Boetie en sy ‘half sisters’
Kry onlangs ’n uitnodiging na die troue van ’n vriend se kind. Soos dit vriende betaam, daag ek en die Duitser toe die middag by die kerk op en alles verloop seepglad.
Die strooijonker soek nie na die ring nie en toe hy dit het, laat hy dit ook nie val nie. Nee, alles was voor die tyd goed geoefen, soos dit hoort.
Die dominee vra toe die vraag, dis nou net voordat hy die tweetjies vra om die ringe aan mekaar se vingers te steek, of hulle van enige wettige rede weet waarom hulle nie in die eg verbind mag word nie.
Natuurlik sê albei nee want dis so half en half te laat om nou ja te antwoord. Verder sit die pa van die bruid daar met ’n overdraft want hy moet instaan vir die kos en die drank wat op die onthaal verorber en geslurp gaan word en dis alles al bestel, afgelewer en betaal.
Ná die troue vra ek vir my predikant-vriend vir wat vra hulle altyd dié vraag want dis mos iets wat voor die tyd uitgeklaar kan word. Hy sê toe nee, hulle moet tot op die laaste seker maak dat die paartjie nie dalk só nou verwant is aan mekaar dat die huwelik volgens wet nie voltrek kan word nie.
Sy verklaring was duidelik en aanvaarbaar, maar dit het my onmiddellik aan die volgende storie laat dink.
Die Capie kom by sy pa waar dié en sy ma in die kombuis sit en gesels en hy val sommer met die deur in die huis.
“Dêddie,” sê hy, “Ek hette girl gekry en ek dink ek gaan ha’ my bride maak.”
“Wat’s ha’ naam, Boetie,” vra sy pa.
“Cheryl Davids,” sê Boetie.
“Wa’ bly sy,” vra die pa.
“Sy bly hie’ innie onner-dôp,” sê die outjie.
Sy pa staan op en vat hom aan sy arm uit die kombuis tot op die agterstoep.
“Nei Boetie,” sê die oukêrel gedemp, “djy kannie met ha’ trou nie, sy’s djou half-siste’, ma’ moenie lat djou ma hie’van hoo’ nie, ná?”
Die tyd gaan verby. Boetie herstel van sy gebroke liefde en na so sewe maande kom hy weer een aand by sy pa.
“Dêddie, hier’ie slag het ekkie regte girl gekry. Ons speel nou al vie’maan’e true love en sy’t gesê ons ka’ma’trou,” sê hy.
“Wat’s ha’ naam,” vra sy pa. “Sy’s Mavis Windswael en sy bly da’ boe in Constitutionstraat,” spring hy die ouman voor.
Sy pa dink ’n oomblik en vra dan, “Bly sy in ’n pienk hys met sukke wit pillars oppie stoep,” vra hy.
“Dis net soe,” sê sy seun. “Boete, ek is djamme’, ma’ djy kan okkie met ha’ trou nie want sy’s djou anne’ half-siste,’ kom die verdoemende uitspraak.
“Hourit net stil vi’ djou ma,” sê die pa.
Boetie besluit hy het genoeg van half sisters gehad en gaan bekla sy lot by sy ma. Hy vertel haar van die gulde geleenthede wat as gevolg van sy pa se nonsens, neusie verby is en hy sê sy ma moet hom raad gee.
Sy ma het hom só gekyk en dit was duidelik dat sy haar gedagtes rangskik en haar woorde mooi tel.
“My kind, ek kry djou genuine djamme’ want dis waar. Ek wiet al djare land van djou twie half sisters maar ek het nie lat djou Deddie dit agte’ gekom hettie. My raad aan djou is short en sweet. Trou met Mavis want afte’ all, djou pa is okkie djou pa nie.”
Boetie-hulle het al twee dogtertjies, Mavis en Cheryl, oupa en ouma se oogappels. Die liefde oorwin alles, staan geskryf. – 7 Oktober 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie