No Image Caption

As ek nie onthou om te onthou nie

Mamma-wees is nie vir sissies nie! Ek dink ek het dit al iewers gelees, maar ek kan glad nie onthou waar nie.

Dis deesdae my werklikheid – ek moet hope sticky notes plak of 7 000 reminders op my foon se kalender sit, want anders vergeet ek. En nie sommer so vergeet dat ek dit na tien minute weer onthou nie – dis weg! Heeltemal weg! Daardie gedagte bestaan nie meer nie.

Ek kan nou daaroor lag, maar ’n tydjie terug het my brein my rêrig in die steek gelaat. Ek was besig om ’n video via Telegram te stuur en sit toe die foon op die kombuiskas neer, want ek was besig om skottelgoed te was.

Soos ek die water tap en seep ingooi, kry ek skielik die gedagte – ek moet op my foon kyk. Ek begin toe paniekerig raak, want ek sien dit nêrens nie. Ek is onmiddellik terug na die wasbak. Het ek nou my foon in die water gegooi? Dis net borrels en water wat spat! Die foon is ook nie daar nie. Ek begin hardop met myself praat: “Waar het ek nou weer my foon neergesit?”

My man kom toe ingestap en wys na my foon: “Hier is dit.”

En ja, wragtiewaar – presies waar ek dit gelos het! Ek was sommer kwaad vir myself – al daardie onnodige stres!

Nou die dag by die dokter – baba moes vir haar immuniserings gaan. Die oggend het klaar chaoties begin: daar is by ons kantoor ingebreek.

Ek moes Swakopmund toe gaan om presies uit te vind wat gesteel is. Baba se afspraak was later daardie dag, en toe ek klaar in Swakopmund was en die skade met my eie oë gesien het, was dit tyd vir haar afspraak. Ek het haar vinnig opgetel en ons het dokter toe gery.

Ek het probeer om die afspraak te skuif, maar dit was nie moontlik nie – die volgende beskikbare afspraak was eers oor drie weke.

Toe ek by die spreekkamers instap, het ek onthou ek het haar immuniseringskaart by die huis vergeet.

Imagine! Ek onthou dat ek vergeet het!

Al wat ek kon doen, was om verskoning te vra.

En die kersie op die koek? Baba besluit sy gee ons nóg ’n verrassing en toe besef Mamma dat sy ook die babasak – met die doeke, wipes en ekstra klere – net so by die huis vergeet het. Gelukkig is Suster darem ook ’n mamma en sy het ’n ekstra doek gehad!

As ek nie onthou om te onthou nie, is dit die eindelose vrae en onderhandelinge wat gedoen moet word.

“Gaan borsel jou tande.”

“Waantoe gaan ons, Ma?”

Asof ons êrens heen moet gaan voordat sy eers haar tande hoef te borsel.

“Ma, ek is honger.”

“Okay, ek kan vir jou pap of brood maak.”

“Nee, ek soek chocolate.”

“Maar dan is jy mos nie honger nie.”

“Maar Ma, ek is! Vir chocolate.”

Nou hoe onderhandel jy met ’n driejarige wat honger is – vir sjokolade?

“Ma, wat sal gebeur as jy vir nege dae by die see slaap?”

“Ma, wie was die inventor van papier?”

En soms moet ek baie mooi oor my antwoorde dink, want sy gaan vertel haar ander graad 2-maatjies – maar Mamma het so gesê! En dan moet ek soms weer hoor – maar Juffrou het so gesê.

Maandag het ousus en kleinsus besluit om die Kersboom op te sit. Ek wou eers nee sê, maar toe besluit ek dis beslis nie ’n fight wat ek nou wil fight nie. En nou pronk die Kersboom al in September in ons sitkamer.

So van my kant af, liewe leser, geseënde Kersfees.



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-09-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer