Renu00E9 Hugo
Renu00E9 Hugo

Boekagtig, boekerig, boeke!

Sê maar net
René Hugo

My ouers het ’n nuwe huis gekoop toe ek agt jaar oud was. 

Die vorige eienaar het ’n klompie weggooigoed in die erf agtergelaat. Soos dit ’n kind betaam, het ek graag daar gaan grawe. 

Onder die gemors het ek toe op ’n boekie Dear Enemy – geskryf deur Jean Webster – afgekom. Ek het juis so pas die verfilming van die eerste boek in dié reeks Daddy Longlegs (wie kan vir Fred Astaire en Leslie Caron vergeet?!) gesien en was dus baie opgewonde oor hierdie “vervolg”-verhaal.

Die boekie het my meer aangegryp as die film en het werklik deel van my lewe geword. Ten spyte van al die los blaaie – gelukkig was almal nog daar – het ek dit so een maal per jaar (en soms meermale as ek hartseer/omgekrap was) met vreugde gelees.

Maar die boekie op die ashoop laat my dink aan ander gebeure waar boeke verbrand of weggegooi is.

Seker een van die belangrikste hiervan was die biblioteek in Alexandrië, Egipte, wat afgebrand het – ’n fenominale gebou wat sowat 700 000 boekrolle gehuisves het.

Wetenskaplikes soos Eratosthenes, wat die omtrek van die aarde bepaal het, en Hero van Alexandrië – wat (ongelooflik!) toe reeds die eerste konsep vir ’n stoommasjien ontwerp het – het hier gewerk. ’n Groot deel van die biblioteek is in 48 v.C. deur Julius Caesar verwoes.

En dan was daar natuurlik die verbranding van boeke op 10 Mei 1933 in baie Duitse universiteitsdorpe deur die minister van propaganda, Joseph Goebbels. 

Die doel hiervan was skynbaar om alle boeke wat demokrasie, pasifisme en menseregte onderskryf het, uit te wis. Só is belangrike materiaal van denkers en skrywers soos Albert Einstein, Helen Keller, Ernest Hemingway en Sigmund Freud vernietig.

Dié stories uit die verlede laat my toe wonder oor Afrika se pioniers – en of boeke ook vir hulle belangrik was? Net soos meeste Voortrekkers het Namibiese pioniers grootliks op die Bybel as lees- (en leer-)stof staatgemaak.

Natuurlik, as mens in ag neem dat daar baie sendingaksies hier was, is dit ook nie vreemd om uit te vind dat ’n vertaling van die vier Evangelies die eerste gewilde leesstof was nie.

Dis in die Nama-taal geskryf deur eerw. Johann Schmelen en sy vrou van Bethanie. Ons weet ook dat die vroegste handelaars en ontdekkingsreisigers soos Axel Eriksson, Frederick Green en Charles Andersson nooit die “Namibiese onbekende” ingegaan het sonder ’n kas boeke op hul wa nie. 

Hulle was dus ernstige lesers wat ook self geskryf het oor die dinge wat hulle gesien en beleef het. En vandag nog is Andersson se Lake Ngami en Okavango River gesogte leesstof en steeds waardevolle boeke vir die kenner, die versamelaar en die leesgieriges.

Maar in hierdie moderne tydperk van ons, is ons egter ver verwyder van die pioniers se boeke, want ons lees mos elektronies.

Daarom wonder ek:

– verskaf die elektronies boeke soveel vreugde soos die gedrukte eweknie?

– sal die elektroniese boek ook ’n leeftyd van oor die eeue hê?

– gaan daar ook iemand wees wat (in hul onnoselheid?!) die elektroniese boek wil “verbrand” of vernietig?

Dit bring my terug na my begin-storie oor my ashoopboekie. Toe ek 50 geword het, het my sus Marie die boekie laat oorbind. 

So staan dit vandag nog op my boekrak: As herinnering aan ’n agtjarige leesgierige en ook in eerbied aan alle skrywers wat ’n storie het om te vertel. Mag hulle lank lewe!


“Books are the quietest and most constant of friends; they are the most accessible and wisest of counsellors – and the most patient of teachers.” – C.W. Eliot

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer