'A thing of beauty'
Ek sê maar net 30 jaar gelede
Een of ander Engelsman het gesê dat skoonheid ’n mens ewig vreugde besorg. Dit is geloofbaar, maar waarin lê skoonheid?
Nog ’n ander man het gesê: “Beauty is in the eye of the beholder.” Inderdaad as ’n mens kyk na die verskillende reaksies op die klomp skoonhede wat onlangs in Namibië was. Vir dié van ons wat nie met ’n skoon gewete kan sê dat ons in die klas van ’n skoonheidskoningin is nie, dien die volgende as troos: “Mooi vergaan, maar deur bly staan.”
En toe tref die spul skoonhede Windhoek in ’n vlaag van skouerbande wat sê watter land hulle verteenwoordig. Een oggend kon geen Windhoeker wat ernstig besig was om inkopies te doen in ’n spesifieke inkopiekompleks beweeg sonder om hom in een van die meisies vas te loop nie. Oral het mense gestaan om die juffrouens te bewonder en nóg verder weg het soldate gestaan om seker te maak niemand probeer ’n lyfie aanrand nie – sedelik of onsedelik.
Een vrou wat ’n vreeslike waardering vir keurige grimering het, het die meisies se gesigte bestudeer om grimeertoertjies te probeer gaps, maar het tot die gevolgtrekking gekom dat sy dit beter as hulle kan doen.
“Lyk of hulle maskers op het,” brom sy in haar snor (ten minste, sy sou in haar snor gebrom het as sy een gehad het). Nou brom sy net.
’n Man met ’n veredelde waardering vir ’n skoonheid het sy oog ook oor die “fraaie bloemen” laat dwaal – in detail. Hy sal nie sy vrou vertel hoe mooi hulle is nie, besluit hy daar en dan.
Sy kan so kritiserend wees teenoor ’n medemeisiekind en oor sy (gewaande) intensies met die genoemde medemeisiekind. Maar watter teleurstelling! Die meisiekinders is vir hom niks mooi nie! Die hele lot het te veel oorlogsverf op hul gesigte – klomp bontgepleisterde. . . nou ja, nie “grafte” nie, maar bont wat-ook-alle. En hulle lyk almal of hulle járre laas geëet het. Hy het nog altyd gedink sy mollige vroutjie is mooier as enige skoonheid met statistiek.
’n Ander man het die foto’s van die finalisdames só gekyk en besluit dis almal meisies wat sê hulle is mooi, maar eintlik is hulle lelik. Hoekom? Niemand anders van belang dink so nie. Want almal lyk of die wind hulle kan omwaai.
“Jy sal ôk vir hom lelik wees,” sê die blonde vroutjie koelbloedig aan haar vriendin.
“Ga!” dink die vriendin en kry moordgedagtes, maar sê maar niks.
Toe die stad die oggend ná die kroning in vervoering raak oor iets en langs die straat saamdrom, is die man en sy vrou vinnig op pad na ’n plek om iets te soek om hul tent mee op te kikker.
“Seker ’n nadraai van die Mej. Heelal-kroning,” sê die vrou, min beïndruk en haastig.
Maar haar man is nuuskierig.
“Kyk dan net die veteraanmotors,” sê hy, maar sy vrou vermoed dat dit ’n verskoning is om die skoonheidskoningin raak te sien as sy dalk deel van die prosessie is.
“As jy my darim hier laat staan om dié ou dogtertjie se ontwil!” knor sy vrou.
“Nee, kyk die karre. . .” verdedig-protesteer die man. Sy vrou swyg, maar is agterdogtig.
“Man, as dié ondervoede kinders mooi is, is ek ook mooi!” brom ’n ander vrou, misnoeg oor die bohaai wat oor die skoonhede gemaak word.
“Maar jy is!” neem iemand die wind uit haar seile. “Nou vir wat koer julle nie so om my nie?!” reageer sy, nooit op haar mond geval nie.
Op die skoonheidskoninginne is omgekeerd van toepassing wat Winston Churchill vir die vrou gesê het toe sy so afkeurend vir hom gesê het dat hy dronk is: “Yes, Madam, I may be drunk, but tomorrow I’ll be sober and you’ll be ugly!”
Môre is ons almal nugter, maar die meisies sal steeds mooi wees. – 22 Mei 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie