Briewe uit die binneland – Die langpad Kaap toe
Liewe landgenote
Vandag kom die brief uit die Boland waar ek gebore is en grootgeword het.
Want ’n week gelede vat ek toe die pad Kaap toe. Alleen. En dis nie sleg nie. Ek bly besig, want ek het ’n motor wat nog ’n petrolpedaal en stuurwiel het waarmee ek dinge moet doen. En nou wonder ek of my kleinkinders se kinders eendag Kaap toe sal ry in ’n motor wat hulle vooraf programmeer. Dan hou hulle stil by ’n kragstasie 500 km verder aan sodat die “bestuurder” kan uitstap en die kragprop kan indruk, want ryding moet weer krag vir die volgende stuk pad opbou.
Ek kom vroeg weg, want as jy weet jy ry die volgende dag alleen, gaan jy kastig vroeg slaap. Jy nestel aan teen manlief, want jy gaan hom mis. En dan raak jy nie sommer aan die slaap nie. Teen vieruur word jy wakker en dink aan al die laaste goedjies wat jy nie moet vergeet nie. Die brille en die pille. En dan staan jy maar op en val vroeg in die pad, want of jy nou in die bed wakker lê, of agter die stuurwiel sit. Wakker is jy wakker.
Rehoboth se vroegoggend verkeer, op Mariental rek ek bene. Op Keetmanshoop stop ek en tap petrol in en loop ’n draai. Op Grünau koop ek ’n tuisgemaakte wildsvleispasteitjie. By die grens vra die beampte vir my hoeveel mense in die motor is, en toe ek hom vertel, sê hy: “Ma’m, you are not allowed to drive alone, you are too . . .” En toe gluur ek hom aan en maak my reg vir die o-woord, en toe sê hy . . . “young”. En ons albei lag.
Oor die Oranje . . . Die God is goed vir my. Hy bewaar my. Hy laat my goeie dinge dink en wring met sagte hand die moegheid uit my lyf uit. Op Springbok oornag ek. Ek is in die Republiek.
Nou’s dit kort pad Stellenbosch toe. Ek verwonder my opnuut aan die berge en ek sien oranje lemoene aan die sitrusbome. Ek ry langs waterkanale en wingerde wat ek so lanklaas in die herfs beleef het. Ek stop by Clanwilliam se dam en tel ’n herfsblaar langs die vuilisdrom op. Plataanboom s’n? Hy is so groot dat hy ’n welbedeelde Adam se gereedskap met gemak kan bedek sodat Eva nie naasteby ’n idee sou kon hê wat daaronder weggesteek is nie.
Nóg wingerd, nóg bome met rooi en geel vrugte, olyfbome – en dan uiteindelik, ver, ver weg en wasig . . . Tafelberg! En ek mag dit alles beleef. Woorde skiet te kort.
Die Saterdag het ons ’n niggie-reünie. Die niggies en aangetroude neefs ontmoet mekaar op Boschendal.
Van die niggies het ek laas gesien toe ek nog op laerskool was. En wat lekker is van so ’n reünie, daar is altyd niggies wat ouer as jy is. En húlle sê vir my dat ek goed uitgedraai het, want toe hulle my laas gesien het, was ek regtig lastig. Wou altyd saam met hulle en my ouer sus en broer wees, en dit kon nie. Ek was – eintlik IS ek nog steeds (dit is Sus Riana en Boet At wat nie meer is nie) – nege en vyf jaar jonger as my sibbes. En ’n stertjie het die ouer kinders nie verdra nie. En natuurlik het hulle gepraat oor dinge wat klein snip nie mag gehoor het nie.
Ek besef nou hoeveel ek al die jare in Namibië terugdink aan my kinderdae op Bredasdorp en aan die Desembervakansies op Kleinmond. Beelde doem in my geestesoog op met elke niggiekarakter in haar plek. En as twee broers uit een familie met twee susters – hopelik uit ’n ander familie trou, dan is die kinders dubbele niggies van mekaar. En ek het sulke dubbele niggies, wat dan eintlik meer . . . ja sowaar . . . soos susters is!
En ek besef hoe goed Namibië vir my was . . . en steeds is. Iemand het my ’n ruk gelede die woord “inkommer” toegesnou. Maar ek sê, dankie, my Droë Mooi Land. Vir jou het ek lief. En ek is so dankbaar dat jy my 42 jaar gelede in jou hart toegevou het.
En as ek oor ’n week terugkom huis toe, bring ek nuwe beelde van niggies onder die eikebome saam. Dié beelde gaan ek voortaan in my kop onder jóú kameeldoringbome en swarthake vertroetel.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie