Alles is nie altyd soos dit lyk nie
Hoe lui daai gesegde? Things aren’t always as it seems.
Ons het soms die neiging om na iemand te kyk en te dink: “Wow, hy lyk darem put together.”
En deesdae, met sosiale media, hou ons mos net die blink kant bo!
Op Facebook is daar ’n ou wat video’s maak, Roshaun Rose, in die VSA. Wat hy doen, is om lukraak vreemdelinge op straat, veral mans, te nader en vir hulle ’n bos blomme met ’n nota te gee.
Die nota sê: “I hope you heal from all the things you don’t talk about.”
En terwyl die vreemdeling die briefie lees, kan jy sommer sien hoe die persoon se liggaamshouding verander. In een spesifieke video stap hy na ’n man wat in ’n luukse motor sit, met ’n suit en tie aan. Jy kan sommer sien die man kan ’n welgestelde sakeman wees.
Toe gee hy die bos blomme vir hom en hy lees die briefie wat sê: “I hope you heal from all the things you don’t talk about.” Onmiddellik het hy sy bril afgehaal en sy oë afgevee. Clearly, the note struck a nerve.
Sien julle watter goeie voorbeeld is dit? Daardie ou straal sukses uit. Geld maak mos alles reg wat krom is, of hoe?
Maar kyk wat daardie kort nota en bos blomme doen. Dit lyk nie na veel nie, maar vir my is dit ’n klein gebaar om te wys: “Ek sien jou.”
En soos ek reeds genoem het, is die eerste instink op sosiale media mos maar net om die mooi oomblikke te deel. Die Instagram-selfie met die mooi filter wat al die onvolmaakthede wegsteek.
Ek weet nie wie het vir ons gesê, of vir ons besluit, dat perfek is wat en hoe ons moet wees nie.
Ons verloor so baie mense, jongmense, jong mans aan selfdood, en wanneer dit reeds te laat is, hoor jy hoe hy of sy gesukkel het.
En dan vra ek: Wat het van ons menslikheid geword?
Ons kyk nie meer met diepte nie, want ons is so aan ons selfone, met die nuutste tendense, vasgenael dat ons vergeet om bietjie op te kyk en in te loer met ons mense. En die dag wanneer ons dit nie kan doen nie, wil ons lang trane huil.
Die lewe is vreeslik gejaagd. Dis werk, jou huis, man, vrou, kinders en soveel ander dinge wat ’n mens probeer balanseer – dinge wat jou so vinnig kan insluk dat jy skoon vergeet om mens te wees en nie net ’n masjien nie.
Kyk vir ’n slag na jou kollegas, jou vriende, jou man, jou vrou, en baie keer sal jy sien alles is nie soos wat dit lyk nie.
En soms al wat dit kos om ’n groot verskil te maak is ’n “Is jy oukei?”, “Ek is hier vir jou”, ’n drukkie, ’n bossie blomme en ’n briefie.
“Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”
– Galasiërs 6:2 (AFR53)
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie