Foto Pexels/Brett Ssayles
Foto Pexels/Brett Ssayles

Boodskap in aanloop tot Kersdag

Geskenke onder die boom – elkeen met ’n naam



Nadat al die geskenkpakkies toegemaak en opgetooi is met blink linte, word daar naamkaartjies of naamplakkertjies op elke geskenk gesit. Eers dan word die geskenke onder die boom gepak, elkeen met sy eie naam op, sodat die persoon wat dit uitdeel, kan weet watter geskenk om voor wie neer te sit.

Die feit van ’n naam word regdeur die Bybel gevind en daar is bykans ontelbare tekste in die Woord waarin daar na ’n naam verwys word. ’n Naam is belangrik – want dit is jou stempel, jou kenmerk, hoe jy geken word. Jou naam is jý! En soos die ouer mense altyd sê – jou naam loop jou vooruit – en dis so waar. Baie maal ken mens al iemand se naam en skep jy al vir jouself ’n indruk van daardie persoon, selfs lank voordat jy hom/haar leer ken of ontmoet het. ’n Naam kan tekenend wees van ’n persoon se lewe en ’n naam kan deur God gegee word – soos jy in die aanbevole tekste sal kan lees. Soms gaan mense – ook in die Bybel (Bv. Abram na Abraham, Genesis 17;5-6) deur ‘n proses van naamsverandering – wat dan meeste van die tyd dui op ’n nuwe rol in daardie persoon se lewe. Jesaja 43:1 – “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.”

Ons hoef nie bang te wees nie, want dié God wat ons geskep het, is ook die God wat by ons is. God het jou en my op ons naam geroep, ons uitverkies om Syne te wees. Ons is kosbaar in Sy o?. Daarom hoef ons die moeilikhede en swaar en seer waardeur ons moet gaan, nie te vrees nie. En, die oomblik wat jy God aangeneem het, Sy kind geword het, is jóú naam opgeskryf in die boek van die lewe. Hier is ’n wonderlike versekering deur Jesus vir jou Openbaring 3:5 – “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en sy engele verklaar dat hy aan My behoort.” En Johannes 14:13-14 – “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Ons moet goed verstaan dat dít wat ons vra, in Jesus se Naam moet wees. Dit beteken dat dit op grond van Christus se werk en in ooreenstemming met God se wil moet wees. Hy sal nie vir ons dinge gee wat indruis teen Sy wil nie, selfs al hét ons daarvoor gevra. As ons die Here opreg volg en waarlik volgens sy wil probeer leef, sal die dinge wat ons vir Hom vra, ook in ooreenstemming wees wat Hy wil hê en dan sal Hy dit vir ons gee. (Geneem uit notas van “Die Bybel in Praktyk” – Johannes 14:14) En dan, die belangrikste en mooiste van alle name: “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die naam gegee wat bo elke naam is” (Filippense 2:9).



My gebed vir vandag:

Here God, baie dankie dat U my so liefhet, dat U my so ken, dat U my op my naam geroep het. Heer, dankie vir U Naam – dankie vir U en dat ek na U wil kan soek en daarna kan vra in U Naam.



Sleutelverse vir verdere lees wanneer jy stil raak:

Filippense 2:9; Hesaha 43:1-4; Openbaring 3:5 en Johannes 14:13-14.



– Theresa van Zyl

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer