Briewe uit die binneland – Afrika is toe groter as wat ons dink
As klein kind het ek my wysvinger se punt gedruk op ’n kolletjie op die aardbol aan die punt van Afrika waar Ma my gewys het waar ek toe saam met hulle en my ouer sibbes gewoon het.
Later op skool het ek my vinger laat dwaal, verder noord na Amsterdam in Europa vanwaar my voorouers aan vaderskant meer as 300 jaar gelede van ’n ánder kontinent af gekom het.
’n Maand of wat gelede kom die aardbol op groter skaal in gedrang. Ene Robert Dussey, Togo se minister van buitelandse sake, gesteun deur lede van die Afrika-Unie dien ’n resolusie in tydens ’n sitting van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies. Hulle versoek dat ’n nuwe wêreldkaart erken word: een waarop Afrika noukeuriger en volgens haar ware grootte aangedui word.
Op 4 September aanvaar 164 van die lidlande die besluit. Regerings wêreldwyd word aanmoedig om die ou tradisionele Mercator-kaart wat sedert die 16de eeu gebruik word, te vervang met die Equal Earth-afbeelding wat geografiese punte noukeuriger weergee. Ses lande bly buite stemming. Die VSA is die enigste land wat daartéén stem.
Ek lees daarvan toe ek en Manlief in Addis Abeba wag op ons laaste vlug terug Namibië toe ná ons kort besoekie aan die Lae Lande. En ek besef ek het nooit voorheen die grootte van ons vasteland bevraagteken nie. Wie het dan so verbrands verkeerd gemeet?!
Terug in Windhoek soek ek verder. Volgens die Mercator-kaart lyk Groenland en Afrika ongeveer ewe groot, terwyl, volgens die Equal Earth-weergawe van 2018, 14 Groenlande in Afrika inpas!
Aldus die VN se verslag verbied hierdie besluit van 4 September nie die ou Mercator-kaart nie, maar moedig slegs die gebruik van dié van die Equal Earth-weergawe aan. Vóór die stemming motiveer Africa No Filter, ’n belangrike voorstander van die nuwe kaart, dit so (en ek vertaal): “Ons wil akkurate kaarte sien in skole, handboeke, nuusredaksies, besighede en digitale instansies wat miljarde mense elke dag gebruik.”
En vir die eerste keer besef ek ’n klein bietjie hoe deksels moeilik dit moet wees om ’n wêreldkaart akkuraat te teken. En dat akkuraatheid dalk nie bestaan nie.
Ek lees verder elke wêreldkaart is eintlik ’n tipe leuen, want om ’n bolvormige sfeer plat te maak, dwing noodwendig keuses af. Sommige leuens het egter gevolge, en op 4 September het die VN besluit dat een van daardie liegstories lank genoeg geduur het.
Die verhaal begin in 1569 toe Gerardus Mercator ’n kaart vir seevaarders geteken het wat ongetwyfeld sy doel gedien het, en wat gemaak het dat van ons voorouers aan die einde van die 1600’s veilig aan wal gebring is in die Kaap. Mercator se reglyne was ’n kompas wat gewerk het. Wat volgens geograwe egter in die slag gebly het, is die oppervlakte. Die Mercator-kaart rek die wêreld uit namate dit die pole nader. Daardeur word Groenland in so ’n mate vergroot dat dit lyk asof dit byna net so groot soos Afrika is. Ook Europa, Rusland en Noord-Amerika word op hierdie manier groter, terwyl die gebiede rondom die ewenaar – en veral Afrika, ’n kontinent met 1,5 miljard mense – stilletjies ineengekrimp word.
Geteken op ’n gelykarea-projeksie (volgens die Equal Earth-afbeelding), blyk dit dat die vasteland van Noord-Amerika, China, Indië en die meeste van Wes- en Sentraal-Europa gesamentlik binne Afrika pas, met die Horing van Afrika, Madagaskar en ’n aansienlike deel van die Sahara wat nog oorbly. Afrika se 30,4 miljoen vierkante kilometer oorskry dié van die VSA, China en Indië saam met ongeveer ’n derde!
En Namibië, ons land met sy uitgestrekte woestyn? Volgens prof. Internet, gemeet aan die persentasie mense van 15 jaar en ouer wat kan lees en skryf, het ons land die vierde hoogste geletterdheidsyfer (91,5%) uit 54 Afrikalande. Die Seychelles staan eerste met 95,9%, en die RSA is nr. 10 met 87%.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie