No Image Caption

20 jaar gelede

Mandy Rittmann
MAANDAG 1 AUGUSTUS 2005

– Die Avid-valbyl het ’n derde senior bestuurslid van die Maatskaplike Voorsorgkommissie (MVK), wat die voormalige permanente sekretaris van die Ministerie van Arbeid was, se kop laat rol.

– Nóg ’n beleggingsfoefie waarby sowat N$100 miljoen ter sprake is, is besig om na die oppervlak gedwing te word.



DINSDAG 2 AUGUSTUS 2005

– Nóg ’n personeellid in die eksamenafdeling by die Universiteit van Namibia (Unam) is geskors hangende ’n ondersoek na uitslagbedrog, terwyl die toekoms van die hoof van een van die opleidingsentrums aan dié universiteit in die gedrang is oor die vermeende wanaanwending van geld.

– Die volle waarheid oor ’n twyfelagtige belegging van bykans N$100 miljoen deur Namibië se Offshore Development Company (ODC) is besig om te ontvou nadat die Minister van Handel en Nywerheid nou in dié debakel ingegryp het.



WOENSDAG 3 AUGUSTUS 2005

– Die hoof uitvoerende beampte van die Maatskaplike Voorsorgkommissie (MVK), mnr. Tuli Hiveluah, beklee nog sy pos, maar die proses om tot sy skorsing oor te gaan, is reeds ’n geruime tyd aan die gang.

– Die Kabinet gaan aanstaande week die name van die skuldiges in die Caprivi-kosskandaal ontvang, waarna daar dan ingevolge die Staatsdienswet teen hulle opgetree sal word.

– Harry Simon se verdedigingspan gaan vandag vra dat hy vrygespreek word ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet wat bepaal dat aansoek om vryspraak van ’n beskuldigde gedoen kan word ná die staat sy saak afgehandel het.



DONDERDAG 4 AUGUSTUS 2005

– Die Hoërhof het die voorlopige likwidateur van Avid Investments Corporation en Namangol Investments gister wydlopige magte gegee om ’n omvattende forensiese ondersoek na dié dramatiese bankrotskapsage te loods.

– Harry Simon sal nie in sy eie verdediging getuig nie.

– Munisipale amptenare dwarsoor Namibië gaan gesubsidieerde water en elektrisiteit as ’n voordeel verloor met plaaslike owerhede wat hul rieme as deel van ’n grootskaalse besparingsveldtog dunner moet sny.



VRYDAG 5 AUGUSTUS 2005

– Die grootste bedrog- en korrupsieskandaal nóg in Namibië se geskiedenis is in Oshakati oopgevlek.

– Die flink optrede van twee werknemers van Telecom Namibia het Maandagnag ’n rampspoedige situasie vir dié maatskappy voorkom toe ’n brand in die hartjie van die telefoonsentrale van Grootfontein uitgebreek het.

– Agentskappe wat namens individue by die Ministerie van Binnelandse Sake aansoek doen vir nasionale dokumente se dae is getel.

Kommentaar

Republikein 2025-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer