Boedels en testamente in Khomasdal (Deel 6)
DIETER IAN MAREE SKRYF:
My dierbare Dallers, ons gaan vandag gou vinnig en ernstig met julle praat wat huise en woonstelle in Windhoek besit.
Die situasie kan nogal heel emosioneel raak as jy nie mooi kophou nie. So kom ons kyk hoe lyk ’n paar basiese, plat-op-die-aarde-feite.
In wese kan ’n nieroerende eiendom slegs oorgedra word (vanuit ’n boedel) waar daar aan sekere vereistes voldoen is.
Waar daar enige veranderinge of aanpassings aan ’n huis, land of struktuur gemaak was, moes hierdie veranderinge in ’n plan deurgegee was aan City of Windhoek vir die goedkeuring van ’n inspekteur.
Waar die inspekteur vind dat die land, gebou of struktuur wel aan alle veiligheid en gesondheidsregulasies voldoen, gaan hy ’n Building Compliance Certificate uitreik.
’n Nieroerende eiendom kan ongelukkig onder geen omstandighede oorgedra word sonder die goedkeuring van City of Windhoek en sonder ’n sertifikaat wat die goedkeuring bevestig nie.
En nog ’n basies plat-op-die-aarde-feit, is dat die meeste huise in Khomasdal deur bejaardes besit word.
Nou. . . hier is ’n tipiese, kom-ons-m**r-mekaar-scenario.
Onse geliefde moeder kom tot sterwe. Alles wat sy ten tyde van dood besit het, gaan nou in ’n boedel val. En dit sluit die tweeslaapkamerhuis met die rotstuin ook in!
Wie is in beheer van die boedel? Die eksekuteur? Maar was daar ’n testament wat voorsiening gemaak het vir die aanstelling van ’n geskikte of bevoegde eksekuteur?
Stel julle voor die huis wat nou in ’n boedel val, is non-compliant. Jou eerste uitdaging gaan wees om konsensus te kry onder familielede rondom die aanstelling van ’n kalm en volwasse eksekuteur.
Die tweede uitdaging is wie of watter familielid gaan verantwoordelikheid aanvaar om die struktuur binne die raamwerk van die stadsvaders se regulasie te kry? Hier praat ons van afbreek, omstoot, hond se hok skuif, inspeksie doen, nuwe plan optrek, goedkeuring van die plan, boumateriaal aanskaf en ’n winddronk, maar wipgat ambagspannetjie daar by Beukes se stoepe saamroep.
Waar gaan die geld vandaan kom vir bg. aktiwiteite veral ná ’n begrafnis en al werk onse flukse spannetjie ook net vir drank en geselskap?
Die beste advies is dus om ’n proaktiewe benadering te volg waar ’n geregistreerde eienaar van nieroerende eiendom kan aangeraai word om sou gou as moontlik aansoek vir ’n Building Compliance Certificate te doen al was daar geen onlangse aanpassings aan ’n huis/struktuur nie.
Sou die inspekteur bevind dat daar wel gebreke rondom compliance bestaan, kan hierdie gebreke betyds aangespreek word om die eiendom compliant te kry.
In baie gevalle verg dit ’n nuwe plan wat moet goedgekeur word en geweldige bouwerk aan ’n huis/struktuur, maar dan sal die eienaar finansieel meer voorbereid wees. En waar daar alreeds ’n Building Compliance Certificate in plek is, gaan dit slegs geldig wees vir ses maande.
My liewe oom of aunty van die Dal, maak asseblief met alle liefde, respek en daai ou-Khomasdal-taaigeid waarmee julle ons grootgemaak het seker dat jou dak op datum is!
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie