Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Doen dit self

Liewe Genoot

Ek sou graag vir Manlief wou vra waaroor hy wou hê dat ek hierdie Dinsdag moet skryf. En dan dink ek aan die Nederlandse gedig van Martinus Nijhoff waar die liriese digter by sy geliefde in die kombuis staan terwyl sy besig was. Hy wag dat die fluitketel begin kook en die wasem opwaarts skiet, en vra dan: “Waarover wil je dat ik schrijf?”

Daarna verduidelik hy hoe sy geliefde dan bont staan om alles te doen wat ’n mens moet doen om die koffie in die bekers te kry. En dan haar doodloopstraat-antwoord: “Ik weet het niet.”

Ek weerhou my daarvan om vir Manlief dié vraag te vra, want ek het ’n vermoede dat die eenvoudige en eintlik vanselfsprekende antwoord my sou kon platslaan as ek hom nie so goed geken het nie. Ek weet immers sy kop mik nie nou in die rigting van ’n rubriek nie, maar kies koers saam met water wat in pype moet vloei na damme waarvandaan mense in die noorde van ons land hul ketels moet kan volmaak en die waterkrippe van hul diere.

Genoot, ek wil vandag skryf om te soek na ’n werktuig wat ’n plan kan maak met wanhoop wat oor my pad kom en my lewensvreugde eenvoudig onder my voete wegvee. Soos ek die kwantumfisika verstaan, is daar dinge wat ek kan doen. En ek wil aansluit by my gesprekke van die afgelope twee weke oor die bevindinge van die neurochirurge.

Waarby ek vandag wil uitkom, is die pad na self-breinchirurgie, ’n term wat die neurochirurg, dr. Lee Warren gebruik. Dit verwys na wat jy self kan doen om jou brein vir jou te laat werk om minder vatbaar vir gedagtes te wees wat jou ongelukkig en passief maak.

Die mens is immers toegerus met ’n brein wat in werklikheid ’n kwantumrekenaar van hoë gehalte is. Die bedrading, selle en vesels is daar. Blykbaar is ons net nie opgelei om dit behoorlik te gebruik nie. Die neuroplastisiteit van ons brein is die vermoë om hom – sonder enige fisieke ingryping van buite – aan te pas, te herorganiseer en letterlik nuwe verbindinge te skep in reaksie op ervarings, dit wat ons leer, of byvoorbeeld na ’n besering.

Nuwe sinapses word gevorm en bestaandes word versterk. Ouer paaie na negatiewe denkwyses word vervang met ander paaie wat na gesonder positiewe ruspunte lei.

Volgens prof. Caslav Brukner, kwantumfisikus aan die Universiteit van Wene, is dit nie slegs die realiteit ten opsigte van tegnologie wat deur kennis van kwantumfisika kan verander nie, maar ook die begrip van ons werklikheid self. Dit bring my by die vraag: Wat is mý werklikheid?

Volgens Warren is daar vier benaderings ten opsigte hiervan: Die eerste is dat my werklikheid pessimisties is en dat niks my kan help nie. Die tweede moontlikheid noem hy die “10%-gelukkiger-modus”. In dié geval glo jy dat iets soos byvoorbeeld meditasie vir jou vir ’n gedeelte van die tyd verligting kan bring. Die derde senario is dat jy glo dat die wetenskap jou kan help. Die neurowetenskap van die 20ste en 21ste eeu sluit immers aan by die kwantumfisika van die 21ste eeu. Die manier waarop ons aandag skenk aan die wêreld om ons, en hoe ons daarmee omgaan, kan ons werklikheid verander. Dit is bepalend vir onsself en vir die mense om ons. Ons het tot ’n mate beheer oor dinge wat met ons gebeur en is nie bloot die produk van ons breinselle wat as’t ware deur evolusie opgebou is en op gegewe impulse in ons hoofde afvuur nie. Die kwantumfisika sê dat jy beheer het oor jou lewe om dinge vir jouself makliker te maak en dat jy medeskepper van jou eie welsyn is.

En die vierde benadering? Dit is gelyk aan die derde een wat op die wetenskap gebou is, maar met één verskil: Jy is deur die Groot Kwantumfisikus gemaak vir ’n spesifieke doel. Hy het jou toegerus met die vermoë om jou breinkrag te gebruik om met Hom te kommunikeer sodat Hy jou gees kan vernuwe en jy oorvloedig kan lewe.

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer