Begrafnis hark familie bymekaar
Ousie-ma se koeler kook. Sy’t pas verneem Kerneels het die emmer geskop en sus Magriet het besluit dat sy oorskot op die familie-plotjie weggebêre word. Die begrafnis val mooi oor die Paasnaweek.
“Ja, Kerneels” dink Ousie-ma, ons grootjies het geglo as jy oor die Bybel se heilige tyd sterf, was jy beslis ’n man van inbors, ongeag sy soetwyn bek-lawaai.
Die familie was dit te wagte, want die klong het meer gesuip as wat hy gesonde kos in sy spykerlyf gekry het, en die oneindige geloop in die Suide se son.
Ná sy groot liefdesteleurstelling was Kerneels nooit weer homself nie, letterlik met wynbottel getrou. Ousie-ma dink aan die laaste familiesamekoms met sus Magriet se verjaardag – hy was vuurhoutjie warm van daai Monis Grand. . . (wat die naam ookal is), die groenrok vrou.
Partytjie skaars spoed gekry, toe sit die klong soos daai Shoprite se streep stoele, opgevou. Ander keer het hy Dina van neef Karel, se troukoek plat geval; grootste bad luck. Toe was dit weer antie Anna se vroemore tok-tok aan Magriet se deur, want Kerneels het haar kapokhen gesteel en wragtig daar kry hulle ’n rasende hoender in sy buitekamer. Dit was ’n ge-hierie-kantoe-daarie-kantoe om polisie uit die saak te hou.Antie Anna is mos die “laat-sien”-tipe merrim van die buurt.
Ousie-ma speel letterlik Kerneels se lewensfilm af. Die jong was agter tronkslotte van oubaas Blignaut se koeie in dronkenskap melk. Sus Magriet was in ’n papte, sy’s mos immers ’n biduur-vrou.
Ousie-ma kriewel as gasvrou. Sy moet nou regtrek, die grond onder die kameeldoringboom natmaak en hark vir sitplek. Haar kop warm mos stadig op soos haar diesel Fordjie, maar as hy vlamvat dan is daar geen keer. Sy dink aan alles.
Sy’t verneem dat neef Klaas se pronk-perdjie klimmeid die spyskaart hanteer. Kom glo slaggereed met haar helpers. Natuurlik spoggerig met haar Kaapstad Chef-kursus-kossetjies; meer versierings as krag. Weet sy dat huilery by ’n dood diep honger maak? Jy eet die hartseer morsdood; nee wat vir haar sal ons bo-oor met ’n skaapvleispotjie.
Daar was prate (melding) van ’n driegangmaaltyd, Titsê watse driegang? Weet hierie familie-keeners nou nog nie dat haar plaashuis net een lang gang het nie. Nee wat, hier sal sy ingryp. Hulle sal verkeer op die veranda en jong klomp onder ’n koelteboom.
Sy dink aan Saartjie se skoonsus. Hulle weet hoe om Afrika-potte vir ’n trop mense te roer met einste hul Zimbabwean-houtlepels wat lyk soos ’n mini roeispaan. Blessings (Takhaar) sal slag en vuurmaak. Ousie-ma se gedagtes is ’n wilde springbok. Sy dink nou aan blomme vir die graf. Sy sal vir Magriet verras met vars rose uit haar eie tuin, einste wat haar Takhaar geplant het.
Titsê en die kooigoed. O, en sambrele. Het die son hoeka maksimum temperatuur vir begrafnisse? Nou dink sy aan skoonsus Grieta wat laas ’n swaar kis met tikkie hakkies gedra het, met ’n skerp pienk rok! ’n Hele pelikaan met haar sening lyf.
Saartjie se lys uit Bendhoek (Windhoek) is versterkdruppels, snuif, speserye en gifgoed vir die moedswillige muskiete. Groente kom uit die tuin. Neef Koos en sy meidjie werk aan kosbedryf. So slaak Ousie-ma ’n sug van verligting, alles sal mooi afloop; almal ken haar huis se reëls, begrafnis of te not!
En beslis geen gobogaai van jongspan dronknes. Nou dink Ousie-ma miskien moet sy en sus Magriet ’n groen-rok bottelwyn kry suie uit die hangkas, net as die senuwees styf trek.
Daar is altyd ’n eerste keer en die keer is dit ter herinnering van dronk Kerneels. Onse dronklap Kerneels is gered uit ’n wêreld waar die mensdom van Jesus se heilige houtkruis ’n wipplank maak; ’n speelpark van Sy genade en liefde.
Kerneels is groot Huis toe. Die nikswerd met naaste liefde. Hier hark sy dood ons bymekaar; ’n geleentheid om familietwis uit te stryk, ’n kans om klein te word, skuiling te vind onder Jesus se bloedbevlekte kleed.
“Ubi caritas”.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie