Thia Weck
Thia Weck

Agter die Kersgordyn

Thea sê maar net
Mandy Rittmann
Vir Helene

Dit het sommer uit die bloute gebeur. Skoonma vra of ons sal uithelp met hul kleuterskool se Kerskonsert en voor enigiemand hom kon kry, is almal betrokke.

My man werk met die musiekkassette wat uit liedjies bestaan wat vroeër deur my en skoonma op ‘n orreltjie aanmekaar geslaan is. My broer sorg vir die gordyne se oop en toe en tussendeur moet kostuums vir klein wriemelende lyfies aangetrek word, nat neuse moet afgevee word en die een wat reddeloos begin ween oor sy skoene verkeerdom aangetrek is, moet getroos word.

Dan moet jy ook nog geduldig luister na al die stories wat getrou aan die tannie vertel word van Piettie wat Sannie se hare getrek het. Of was dit nou andersom?

Ewenwel. Die bedrywighede agter die gordyne herinner my toe aan ‘n Kerskonsert jare gelede wat ook deur klein akteurtjies in wording opgevoer is.

Die Kerskonsert het bestaan uit Kersliedjies en - gediggies wat voorgedra is. Die hoogtepunt was egter die Kersverhaal.

Die ywerige juffrou het vooraf besluit dat álmal in dié Bethlehem–toneeltjie ‘n spreekbeurt sal hê - tot die donkietjie kon af en toe ‘n hie-haa inkry.

Maar so met die geoefenry deur het die juffrou begin oplet dat daar ‘n groot lollery gaan kom. Hoewel niemand hul woorde vergeet het nie (donkietjie inkluis), kon nie almal mooi onthou presies wanneer hulle dit moes sê nie.

As dit Josef se spreekbeurt is, sit en wag hy ewe rustig vir ‘n engel of ‘n herder om eers te praat en as Maria die woord moet voer, word sy met ‘n bulderende hie-haa in die rede geval.

Toe maak die juffrou ‘n plan. Sy sal op die aand van die konsert agter die gordyn staan met ‘n flits wat op elkeen geskyn word as dit sy of haar (of die donkie se) beurt is om te praat. Dié plan werk uitstekend en die groot aand breek uiteindelik aan.

Alles verloop vlot: van die gordyne se oopswaai tot die laaste gediggie wat met juffrou se hulp by die haakplekke voorgedra word.

En soos die gordyne toeswaai vir die dekorvoorbereiding van die Bethlehem-toneel begin Juffrou senuwees ook uiteindelik so effe tot bedaring kom - niks kan mos nou meer verkeerd loop nie. Toe die gordyne oopswaai, staan sy gereed agter die gordyne met die flits in haar hande.

Flits op die engele wat dadelik die goeie boodskap aan die oortuigend ‘bevreesde’ herders oordra. Flits op die wyse manne wat dadelik die stal binnestap en hul geskenkies neerlê. Flits op Josef wat Maria met wyse woorde bemoedig.

Flits op Maria. Stilte.

Flits weer op Maria. Langer stilte. Juffrou loer verward agter die gordyn uit. Maria staan en rondtrippel met die pop in haar arms, groot oë en ‘n bewende onderlippie.

Juffrou voer ‘n morsekodetjie met die flits in Maria se rigting uit en toe kom die woorde: “Ag, Josef, vat jy gou vir Baba Jesus. Ek moet eers gaan piepie!” En daar laat spaander Maria. Die gehoor se geskater het die juffrou maar laat besluit om die res van die Bethlehem-poging daar te laat. Maria se onskuld kon daardie aand nie beter verwoord word nie.

Ek glimlag. ‘n Ma kniel by die outjie wat met betraande gesiggie sy skoene probeer omruil, ‘n nat neus word vir oulaas afgevee en toe is dit die akteurtjies se beurt in die kalklig. En stadig dring die besef deur: Kersfees behoort aan kinders. En ook aan die kind wat in elkeen van ons tannies en ooms agtergebly het. Laat die kindertjies na my toe kom, het die Kindervriend op ‘n keer gesê. Ek dink ek begin uiteindelik verstaan. – 12 Desember 1995

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer