord.

Ek wil verder vertel oor wat ek in Helena Liebenberg se artikel, “Die Wes-Kaapse argief en die begin van Afrikaans” op die lyf geloop het. Haar opdrag was om die Nederlands-Afrikaanse tekste uit die 16de en 17de eeu in Afrikaans te transkribeer. Die goeie nuus is dat hierdie transkripsies digitaal beskikbaar is en reeds deur VivA as korpus ontsluit is. Die pad vir verdere navorsing hieroor lê dus wyd oop.  

Onder Jan van Riebeeck se administrasie is tekste opgeteken oor die gebeure aan die Kaap vanaf 1652 tot ongeveer drie dekades daarna. In die Fort, die historiese vierpuntstruktuur in Kaapstad, het manne gesit en skryf. Hierdie tekste is deur dokumente uit Stellenbosch en ander buiteposte aangevul. 

Genoot, en om te illustreer hoe interessant dit vir die navorser kan word, kyk tog na die volgende transkripsie: Op Maandag, 8 April 1652 stap Jan van Riebeeck met die Fort se plan aan wal, vergesel van die mans op die Reijger, Drommedaris en Goede Hoop om die fondament te begin grawe (en dan gee Liebenberg die direkte optekening) 

“. . . 100 coppen, behalven d' officieren, adsistenten (let op die spelling), opperbarbiers.”  

Hieruit blyk dit dat die offisiere, assistente en die opperbarbiers die rolle met ’n hoër hiërargie vervul het, terwyl die coppen verwys na die res van die bemanning wat waarskynlik die basiese, growwer handewerk verrig het. Dat netheid vir die seemanne belangrik was, blyk uit die insluiting van barbier in die groep. Die manne se hare moes netjies wees. 

Volgens die dbnl (digitale bibliotheek voor de Nederlandse letteren) verwys barbier nie slegs na ’n soldaat wat die manskappe se hare skeer nie, maar ook iemand wat mediese take uitgevoer het. Die woord chirurgijn is soms as sinoniem vir barbier gebruik, wat die mediese nuanse verklaar.

Die verklaring van “koppen” was nog interessanter. (Die spellingsverandering, c tot k, het tussen 1800 tot 1900 plaasgevind.) En dit is ook dan wanneer mens bewus word dat Nederlands reeds 1 300 jr. oud is; dus ’n stokou taal in vergelyking met die bloedjonge eeu-oue Afrikaans. Van Dale se gratis aanlyn woordeboek gee talle gebruikswyses van koppen. Een daarvan is “manschappen: een schip met 600 koppen”.

Ook die woord combuijs klim saam van die skip af, en Liebenberg merk op dat hierdie woord presies só op die grondplan van ’n kaart van die Fort ingeskryf was. Combuijs het op daardie stadium tot die jargon van die seemanne behoort, en keuken was (en is vandag nog) die Nederlandse eweknie vir kombuis in Afrikaans. 

Pittig skets Liebenberg dat nog woorde soos “combaars en kooigoed en selfs kok saam met die seemanne aan wal gegaan (het) en. . . by die Kaapse strooidakhuisies en ander plekke ingedra (is)”. 

Genoot, in die 17de eeu was die afstand tussen beskaafde en boere-Hollands bitter klein. Afrikaans is gebore. Ek wil as moedertaalspreker myself oopstel dat Afrikaans verander, hoe nostalgies ek ook al voel oor sekere geliefde woorde. Ek wil vir my kinders vertel van die woorde wat besig is om te verdwyn.

Heimweë en deernis gaan daarmee gepaard. Maar ek wil ook saam met hulle die nuwe Afrikaans-inkommers wat aan die deur klop ervaar, en evalueer. Laat weet my tog as jy sulke inkommers raakloop. Ons móét oor hulle praat. 

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer