No Image Caption

20 jaar gelede

DINSDAG 3 JANUARIE 2006

– Die verspreide reënneerslae wat die ou jaar uitgesien het in veral die noorde van die land, sal minstens tot die naweek voortduur met temperature wat landswyd grotendeels in die dertigs sal bly.

– Die gedeeltelik verbrande liggaam van ’n man is Donderdagnamiddag by die Goreangabdam buite Windhoek gevind.

– TransNamib moes Vrydagoggend vir oulaas in 2005 die knie buig toe nog ’n ongeluk waarin twee lokomotiewe grootskaals beskadig is, die totaal van ernstige treinongelukke in die land op vyf te staan gebring het.

– Namibië staar ’n blink toekoms in die gesig ondanks die uitdagings wat nog oorkom moet word, sê President Hifikepunye Pohamba in sy Nuwejaarsboodskap.

WOENSDAG 4 JANUARIE 2006

– Die nuwe jaar het swart begin vir 43 vakansiegangers onderweg vanaf die Noorde na Lüderitz ná afloop van hul Kersvakansie toe die bus waarmee hulle gereis het, sowat 20 km buite Okahandja omgeslaan het.

– Samedrommings het gister by die enkele vulstasies met brandstof in Oshakati en Ondangwa ontstaan met motors wat honderde meter ver opgestapel het en rye mense wat in die bloedige son gewag het om petrol in allerlei houers te tap.

– Namibië het die nuwe jaar op ’n nat noot begin met goeie reën wat landswyd uitgesak het.

DONDERDAG 5 JANUARIE 2006

– Die eendeweer wat sedert Nuwejaarsnaweek oor groot dele van Namibië heers, is nog nie verby nie en behoort volgens die weerkantoor tot aan die begin van volgende week te duur.

– ’n Verbrande lyk, ’n gesteelde voertuig en vervalste geld is die spore wat die polisie moet volg om by die feite van die raaiselagtige moord op die 35-jarige Ralph Köhnke, verlede week uit te kom.

– ’n Bekende in die kleinveebedryf, mnr. Wynand Malan, het verlede week in die ouderdom van 59 aan ’n hartaanval beswyk.

VRYDAG 6 JANUARIE 2006

– Die Namibiese Padongelukfonds (MVA-fonds) het motoriste op die vooraand van duisende vakansiegangers se terugtog dié naweek gemaan om versigtig te bestuur, oplettend te wees en seker te maak hul voertuie is padvaardig.

– Drie Namibiese mans, een in Windhoek en twee op Rundu, is aangekeer in verband met die grumoord op mnr. Ralph Köhnke, wie se verbrande, ontbinde lyk verlede week naby die Goreangabdam ontdek is.

– Beamptes van die Windhoek-munisipaliteit het laat gistermiddag ’n dringende vergadering byeengeroep om oor die toekoms van die vloedslagoffers van Dolam in Katutura te besin.

Kommentaar

Republikein 2026-01-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer