Des Erasmus
Des Erasmus

Als weer reg getimmer

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Stap mos nou die dag haarkapper toe om moed te skep. Dis amper soos ’n agterstevoor Simson. Die ou sterke moes sy hare laat groei om krag te kry. Myne moet waai om my lighoofdig vir die stryd te maak.

Eers brom ek by gebrek aan parkeerplek. Later sou die besef deurdring dat dit pure grasie was. Dit kos nou om ’n draai stap. En in daardie draai, op daardie hoek, hang die twee opklapdeure oop.

’n Jong man staan daarbinne en vervat van die een elektroniese apparaat na ’n ander en vervat van masjien tot masjien. Hy lyk bekend en in sy wonder lê die vraag ook waar ons mekaar al gesien het. Toe groet ons maar. Hy sê hy’s Schalk.

Op ’n rak met olievlekke agter Schalk staan ’n draradio. “Ninety nine,” kom dit telegramstyl oor. Dis oop en toe so al die blêrkassie kan.

“Kom ek draai die mu’ so ’n titsel af,” skreeu hy amper oor die lawaai van bore, skuurders en wat ons van ’n vorige geslag in ons onkunde algemeen onder rock klassifiseer.

Langsaan trek ’n stoompie uit ’n blikbeker met sy oggend se koffie. ’n Blink kysie lê oop oor twee toebroodjies en ’n snysel salami.

Schalk se stewels is so effens opgehewe soos skons wat eers traag gerys en toe in ’n oond aangebrand het.

Sy oorpak is smerig hier om die knieë en die elmboë soos ook sy hande. Maar vat hy na die bakwerk van ’n motor daar bokant hom, steek skoon arms uit ’n mou wat korter rek.

“Hier klop ons hom reg, oom,” beduie hy met ’n werktuigpunt na ’n papgestampte voorstel van ’n motor wat vir sy jare te vroeg te seer gekry het. Verskonend beduie hy dat hy net die een beker het, maar ek kan maar eerste drink. Hy waarsku dat dit swart is met net so ’n katspoortjie suiker by.

Vra hom na sy werk, en hy sê dis baie, want Windhoekers ry soos hulle wil. Gelukkig maak die goed ’n kring. Solank die een droog word, pak hy die ander en skuif een in die waglys op.

“En ry die een uit ons werfie weg, stamp hulle al weer daar in Stübelstraat.”

Ja, die werk is goed. Die geld is nie baie nie, maar gereeld. Sy vrou werk darem ook. Dit maak dat hy middagtyd moet breek om vir die kind melk en kos te vat. Om by vroulangs te ry, is ’n draai en petrol is duur. Klein Cathy bly mos bedags by die buurvrou en in ruil daarvoor hou hy die tannie se motor op die pad. Oor naweke kan jy hom daar onder in die puts kom kry.

“Dis nou as die Vrystaat nie speel nie,” gooi Schalk so ’n ligter enetjie by.

Daar’s so ’n effense pousetjie.

“En oom, is oom ook gestamp of het oom gestamp. Waar’s die kar?”

Hoe nou?

“Sien Schalk, my kar is mooi, maar ons was almal in ’n ongeluk, want soms is die lewe vir ons elkeen net ’n botsing. Of sal ek sê ons wil-wil so teen die steiltes gaan staan. En dan kom timmer ouens soos jy vanoggend weer alles reg. Dis nou sonder om ’n hamer op te tel of die skakelaar van ’n skuurder te druk.” Hy sug.

“Ek verstaan nie so mooi nie, maar dalk verstaan ek tog. Dis so amper of oom vanoggend ’n paar duike uit my kom slaan het.”

“Nee, andersom,” streel ek in sy rigting. Ons groet. Miskien stap ek volgende week haarkapper toe om moed te skep. Miskien kry ek dit weer in die woorde van ’n lied in die hart van ’n vakman wat sy werk met oorgawe doen. – 10 Oktober 1995

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer