Photo Caption
Photo Caption

Afrikaanse musiek laakbaar

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Errol Hurter

Daar’s iets groot verkeerd met Afrikaanse musiek, dis te sê die musiek waar die sanger/es woorde by die wysie voeg.

Die eenvoudige woordjie “jou” het “tjou” geword en as ek nou weer moet hoor “ek het tjou lief”, skryf ek aan die ATKV. Plaas dat die donner sing “ek HET jou lief” sing hy “ek hê tjou lief”. Artikulasie bestaan nie in hul woordeskat nie. Sangers wat in die gedagte by my opkom, is Phillip Moolman en die grootste sondaar van almal, Steve Hofmeyr, want dis hy wat die ding begin het. Nou die aand op Boksemdaais is die laaste program van die reeks aangebied. Daar was baie sangers/esse wat in die tot-siens-sê-episode opgetree het. 

Hulle het gesing, want dit was waarvoor hulle betaal was. Die geluide wat hulle egter gemaak het, het my laat hoendervleis kry, nie van lekkerte nie, maar van pure frustrasie. Hulle het elk op hul eie, unieke manier probeer om harder as die vorige sanger te sing, so asof hulle besef hulle het nie talent nie en hulle die gehoor nou maar met ’n bulderende stem wil beïndruk.

Jy kan ook nie eintlik hoor wat die vente sing nie. En dan draai die goed in die ronde met arms oopgesper, blykbaar in ’n poging om die ekstase wat hulle met die woorde van die liedjies en hul vertolking daarvan ervaar aan die gehoor te probeer oordra. Hulle kan bly wees dat deesdae se mikrofone nie meer daardie lang koorde het nie, want die seremoniemeester sou elkeen van hulle soos tolle na die ander kant moes afdraai nog voordat die laaste “ek hê tjou lief” in die mikrofoon uitgesnik is.

Dan is daar natuurlik my ou “gunsteling”, Bles Bridges.

’n Ouerige dame en heeltemal op hoogte van alles wat rondom haar gebeur en wat ’n beroemde seun in die Afrikaanse musiekwêreld het, het eendag gesê dis net common mense wat na Bles Bridges luister. Ek het nog altyd gesoek na woorde om my gevoel oor hom uit te druk en toe kom die ou dame en sy slaan die spyker op die kop. Dit het my laat dink aan die storie wat ek gehoor het, maar ek staan nie pa vir die juistheid van die inligting nie.

Dit gaan oor die berugte enkelkwartiere in Katutura wat die munisipaliteit vir maande probeer leeg maak het van al die onwettige plakkers. Geen plan wou werk nie tot een ou met ’n briljante voorstel vorendag kom.

Hulle koop vier van die grootste luidsprekers wat in Windhoek beskikbaar is en stel dit op die vier hoeke van die enkelkwartiere op met die gesigte na die gebou gedraai. Die luidsprekers is gekoppel aan ’n klankversterker wat lyk na ’n Boeing se instrumentepaneel en toe alles gereed is, skakel hulle die CD-speler aan en draai die luidsprekers op hul maksimum volume oop.

Vir ongeveer een minuut het niks gebeur nie, en die volgende oomblik storm daar mense uit by al wat ’n deur en venster van die gebou is en hulle vat die pad in al vier die windrigtings. Soveel “ruiters op die windjie” wat met so ’n spoed van die perseel padgee het selfs die munisipale manne se stoutste verwagtinge oortref. Bles Bridges het daai dag werklik “a bridge over troubled waters” gebou en die stomme man weet nie eens daarvan nie.

Soos gesê, ek staan nie in vir die juistheid van die storie nie. – 30 September 1996



Kommentaar

Republikein 2026-09-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer