Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – As jy skip is, moet jy seil

Liewe Genoot

Dit is die Dinsdag voor die Donderdag wat jy moet ry om op die Vrydag, 400 km die suide se semiwoestyn in, ’n podium-program te gaan aanbied.

Wat ek van die Groot Energie gevra het, dat Hy seblief vir my die geleentheid sal skep om konsert te hou, het Hy nogmaals in my skoot laat val, en dan mag ek dit mos nie van die hand wys nie.

Uiteraard wil die skip wat in die hawe van aftree-veiligheid lê, tog vir ’n uur of wat uitvaar tussen die golwe, die oop see in. Dankie Stefan Steyn vir daardie beeld.)

Nog steeds in die hawe, moet ek materiaal kies, ’n program saamstel en woorde leer. Ek betrek adjudante wat saam met my die oopsee sal aandurf. Ek moet hulle leer om die seile te laat sak en op die regte moment op te trek. Die meeste van die tyd sal ek self die seil moet wees wat deur die wind gevat en oor die branders gepluk word. Daar is tye wanneer ons onderlinge aksies mekaar nie met die nodige aanvoeling opvolg nie, tye wanneer ons oor gladde woorde gly en moet teruglees, en dan weer stadig teen die mas moet uitklouter vir weer probeer.

Ons onderneem ’n paar toetsvaarte net buite die hawemure. Goddank keer ons telkens veilig terug – effens wyser en ’n bietjie handiger met woorde en tydsberekening.

Op ’n stadium moes ons by die droogdok vasmeer om ’n paar reparasies aan die teks aan te bring en om nuwe proviant op te laai. In hierdie veilige droogdok van my vriendin en haar suster se musiekwinkel word die skip se maste verseker as die klanksisteem nagegaan en die skipper versterk word. Knoppies word gedruk en punte skoongemaak om ’n gladde uitvaart te verseker.

Die skipper wie se eerste liefde eintlik maar die see van woorde is, word deur haar vriendin en haar manskappe met ’n sagte hand geleer om self die tegniese dinge te probeer verstaan. Skipper se bemanning is dié keer min.

As skipper van dié klein boot moet sy soms gelyktydig stuurman en skeepskok wees en soms ook matroos wat die drade oprol en die mikrofone wegpak. Die droogdok van note en musiek ontaard vir ’n uur of wat in ’n werksruim waar swaar toerusting tussen die steiers en ander maste rondgesleep word. Die tegnikus in beheer (wat ’n week gelede nog in die hospitaal gelê het), hol tussen die verskillende stasies rond. Die twee vroue, self skippers van hul eie boot van klanke en musiekinstrumente, dra koffie aan, maak fotostate en doen dinge wat heeltemal nie van hulle verwag moet word nie. Hulle staan met wringende hande, bemoedigende oë en toekyk, gee raad en draai loshangende kabels op hulle plekke vas.

Die volgende dag vat ek, manlief, kleinseun en kitaarman die pad Suide toe. Uitgestrekte vlaktes, sag en geel van die gras met hier en daar ’n doringboom, sprei hulle voor ons oop vir geniet. ’n Knoets van ’n kop doem hier en daar uit die sagtheid op en maak dat skipper na die uitvaart uitsien.

Op Hammerstein aangekom, oefen skipper en kleinseun stukke gedigte. Hulle proe nogmaals die woorde en laat die klanke op die tong rondrol terwyl hulle die branders van die oop see probeer antisipeer. Kleinseun neem geduldig Ouma-skipper se regisseursnotas in, terwyl Ouma self dink dat hy dalk op daardie oomblik liewer saam met sy maters iewers anders sou wou wees.

Die aand van die uitvaart breek aan. Die laaste kort klanktoetsseine word na die ligtoring uitgestuur en die see maak oop voor ons. Kopmikrofone op, verlaat skipper en haar kleinseun die hawe.

Die see lê oop en stil voor ons. Ek doen die intro-vers en kleinseun praat sy eerste verse in harmonie saam met my. Op ’n stadium vang ek sy oog en kry ’n skalkse glimlag van erkenning dat dit wat hy saam met my doen, hierdie nuwe seereis buite die hawemure, vir hom goed is. In die woorde van Antjie Krog word ek ’n weerligslingeraar op die oop see en ’n opraper van vreugde saam met my kleinseun. En ek dank die Groot Kompas vir sy goedheid.

As jy skip is, moet jy seil. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-09-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer