Al weer die tiende
Asof my vorige skrywe oor tiendes nie genoeg van ’n steen des aanstoots vir sommige mense sou gewees het nie, voel ek die Here se genot aan dat daar hieroor gepraat word.
Ek voel Sy vreugde in die feit dat verdere Skrif oor tiendes opgeduik het! Asof Hy vir ons wil sê: Ek is nog nie klaar hieroor gepraat nie. . .
’n Dame wat al jare lank met die Here ’n pad stap, het met die laaste rubriek oor tiendes raad gegee: Hoe om met die tiende om te gaan.
Dalk ’n gedeelte aan jou kerk, maar dalk ook ’n gedeelte daarvan aan ander projekte waar Sy werk gedoen word. Basies, om God se naam in daardie spesifieke bediening te help vestig.
Uit ’n ander bron het ek ook verdere praktiese raad ontvang. Dat ’n mens jou tiende heel eerste uit jou maand se verdienste uitkeer en daarná jou spaargeld. Daarna kan jy jou begroting verder uitwerk met die res.
Deuteronomium 14 vers 22-29 (AFR 83): “Jy moet die tiende opsy sit sodat jy kan leer om die Here jou God altyd deur te eer.”
Die Here kies glo ’n plek waar hy wil hê jy Hom moet eer. ’n Plek waar Hy sy naam wil vestig. Jy moet daarna gaan en die tiende bring. As jy jou tiende in geld omsit, moet jy met die geld na daardie uitverkose plek toe gaan.
Jy moet daar iets aankoop om mee fees te vier. Dit moet daar in die teenwoordigheid van die Here deur jou en jou familie geëet word en julle moet bly wees.
Ek haal hierdie gedeelte spesifiek aan omdat dit om een of ander rede nie ’n praktyk in die kerk geword het nie. Dat ons almal ons tiendes saambring kerk toe en dan ’n tong-in-die-kies-“bring-en-braai” saam met ons families hou nie. Dat ons saam juig oor wat die Here vir ons gedoen het en om Hom saam daarvoor te eer.
“Om die drie jaar moet jy die volle tiende van jou jaar se opbrengs in jou dorpe gaan wegpak. Dan kan die Leviete wat nie eie grondgebied as besitting saam met jou gekry het nie (ek wonder op wie dit in vandag se tye van toepassing sou wees), die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees in jou omgewing genoeg eet. As jy dit doen, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy aanpak.”
God het darem maar net ’n ongelooflike hart vir diegene met wie dit minder goed gaan. En Hy het ook ’n plan om hulle by die gemeenskap te betrek. Ek wonder of, soos in Ester se verhaal, die vreemdelinge, mense wat nie in die gebied gebore is waar hulle hulself as volwassenes vestig nie, destyds dalk nog meer “vreemd” in hulle gebiede was as wat vreemdelinge vandag is.
Vandag word vreemdelinge nie sommer opgemerk in ons bedrywige heen-en-weer-lewens nie. Dit is seker iets wat enige vreemdeling nog meer eensaam sal laat voel as wat hul reeds doen.
Om nuut te wees in ’n plek en niemand kom dit agter vir ’n lang tyd nie. Die introvert in my wil altyd wegkoes as ons met Kerstyd of ander geleenthede by ’n vreemde kerk ’n diens bywoon en hulle vra dan of daar enige besoekers is. Dat hulle hul hande moet opsteek of vorentoe moet kom. Dit laat my nie MEER welkom voel nie, inteendeel.
Maar iemand wat my sagkens, versigtig in ’n gesprek innooi ná ’n kerkdiens, ’n bietjie uitvra oor wie ek is en wat ek daar doen, dít laat my wel welkom voel. Dis nou as almal nie ná die kerkdiens huis toe jaag nie (ek as vreemde introvert-besoeker inkluis).
Ek wonder hoe lyk die “elke drie jaar die volle tiende van jou jaar se opbrengs in die dorpe se wegpak” vandag? Dis nie meer ’n fisiese opbrengs nie, of is dit? Ek dink nou daaraan, ons het ’n baie goeie druiwe-oes aan die wingerdstok in ons tuin gehad. Ons het daarvan uitgedeel. Dis nie noodwendig in die dorp weggepak nie, maar dit is gedeel?
Dan kom die groot vraag of jy jou tiende van jou bruto of jou netto inkomste moet gee. Ek gaan myself nie as die kenner daar voordoen nie.
Ons weet elkeen wat ons dink die Here van ons wil hê. My gevoel is dat jy moet begin deur net enigiets eers te gee, en dit dan van daar af verder uit te werk. . .
Onthou, ons is besig om die Here uit te daag om goed vir ons te voorsien. Soos Hy in die Woord belowe het. Nie om bang te wees dat dit wat ons ontvang het, nie genoeg is nie.
My tiende hierdie maand is opsy gesit en geoormerk vir die bestemming waarheen dit moet gaan. Ek skiet tekort hierdie maand as gevolg daarvan en as gevolg van ’n lekker besoek van ’n vriendin van my uit SA.
En steeds wil dit vir my lyk asof die Here hierdie maand na my finansies gaan omsien deur bykomende fondse wat Hy drie maande gelede begin bewerkstellig het.
Ek het so pas besef die bedrag wat ek sien inbetaal is, is sowaar die bykomende fondse (wat ek wel moeite voor moes doen deur dit op te eis). Dit was nie in my maand se begroting nie. Dankie Here dat U voorsien. Net betyds vir hierdie storie.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie