Photo Caption
Photo Caption

Boedels en testamente in Khomasdal (Deel 3)

Lesersbrief
-
Dieter Ian Maree

DIETER IAN MAREE SKRYF:

My dierbare Dallers, ek hoop en vertrou dit gaan goed met julle en dat die debietorders sonder drama tot dusver afgegaan het.

Ons innige medelye aan julle wat ’n familielid die afgelope tyd aan die dood moes afstaan en bid vir God se vertroosting oor julle harte. In ons vorige plasing het ons ’n bietjie geskinder oor die goedjies wat gewoonlik in ’n boedel verskyn.

Met hierdie plasing gaan ons kyk na ’n paar standaard-klousules sowel as ’n paar uitdagings wat slegs deur bekwame hande aangespreek kan word.

Die eerste klousule in ’n testament word na verwys as ’n revocation clause of ’n herroepingsklousule. Testamente word nie gekanselleer nie, maar herroep!

Sodra jy ’n nuwe testament onderteken, herroep hierdie dokument ex lege (deur regswerking) die vorige dokument of testament. 

En verstaan julle nou hoekom dit so belangrik is om ’n testament te dateer. ’n Herroeping is slegs van krag waar die nuwe testament inderdaad deur ’n nuwe datum vergesel word.

Hier loop haal ons al weer die Lente soos die dae onherroeplik plek maak vir roes en die ure nou maar onverpoosd en medepligtig aanbeweeg. Mense het verander, die kinders of die kuikens het die nes verlaat en die inhoud van ’n vorige dokument moet nou aangepas word as daar ooit ’n vorige testament was om van te praat.

En in ’n onlangse konsultasie rig ek die vraag aan ’n jong, ongetroude dame oor wie ons as eksekuteur in haar testament moet aanwys.

Die Camel Light tussen haar verleidelike rooi lippe laat wonder my hoe daai Camel-man met die groot cowboy-hoed, growwe gesig en die dik toue in sy hande hierdie lieflike rebelsheid sou getem het. En sou hy hom ooit aan iemand soos ’n eksekuteur gesteur het terwyl die veld en haar oneindige natuur hom geroep het?

Maar nou ja, in Khomasdal word Dunhill gesmous en gerook, avontuur is daar op elke winkelstoep en die tweede standaard-klousule is jou eksekuteurs-aanstelling.

Die eksekuteur se aanstelling word ingevolge wetgewing gereguleer en hier praat ons weer van die Administration of Estates Act 66 of 1965. 

Elke boedel met ’n waarde bo N$100 000 benodig dus ’n persoon of instansie om die boedel met die goedkeuring van die meester se kantoor (hoërhof) te administreer en te finaliseer. Die administrasieproses word dus deur wetgewing sowel as die inhoud van die testament bepaal.

En soos die Camel-rook my sinusse en die onskuldige potplante op die stoep begin aanval, verduidelik ek vir haar hoekom die aanstelling van ’n eksekuteur so belangrik is.

Nog ’n sug wat onderdruk word en sy reik weer uit na die ontwykende Camel-man.

“Hokaai, Juffie!” teken my brose ego en longe beswaar aan. 

’n Ongemaklike stilte beweeg tussen ons terwyl sy vinnig aan iets dink om vir my ook hier op die stoep op my plek te sit!

“Nou praat laat ek hoor, want ek het nie die hele dag tyd nie,” kom sy terug met ’n Funkytown-sjarme wat destyds elke matinee-ganger se hartklokkies behoorlik laat lui het.

“Wie het beheer oor jou goed as jy eendag tot sterwe kom of waarvoor het jy nou eintlik gewerk as die paar aardse besittings wat jy met alle moeite bymekaar gemaak het soos mis voor die son gaan verdwyn omdat daar nie behoorlike beplanning gedoen was nie?”  

“. . . of wat as jou soete vrug…sorry, die vrug van jou arbeid meer konflik en onenigheid saai in plaas van verligting?” wil ek in my nuutgevonde professionaliteit by haar weet. 

Sy onderdruk die onverwagse glimlag op haar gesig, maar ’n ligte blosie kuier vir ’n wyle op daai wange.

Die rol van ’n eksekuteur is om beheer en as’t ware orde oor ’n oorledene se boedel uit te oefen. Die dierbare het ons verlaat – daar is foto’s, dokumente, ’n verweerde gesangboek en ’n water-en-ligte-rekening.

Ek skets gou vir haar ’n tipiese scenario: Die huis was op ma se naam. En die sitkamerstel wat nog nie afbetaal is nie, was ook op haar naam. Sy’t gevra dat ons haar op die plot moet begrawe – naby haar mense. Die bruin Peugeot wat almal bid-uur toe karwei het, is ook op haar naam.

Daar was sprake van geld iewers in ’n rekening. Ma het op haar ferm manier al haar kuikens hok toe geroep, al wou daai kuikens by tye nie met mekaar gepraat het nie.

Haar afwesigheid en die oppervlakkige en verbysterende spoed waarmee die lewe beweeg, gaan hulle so ver uitmekaar uit dryf dat dit bitter moeilik gaan wees om konsensus oor die aanstelling van ’n geskikte eksekuteur te kry.

Konsensus moet daar ongelukkig wees, nie net oor die aanstelling van ’n eksekuteur nie, maar veral in die afwesigheid van ’n geldige testament.

“As daar nie ’n objektiewe, kundige en nugter denkende persoon of instansie is wat op ’n waardige en eerbiedige manier gaan uiting gee aan ’n oorledene se laaste wense nie, is die eindresultaat (as daar ooit ’n einde gaan wees!) enorme onsekerheid en geweldige familiekonflik,” brei ek uit oor die ideale karaktertrekke van ’n geskikte eksekuteur.

“Amper soos ’n DJ, neh?” probeer sy om ’n bietjie kleur en opwinding aan ’n baie saai gesprek te verleen.

“Ja nee, al die tranerige verwyte van Whitney Houston se Didn’t we almost have it all het niemand verwag nie, maar kyk waar is ons nou en hoe is ons lewens skielik gevul met die regte klanke!” dink ek toe sy na haar selfoon kyk om my ’n subtiele aanduiding te gee dat ek iewers na ’n kant toe moet kom.

“Kan ons maar haar klere en juwele vir haar susters gee?” wil sy by my weet.

“Dis hoekom ek lank gelede besluit het om nie te trou nie en maar my eie ding te doen,” gooi sy die sluise van geslagte se mak “moet-en-moenie” wawyd oop, met ’n uitdrukking op ’n oulike en desperate gesiggie wat smeek vir ’n geveg – en nog ’n sigaret!

“Ja, maar daar moet nog steeds ’n testament wees wat voorsiening maak vir die aanstelling van ’n eksekuteur en dan moet jy ook seker maak dat daar genoeg fondse in die boedel is om hom te betaal,” is my laaste woorde aan haar, terwyl ek die liewe Here bedank vir al die Camel-girls wat my jongman-lewe so ontstig het!


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer