Adam Hartman
Adam Hartman

Agter elke stil muur

Sê maar net
Adam Hartman

Ons stap gereeld deur Swakopmund se woonbuurte. Netjiese huise, goed versorgde tuine, mure wat pas geverf is. Alles lyk vreedsaam. Stil strate, geen geraas nie, geen teken van moeilikheid nie.

En omdat dit in ons eie huis rustig is – ons sit in die sitkamer en gesels, die kinders saam met ons – is dit maklik om aan te neem dit gaan net so agter daardie ander mure. Die uiterlike nooi jou uit om dit te glo.

Stap dan deur die middedorp. 

Een prokureursfirma. Nog een. ’n Derde. En elkeen huisves meer as een prokureur. ’n Sielkundige. ’n Psigiater. ’n Fisioterapeut. Klinieke, ’n hospitaal, apteke op byna elke hoek. By die hof staan die voertuie tot in die laaste parkeerplek.

En dan kom die vraag: Wie hou al hierdie deure oop?

Want al hierdie praktyke moet op een of ander manier in stand gehou word. Iemand betaal daardie rekeninge. En, veral in die geval van die prokureurs, is dit nie ’n aangename besigheid nie. Hulle brood en botter kom uit mense se probleme: Rusies in gesinne, mishandeling, misdaad, aanranding, geslagsgebaseerde geweld, egskeidings, siviele sake, bankrotskappe, likwidasies. . . Die lys is lank. Die aptekers en klinieke se bestaan hang van pyn en siekte af. Die sielkundiges uit dit wat mense nie alleen kan dra nie.

Dit beteken nie elke huis in hierdie dorp is ’n slagveld nie. ’n Mens moet versigtig wees om nie die ergste in ’n situasie te sien waar dit nie bestaan nie. Maar dit beteken wel die volgende: Die nood bestáán, dit is groot genoeg om dosyne praktyke aan die gang te hou en dit kom van êrens af. Van agter mure wat presies so stil en so netjies lyk soos al die ander.

Jy sien dit net nie van die sypaadjie af nie.

En wat vir huise geld, geld ook vir mense. Jy groet iemand in die winkel: “Hoe gaan dit?”, “Goed dankie, en met jou?” Klaar.

Ons neem dit as vanselfsprekend aan. Maar jy weet nie of daardie persoon op medikasie is nie. Of hulle pas ’n groot verlies gely het nie. Of hulle die vorige aand nie geslaap het nie omdat dinge by die huis handuit ruk. 

Mense word aan die buitekant taai, juis omdat hulle aan die binnekant seer het. En die glimlag is dikwels nie ’n leuen nie – dit is bloot die enigste manier om deur die dag te kom. Brei dit uit en dieselfde geld vir die dorp self. Swakopmund lyk soos ’n mooi toeristedorp: Die see, die palms, die ou geboue, besoekers wat foto’s neem. Namibië word wêreldwyd as vreedsaam en gasvry beskryf. Dit is nie onwaar nie. Maar binne hierdie dorp en binne hierdie land is daar misdaad, korrupsie, armoede, dinge wat skeefloop. Die poskaart wys wat die poskaart wys. 

Die punt is nie dat alles ’n bedrogspul is nie. Die punt is dat voorkoms bloot voorkoms is en dat ons dit te maklik as bewys aanvaar.

Dit verg twee dinge van ons. Die eerste is om nie te oordeel op grond van wat ons sien nie. Die huis met die mooiste tuin is nie noodwendig die gelukkigste tuiste nie, en die een wat verwaarloos lyk, is nie noodwendig die slegste mense nie. Ons weet eenvoudig nie.

Die tweede is om nie ons eie vrede as vanselfsprekend te aanvaar nie. As dit rustig is in jou sitkamer, met jou mense om jou, is dit nie vanselfsprekend nie. Dit is ’n voorreg wat baie mense binne ’n straat of twee van jou af nie op hierdie oomblik het nie.

Miskien beteken dit net dat ’n mens die vraag “hoe gaan dit?” ’n tweede keer moet vra. En dan werklik na die antwoord moet luister.

Want alles is nie so vreedsaam soos wat dit lyk nie.

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer