Audrey van der Westhuizen
Audrey van der Westhuizen

Besete deur al my voorouergeeste

Terwyl ek die voorkoms het van een van my oumas, het die geaardheid van die ander aan my die siel van ’n werkslaaf besorg.

Volgens ander familielede – wat dit ook het – is dit oorerflik en maak dit dat ’n mens skuldig voel as jy stilsit en niks doen nie. Laasgenoemde kon hulle maar gehou het want die vet weet daardie gees jaag my rond en maak my der dagen sat.

Sou enigiemand dit waag om my drafstappie te onderbreek tussen ’n magdom takies waarmee ek myself Saterdae mee opsaal, dan raak ek ook net so boos soos my kwaai ouma op haar dag.

Gelukkig het ek iewers ’n paar lui strepe van ander voorouers geërf, daarom waag ek dit soms om oor ’n naweek darem ’n middagslapie iewers in te pas.

Ongelukkig word ’n mens dan ná 40 minute vol selfverwyt wakker, want Ouma Werkslaaf het vir Ouma Lekkerlê in my drome oorwin en nou moet ek met dubbelspoed aandete en peuselhappies vir my mense voorberei. Hoekom? Nee, ek weet nie.

Maar Ouma Kwaai het ’n swepie waarmee sy onder my skuldgevoelens boer. Ja, ek weet ons kan haar nie meer sien nie, (want sy is oorlede), maar ek sien hierdie besigheid in my geestesoog en vir my is dit genoeg (amper té veel).

Op haar dag het sy die gawe gehad om nie net haarself nie, maar ook haar medemens teen die grond te werk. As sy aan die stuur van sake gestaan het, het hulle seker ook vir Rome in een dag gebou, so het my oorlede oupa gevoel.

Einste Ouma het my so graag bewus gemaak daarvan dat ek definitief glad nie na haar familie gelyk het nie. Sy sou dalk trots gewees het op my vermoë om verby my eie kragte te werk. Maar met my soort geluk sou sy dalk sake ietwat verder voer. Sy was immers oortuig daarvan dat geen mens homself kan doodwerk nie.

Nou moet ek dalk ook maar nie veel verder uitbrei nie, want hier iewers in die ouer geledere van my familie is daar diegene wat glo hulle kan meer en beter as ons almal doen en dat die goedheid van ’n mens aan sy werkverrigtinge gemeet word. So ek laat dit vir eers daarby.

Dan kom daar ’n dag wat ek op ’n Saterdag kruideniersware moet gaan koop en die magdom skoonmaakwerk op my werf noodgedwonge ongedaan moet laat staan.

Die blote gedagte aan al die vuil en deurmekaar dinge wat die goeie en slegte geeste so kan sien staan, gee my nagmerries gedurende die dag. Wat sou hulle van my dink?

Van êrens in die genepoel wat in my bloed opwel, is ’n vreemde gees van groot verset wat ek in my binneste voel kwel as ek te midde van bogemelde wroeging in die kruidenierswinkel moet staan en wag dat groepies kletsende vroue padgee voor die goeters op die rak wat ek in my trollie wil pak.

Gelukkige begin ek bedaar ná die gesukkel wanneer ’n baie ou wyse gees uit my verre verlede saggies vir my sê: “Dis alles net ’n gejaag na wind.”

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer