No Image Caption

20 jaar gelede

Mandy Rittmann
MAANDAG 23 JANUARIE 2006

– Die tafel is gedek om die Swapo-verdeeldheid en gebeure rondom 1 April 1989 in die hof tot die been oop te vlek.

– Die finale verslag van die internasionale span forensiese en ander kundiges na die massagrafte in die Noorde is voltooi, wat beteken die spesiale tegniese komitee hierna kan begin om ’n nasionale strategie vir die hantering van dié sensitiewe vonds voor te berei.

– Reën in die opvangsgebied van die Visrivier het nóg water die naweek na die Hardapdam laat stroom en die Visrivier wéér sterk laat loop.

DINSDAG 24 JANUARIE 2006

– Die Hardap- en Nautedam het hul bedryfsvlakke bereik en enige reën wat nóg vloede na die damme bring, sal veroorsaak dat die sluise oopgetrek moet word.

– Teen die pas waarteen die staatdiens op die oomblik beweeg, bestaan die gevaar dat die doelwitte van Visie 2030 moontlik tot 2050 uitgestel sal moet word.

– Ná meer as 40 000 troeteldiere in Oktober in Windhoek teen die dodelike hondsdolheidvirus ingeënt is, het die voorkoms van die siekte in die hoofstad bykans tot ’n stilstand gekom.

– President Hifikepunye Pohamba het die onderwyskrisis wat in die land heers aan die afwesigheid van beplanning in dié sektor toegeskryf.

WOENSDAG 25 JANUARIE 2006

– Die toekoms van nagenoeg 2 600 graad 11-leerlinge word nou op die hoogste gesag in die land aangespreek en dien as ’n bewys van die Regering se verbintenis om die onderwyskrisis so gou as moontlik op te los.

– Oppervlakwater in die Suide, Noorde en sentrale dele van die land is genoeg om in die waterbehoeftes van inwoners vir twee jaar te voorsien, maar indien beter invloei in die Ooste se damme nie volg nie, kan ’n krisis ontstaan.

– Marshall Green, die veiligheidswag wat meer as twee jaar gelede ’n 13-jarige seun in die rug geskiet het, is N$4 000 boete in die Windhoekse Hoërhof opgelê vir nalatige skiet of hantering van ’n vuurwapen.

DONDERDAG 26 JANUARIE 2006

– Namibië se weerloosheid wat brandstofveiligheid en -reserwes betref, is ’n bron van ernstige kommer.

– Vanoggend om 07:00 en 09:00 word die sluise van die Naute- en Hardapdam onderskeidelik oopgetrek.

– Die polisie in die Noorde het sakelui gewaarsku om op die uitkyk te wees vir vervalste Suid-Afrikaanse banknote.

VRYDAG 27 JANUARIE 2006

– Twee van die vier sluise van die Hardapdam is gisteroggend onder streng toesig van ’n moniteringspan oopgetrek om te verseker dat vloedskade tot die minimum beperk word.

– Die beste uitslae in die geskiedenis van die Cambridge-eksamenstelsel in Namibië is deur verlede jaar se IGCSE-kandidate behaal met ’n verdere onderskeiding van die minste ongegradeerde vakinskrywings nóg.

– Sesriem se kamp het gistermiddag wéér oorspoel, maar op Sossusvlei was die grond net lekker nat.

Kommentaar

Republikein 2026-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer