No Image Caption

Almal maar net gaste

Sê maar net 30 jaar gelede
Des Erasmus
Wyle Piet Gog het immer so ’n kleinigheid saamgebring wanneer hy of in die middel van die winter of in die middel van die somer kom kuier het.

Gewoonlik was dit ’n onbeduidende ou dingetjie en het dit gevoel gewek dat dit ’n ietsie orig in sy eie nederige blyplekkie was. Dalk was dit ’n sieraad in die kleine wat hy self geruil het op ’n dag van voorspoed waarop sy bottel vol was teenoor sy broeder se smekinge met ’n leë gabbatjie in sy bewende hande.

Sy kuiertye was spesifiek gekies vir die hartjie van die genoemde seisoene, want in die middel van die winter was dit wors- en biltongtyd en in die middel van die somer het die bome se takke weer swaar gehang van goue vrugte wat deur ’n ondernemende boer met ’n graaf en sweet bemes is.

Daai Gog-naam was juis te danke aan die ruwe ou mens se buitengewone eetlus. Kortom, vreet was sy uitstaande kenmerk. En dan moes die kleinigheid wat hy in die boervrou se hande gestop het, die weg na sy pens baan.

Soos Gog kuier ek en my kollegas nou in die middestad. Het mos die Groot Trek aangepak om koerante uit te gee waar ’n drukkery was en te druk (gewone drukwerk met masjiene) waar daar nuusblaaie was.

Wou mos soos Gog geskenke saambring, maar die mensemassa in die hart van Windhoek is te veel. Nou kos dit maar ’n staanplek oopskouer. In die proses geld net die omgekeerde van daardie “soek en jy sal vind”.

Soos gister.

Gaan soek mos ’n spietkop om hom te vertel van die ou in die G-rrrr-n wat ’n U-draai by die SKW se verkeerslig gemaak het, maar kry net mooi niks. En gaan soek hom weer toe ’n skorriemorrie die ingang so toetrek dat ’n kreunende vragmotor onder ’n swaar drukmasjien nie sy loop weg van die persele nywerheidsgebied toe kan kry nie. Hy’s weer weg.

Dan is daar die kere wat ek die spietkop nie soek nie, maar hy soos ’n vel oor ’n muur kom. Sluit ek sawends my oë vir ’n onrustige nagrus, staan daar ’n nooientjie of twee met ’n verkeerskaartjie of drie in haar hande en met trane in die oë.

Sy wou net dit of dat, toe word sy gevang. Dit net omdat sy in die ganse hektaarryke munisipale gebied van Windhoek nie ’n meter of twee by ’n meter of twee as staanplek vir haar karretjie kon kry nie.

Met handgebaar en al word die wet van Transvaal dan opnuut aan haar voorgedra.

Daar is egter ook die goed wat ’n mens in die middestad verniet kry. Daar’s vreugde in doer ver se stilhou.

Voor die Konservatorium stap ’n Picasso in wording net om haar pak sketse uit die jong hande te laat val.

“Laat oom jou help,” baan ek my weg na die hart van Windhoek. “O, ’n tarentaal met pronkvere.”

Sy giggel: “Nee, ’n Rastafarian as blommekind.”

Of daar is die dagoud-kuikens by lampverwarming in die venster van ’n winkel wat op tuinbou en huis- en werfdiere konsentreer. Daar vir die sien sonder om te betaal.

Langsaan is ’n winkel met iets geskryf oor ”the future”. Nog een verhuur motors om jou ver weg uit die malende stroom te voer.

Hoekom net ’n kuiertjie in die middestad?

Is ons dan nie almal maar net gaste nie? Soos Piet Gog in die winter.

– 29 Julie 1992

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer