>>’Bang!’>’Bang!’
Gerhardus van Grootfontein
Wanneer jy die kollageen van die bekende T-Rex-dinosourus vergelyk met die van ander hedendaagse lewende diere, is die naaste familielid van hierdie wreedaardige oerdier ’n hoender gevolg deur ’n volstruis.
Hierdie merkwaardige feit het ek ontdek in Steve Brusatte se boek The Story of Birds. Die monster is nie krokodille of likkewane se niggie nie, maar die van ons produsente van alledaagse eiers en verestoffers. Jy kan ’n omelet as ’n geklitste T-Rex-embrio sien.
Voëls is dinosourusse in hulle nuutste evolusionêre vorm. Die skakel tussen dinosourusse en voëls is fossiele waar beduidende donsvere rondom die liggame van die Jurassic-spesie gesien kan word. Hierdie diere kon nie vlieg nie en dit sal nog miljoene jare wees tot die afstammelinge van die Sinosauropteryx die lug sou bestyg.
Interessant genoeg, die vlieënde dinosourus wat ons ken as Pterodaktiel is glad nie verwant aan voëls nie. Hulle veerlose vlerke was van dik vel gemaak wat soos groot seile gespan het. Dit is maklik genoeg om te verstaan as mens onthou dat vlermuise ook nie voëls is nie. Al het hulle vlerke en kan hulle vlieg.
Ongelukkig, ongeveer 66 miljoen jaar gelede het ’n asteroïde die vyfde, en ook die laaste, massa- uitwissing veroorsaak. Volgens Brusatte was die asteroïde vermoedelik meer as ses myl breed en het dit die impak van meer as ’n miljard kernkragbomme gehad. >>”Bang!”<<
So is meeste van die lewe op die aarde uitgewis. Behalwe vir ’n paar spesies, soos voëls, leef die res voort as klippe en bene wat ons bestudeer.
Ons moet sin maak van hierdie klippe en bene met teorieë, tegnologie en biologie, want in terme van tyd het ons ’n paar minute gelede eers by die partytjie aangekom. Maar, ons het aangekom met ’n >>”bang!”<<.
Kyk, alles behoort aan ons. En, dit is ’n groot etiese kwessie.
Onlangs het ek ’n prikkelende interpretasie van die sondeval gelees in W. Janzen se artikel Biblical Theology of Hospitality. Janzen reken toe Adam en Eva die vrug in die tuin van Eden geëet het, het hulle God se reëls as gasheer van die skepping verbreek en dus in ’n wêreld van hulle eie reëls begin leef – soos gaste wat ’n huishouding oorneem.
Hulle was nie meer deel van die natuur nie, maar het die natuur as ’n onderdaan begin sien. Dit is presies wat ons as mense doen.
In stede van om die natuur te bewaar, veroorsaak ons die jaarlikse uitwissing van talle spesies op ons planeet. Sommige wetenskaplikes, soos die ekoloog en professor, Gerardo Ceballos, reken dat die verlies van biodiversiteit op die aarde besig is om na die sesde massa-uitwissing te lei. Ons >>”bang!”<< tref ’n bietjie anders as ’n asteroïde.
Kapitalisme, giergigheid en ego dryf die golwe van ons impak en stukkie vir stukkie verswelg ons die bestaan van lewe op ons planeet. Die ironie is dat ons impak onsself ook raak.
Ons impak vernietig ekosisteemdienste wat noodsaaklik is vir menslike oorlewing. Bestuiwing en plaagbeheer is maar net twee van hierdie ekosisteemdienste wat tans baie kwesbaar is. Ceballos noem Covid-19 as ’n voorbeeld waar virusse na mense spring, omdat grense tussen die mensdom en wilde ekosisteme afgebreek word. En, die vernietiging van natuurlike habitatte is goedgunstig vir die ontstaan van sulke pandemies.
Maar, volgens Ceballos is daar hoop. Hy argumenteer dat wat ons in die volgende 10 tot 20 jaar doen, die toekoms van die mensdom vir die volgende duisende jare sal bepaal.
My vraag is: Verdien ons hierdie wêreld? Die aarde was ’n beter plek sonder ons. Nie? Die voëls kan daarvan getuig. – Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie