No Image Caption

20 jaar gelede

Maandag 9 JANUARIE 2006

– Die goeie reën wat die afgelope week oor groot dele van Namibië voorgekom het, het die naweek sy laaste swaar reëns uitgestort en is besig om op te klaar.

– Ondanks beloftes deur die ontwikkelaar Dannic Construction dat huise in die Acacia-buurt in Doradopark, Windhoek, nie weer deur vloedwater oorstroom sou word nie, moes verdwaasde inwoners Vrydagmiddag magteloos toekyk hoe die Arebbuschrivier vir die tweede keer in minder as twee jaar oor sy walle stroom en deur hul huise vloei.

DINSDAG 10 JANUARIE 2006

– Groot dele van die land het in die eerste tien dae van die maand reeds meer reën gehad as die dertigjaar-gemiddeld.

– Lang waglyste en ouers wat skarrel om hul kinders vir die 2006-skooljaar geholpe te kry, het gister met die eerste registrasies by verskeie skole landswyd begin.

– Die eienaar van Dannic Construction, wat die 178 huise in die Acacia-buurt in Doradopark opgerig het, het gehoor gegee aan al die ingenieursvoorskrifte van die munisipaliteit en kan nie verantwoordelik gehou word vir die vloedskade Vrydagmiddag toe 37 erwe deur die Arebbuschrivier oorstroom is nie.

WOENSDAG 11 JANUARIE 2006

– Leerlinge wie se ouers nie kan bekostig om skoolgelde vooruit te betaal of skooldrag te koop nie, mag nie toegang tot staatskole geweier word nie, het die Minister van Onderwys gister beklemtoon.

– Die Spysenieringsvereniging van Namibië (CAN) het gister kategories ontken dat daar ’n ernstige gesondheidsrisiko skuil in sekere voedsel wat sy lidmaatskappye aan skoolkoshuise lewer.

– Terwyl nóg water Maandagnag in twee van Windhoek se belangrikste voerdamme ingestroom het, het swaar reëns in die Noorde veevrektes veroorsaak en het die magtige Visrivier in die Suide begin vloei.

DONDERDAG 12 JANUARIE 2006 – Die grootste uitdagings wat die Ministerie van Onderwys nou in die gesig staar, is om vir sowat 2 000 graad 11-leerlinge plek te kry wat gister met die aanvang van skole nie geplaas kon word nie.

– Namibië het die belofte wat hy tydens die 2002 Wêreldberaad vir Voortgesette Ontwikkeling gemaak het, nagekom deur die verkoop en gebruik van loodryke petrol te staak.

VRYDAG 13 JANUARIE 2006

– Een van Namibië se mees vooraanstaande sakemanne en entrepreneurs, mnr. Frans Aupa Indongo, herdenk Sondag sy 70ste verjaarsdag.

– Skoolhoofde landswyd is behoorlik die josie in oor die Minister van Onderwys se voorstel van meer kinders per klas en dubbelskofte en voorsien ’n katastrofe indien dit inwerking gestel word.

– ’n Huurmotor op die oewer van die Goreangabdam en ’n stormagtige verhouding wat die verhaal van vrouemishandeling op sy ergste uitbeeld, was teen laat gistermiddag die enigste werktuie in die polisie se hande op die spoor van die moordenaar van me. Theopartiu Kapenaa Harakuta (39), ’n gewese polisievrou by die eenheid vir die beskerming van baie belangrike persone (BBP-eenheid).

Kommentaar

Republikein 2026-01-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer