Antwoorde op kleintyd se vrae
Kleintyd vra mense jou wat jy eendag wil word en jou antwoord is “groot”.
Die begeerte was eers om ’n juffrou te wees soos die juffrou van jou kleuterskooldae wat so mooi en so slim was en so lekker geruik het. En toe wou jy die verpleegster word wat met ’n mooi wit rok die pleisters en medisyne aan siek mense in die hospitaal uitdeel. Maar later wou jy net groot word.
Sodat Ma jou nie kan dwing om lánk na etenstyd steeds by die tafel te bly sit en na die koue niertjies te kyk wat geëet móét word voordat jy die tafel kan verlaat nie.
Sodat ’n liniaal oor die kneukels jou nooit weer sal keer om die laaste sê te hê in ’n baie belangrike argument oor wie die blou vetkryt kan kry nie. En ook nie die hoekie van die klaskamer wanneer jy die liniaal se teregstelling bevraagteken nie.
Eendag wanneer jy groot is, sal jy verstaan waarom die engeltjies jou ouma kom haal het. Waarom die budgie weggevlieg het. Waarom jy altyd vierde laaste eindig by die skool se alteletiekdag. Waarom jou ma nie soos die ander ma’s kan naaldwerk doen en jou met die dekselse rok vir naaldwerkklasse kan help nie.
Eendag sal jy weet hoekom die son in die Ooste opkom. Hoekom die gras groen en die lug blou is. Hoekom mense oorlog maak.
Jy sal eendag nie bang wees vir tandartse en operasies en inspuitings nie. Niemand sal jou meer ’n pak slae kan gee nie. En niemand sal vir jou lag as jy nie iets weet nie. As ’n mens groot is, weet jy alles.
En op ’n dag is die eendag daar. Jy’s nou groot, sê Pa vir jou wanneer hy die goudoorgeblaaste sleutel vir jou 21ste verjaardag oorhandig. Sommer so. Jy het toe nie ’n juffrou geword nie. Ook nie ’n verpleegster met ’n wit rok nie. En jy is ook nie aldag seker of jy grootgeword het nie.
Ma dwing jou nie meer om niertjies te eet nie. Ook nie spinasie en broccoli nie. Jy eet dit sommer self.
Jy leer dat mense se woorde soms seerder maak as ’n liniaal oor die kneukels en jy hou jou later uit argumente oor blou vetkryte.
Jy verlang terug na die sorgelose dae van kindwees. Toe jy en Monnie van langsaan bespiegel het hoe Liewe Jesus op ’n keer ’n hele grote mens kon wees en nou binne-in jou hartjie woon. Toe jy jou verwonder het aan Ockie van oorkant die straat wat op sy eie cowboys en crooks speel en ’n hele middag lank op ’n kammaperd rondjaag. Die een hand sou hy neushoogte omhoog gehou het. Dit is die hand wat die perd se leisels vashou. Met die ander hand het hy die perd aangespoor deur hom op die boud te klap. En na die middag se rondjaery het hy huilend huis toe gedraf en moes sy ma troos oor sy sitvlak seer was van die selftoegediende pak slae.
En daar was die boomhuis wat ons wou bou. Maar ons kon nie ’n groot genoeg boom kry nie en het die huis toe maar onder die eetkamertafel gebou. Daar was die tweeman-bendes, jy en jou beste maatjie, wat een keer ’n week vergadering gehou het en by elke vergadering plegtig “roll call” gehou het.
Wat sal ek vandag vir Monnie en Ocke sê? Ek het steeds nie antwoorde vir waarom die engele vir Ouma kom haal het nie. Hoekom die budgie weggevlieg het al het ons hom nie so goed opgepas nie. Hoekom ’n mens nie net een ou keertjie die lint op atletiekdag kon breek nie. Ek weet nie wie het besluit gras sal groen wees en die lug blou nie. ’n Leeftyd van aardrykskundelesse het my nou nog nie oortuig dat die son nie ook maar in die Noorde kon opkom nie. Oorlog maak steeds nie sin nie. Wat ek wel begin verstaan, is die woorde van ’n man wat op ’n dag gesê het: “Laat die kindertjies na My toe kom…”
– 10 September 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie